Grace Mugabe-saak: Slagoffer glo geld aangebied

Van links is Debbie en Gabriella Engels, Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, Katy van der Merwe, operasionele bestuurder van die AfriForum-trauma-eenheid en Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger. Foto: AfriForum

Gabriella Engels (20), die model van Johannesburg wat beweer dat sy Sondag deur die Zimbabwiese presidentsvrou Grace Mugabe aangerand is, is glo geld aangebied om die saak te skik.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, het Donderdagmiddag tydens ʼn mediakonferensie in Centurion gesê die Engels-gesin is deur “ʼn derde party” genader wat hulle geld aangebied het. Volgens Nel is daar geen bedrag genoem nie en is Engels ook nie gedreig nie.

Gabriella en haar ma, Debbie, sowel as Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, en Katy van der Merwe, operasionele bestuurder van die AfriForum-trauma-eenheid, was ook by die konferensie teenwoordig.

Daar is tydens die konferensie uiteengesit hoe AfriForum Engels en haar gesin sal bystaan in hul soeke na geregtigheid. Volgens Kriel het AfriForum besluit om Engels by te staan omdat sy ʼn rolmodel vir baie Suid-Afrikaners is. “Baie mense is bang om te baklei vir geregtigheid wanneer die oortreder iemand in ʼn magtige posisie is. Nie enigiemand sou bereid wees om in so ʼn situasie standpunt in te neem nie, maar Gabriella was bereid om dit te doen. En daarom is dit vir ons ʼn eer om haar by te staan,” het Kriel gesê.

Nel het gesê AfriForum sal die vordering van die saak monitor en seker maak dat die nodige en korrekte vervolgingstappe gedoen word. “Almal is gelyk voor die gereg en daar kan nie selektiewe vervolging wees nie. Ons sal dophou of die staat wel besluit om hierdie saak te vervolg en indien nie, sal ons private vervolging oorweeg,” het hy gesê.

Hy het later bygevoeg Engels is vanoggend [Donderdag] deur die ondersoekbeampte in die saak gebel wat aan haar gesê het die polisie gaan binnekort ʼn lasbrief vir Mugabe se inhegtenisneming uitreik.

Maroela Media het vroeër berig Engels beweer Mugabe het haar die afgelope naweek in ʼn hotel in Sandton aangerand nadat sy Engels in die geselskap van haar twee seuns aangetref het. Nadat Engels ʼn saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak het, het Mugabe haar egter op diplomatieke immuniteit beroep en geweier om ʼn waarskuwingsverklaring af te lê.

Die Zimbabwiese regering is tans in gesprek met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) om te bepaal of diplomatieke immuniteit aan Mugabe toegestaan sal word of nie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid. Skermskoot: AfriForum

Diplomatieke immuniteit

Spies het gesê AfriForum het vroeër vandag ʼn brief aan Dirco gestuur waarin die organisasie sy kommer en mening uitspreek oor Mugabe se aandrang op diplomatieke immuniteit. Volgens Spies word die betrokke wetlike raamwerk ten opsigte van diplomatieke immuniteit in die brief uiteengesit.

“Volgens wet kan diplomatieke immuniteit nie gebruik word om vervolging van ernstige misdade vry te spring nie. Ons wet definieer ernstige misdade as enige misdaad waarvoor, indien ʼn beskuldigde skuldig bevind word, daar ʼn vonnis van vyf jaar tronkstraf of meer opgelê kan word,” het hy verduidelik.

“As ons kyk na die feite blyk dit dat hierdie voorval ʼn prima facie-saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer is. Dit is dus ʼn ernstige misdaad binne die definisie van die wet. Ons is van mening dat daar ʼn duidelik saak gemaak kan word dat Dirco nie in die posisie is om in hierdie omstandighede diplomatieke immuniteit aan die Zimbabwiese presidentsvrou toe te staan nie.”

Spies het gesê AfriForum wag vir Dirco se besluit oor die kwessie voordat hy op verdere stappe sal besluit.

Hy het gesê te midde van onbevestigde bespiegeling dat Mugabe gaan probeer of reeds probeer het om die land te verlaat, sal AfriForum dit oorweeg om ʼn dringende hofaansoek in te dien om te verhoed dat sy toestemming gegun word om Suid-Afrika te verlaat.

Debbie Engels. Skermskoot: AfriForum

Van der Merwe het op haar beurt gesê die AfriForum-trauma-eenheid sal Engels en haar gesin met berading bystaan, asook vir Engels help met voorbereiding vir hofverrigtinge, indien nodig.

Engels se ma, Debbie, het AfriForum bedank vir die hulp wat hulle aan haar en haar dogter verleen. “Ek is so dankbaar vir al die hulp wat julle aan ons gee. Nou kan ek effens rustiger slaap in die wete dat daar iemand aan ons kant is wat my gaan help om te veg vir geregtigheid vir my dogter. Hierdie vrou gaan nie skotvry wegstap ná wat sy aan my dogter gedoen het nie,” het sy gesê.

Kriel het in antwoord op ʼn vraag van ʼn joernalis gesê bewerings dat Engels ʼn dwelmmuil is of in ʼn verhouding met een van die Mugabe-broers is, is verregaande en maak hom kwaad. “Sy is die slagoffer hier en moenie as ʼn oortreder gesien word nie. Sy is ʼn onskuldige vrou wat die broers net geken het en wat deur iemand aangerand is wat dink sy is onaantasbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

Eish ·

Dit n wonderlik dat Afriforum by die aangeleentheid betrokke raak, veral in die lig van die hooggeplaaste wat betrokke is. Dit moet verseker die spanning in die Engels huishouding verlig. Ons vertrou dat reg en geregtigheid sal geskied.

Cherokee ·

Dit is nie slegs die Engels huishouding wat verlig is daaroor nie, die Afrikaans huishouding is in hul noppies!!!

Adam ·

Ek is bevrees dat hierdie “ingryping” deur Afriforum stink na opportunisme. Gerrie Nel kan gerus sy aandag vestig op iets wat meer vir die betalende lede van Afriforum beteken. Daar is geen rede om in ‘n sotte-bakleiery betrokke te raak nie, tensy daar natuurlik ‘n onversadigbare dors na publisiteit is, iets wat Grace Mugabe se manewales sal genereer.

Daan Erasmus ·

Mooi. Ek steun Afriforum hier 100%. Dit is ‘n puik voorbeeld van hoe dinge GEDOEN moet word. Ek het baie respek vir DOEN vir praat sonder doen het ek nie tyd nie. Vra vir geld. Ons sal bydra.

Wonder ·

Ek wonder maar net hoeveel ander sake van aanranding is in Zimbabwe van haar wat ons nie van weet nie…

piper ·

ek het n aftrekorder wat maandeliks geld bydra aan afriforum. ens moet meer mense kry om ook afriforum geldelik steun. op die lang termyn is dit n goeie belegging.

Henry ·

Inderdaad piper!!!
Uitstekende belegging, al is dit hoe gering.
Die stryd teen ‘n regime wat geen respek vir minderheidsregte het nie, word by die dag feller.

Schalk van der Merwe ·

Goeie werk, nou sal ons sien watse haas die regering uit die hoed gaan trek

Ellisras ·

My liewe Tannie Grace. Oom Jacob het seker vir jou gesê: kom ons ignoreer die Grondwet. Moet jou nie oor Shaun the Sheep bekommer nie. Ek sê nou vir jou: Pasop vir Afriforum. Pasop

dpj ·

Mooi so Afriforum maar dra die Engels huishouding ook maadeliks by tot julle fonds ??
Ķry die lede ook dieselfde voordele ?

johnny_walker ·

nee onder ander omstandighede sou afriforum dit van die hand wys , hulle doen dit maar net want dit bring vir hulle publisiteit , so ja as dit nie mugabe en engels was nie , sou hulle nie die saak gevat het nie

buo ·

@ Adam stem saam, dink daar is meer belangrike sake wat aandag verg. Wat sal gebeur as die engels familie meer geld aangebied word? Glo my, Afriforum, jul gaan op jul neus kyk, jul mors tyd en geld. Veg maar eers vir die mense wat jul lede is, ek dink ons lede verdien dit meer.

Ouman ·

Grace moes al lankal ‘n draai agter tralies gemaak hetben ou Robert kan sommer daam met haar sit. Ek sukkel om die mentaliteit van afrika se mense te verstaan want diktators word toegelaat om te maak soos hulle wil.

Chilli ·

Dankie afriforum en dankie Gerrie julle rock!! Sterkte Gabriella en Debbie ons staan by julle!

Pieter ·

Adam, Johan en Buo, julle argumente stink van negatiwiteit, pessimisme en gebrek om op te staan vir dit wat reg is! Afriforum het nie mense soos julle nodig nie en staan mense by in verdienstelike gevalle, soos hier ter sprake. Dis uiters ongevraag en onbillik om te suggireer
dat lede nie hulp kry nie… Trots op julle, Afriforum en Gerrie Nel – ons is almal moeg vir mense wat dink hulle bo die wet verhewe – dis allesbehalwe geldmors!

Adam ·

Pieter, ek probeer om nooit toe te laat dat emosie my oordeel aantas nie. Die feit dat Grace Me Engels na bewering aangerand het, beteken dat die Staat dominus litis is, soos in strafregtelike verrigtinge die geval is. Gerrie Nel kan nie ‘n privaat vervolging instel alvorens die Staat nie ‘n sertifikaat nolle prosequi uitgereik het nie en dit is ook die rede hoekom talle persone op hierdie forum gereeld vra, “waar is Gerrie”. Hoe dit ook al sy, Me Engels is nie die deel van die Afriforum “teikenmark” nie, ongeag wat hulle graag wil sien ons moet glo. Terloops, ek is nie ‘n Afriforum lid nie en sal ook nooit een wees nie, maar dit beteken nie dat ek nie hulle uiters goeie werk steun nie en daarvan is daar talle voorbeelde. Was dit nie vir Grace se internasionale profiel nie, sou Afriforum met alle respek nie betrokke geword het nie. Daar is baie braak grond wat die belange van Afriforum se “teikenmark” aanbetref waarby Gerrie Nel betrokke kan raak en die jaag agter ‘n bewese sot wat iemand met ‘n elektriese koord aanrand, is nie een daarvan nie.

Johan ·

Ek is meer bekommerd oor die bejaarde boer en sy vrou wat erg gemartel is.

Mike de Beer ·

Gaan ons nie net Grace se vliegtuig se uitlaatrokie sien soos met Al Bashir se geval nie? Hy was immers aangekla van volksmoord?

leon pit ·

Hoop nie sy word in Zim $ betaal nie want dan het sy n interlink nodig.

Stiena ·

Piper, jy bedoel beslis seker debietorder. Afriforum aanvaar ni aftrekorders nie.

jaco ·

As afriforum nou dié saak wen, dan is daar steeds elke dag ‘n plaasaanval en elke dag duisende wit mense wat weens regstellende aksie nie werk kry nie NET omdat hulle die “verkeerde” velkleur het.

Realis. ·

Mense, mense…………….hier gaan net mooi niks van kom nie, ek belowe julle !!

Hes ·

Ek en my man dra by tot Afriforum. Het hulle twee keer genader vir advies en is weggewys. Hulle doen goeie werk maar ons het verlede week besluit om ons bydrae te staak. ‘

Cas ·

“Vir Volke en Vaderland !”. “Laat integriteit seevier!!”. Dit is moontlik die draaipunt. Sterkte!

Magda ·

Dit n wonderlik dat Afriforum by die hierdie aangeleentheid betrokke raak, veral in die lig van die hooggeplaaste wat betrokke is. Los vir Gerrie Nel uit, hy is ‘n wonderlike man wat opstaan vir ons blankes. Die “Lady” gaan seker weer skotvry kom van die daad . Die “Agbare Dame” moet ‘n les geleer word maar met invloed kan ons verwag wat gaan gebeur. NIKS!

Sê maar net! ·

Neh!! SO AFRIFORUM!!! My maandelikse bydrae is goed genoeg vir hierdie saak….MAAR toe ek twee maande terug Afriforum skakel en hulp vra met ‘n onderwyser (was my kind se Wisk onderwyser (wat hom gedreig het “as jy praat druip jy wiskunde” (toe 13 jaar oud) waarteen daar 2 jaar terug ‘n sexual grooming saak geopen is (die “man” was nog nie eers gearesteer nie) en die SAP doen NIKS, TOE word daar baie polite vir my gesê, jammer Mevrou ons kan jou nie help nie! VIVA AFRIFORUM!!!! Julle is maar net soos al die ander instansies! Vinkel en Koljander die een soos die ander! Gerrie as jy dalk hier lees. Hoop JY slaap lekker vanaand. Jammer mense maar ek is baie verbitterd!

Moegvirmomamondienendevolkveraaiers ·

En waar is julle as daar boere vermoor word,gemartel word,gebrand word met kookwater,verkrag word ,met doringdraad wasgemaak word,met grawe en ysters dood geslaan word? Waar is julle dan he?! Waar is die geregtigheid dan Gerrie/Kallie?

News ·

Genade julle wat dink Gerrie hanteer net hierdie storie, gaan lees bietjie News 24 ook hy is besig met Mnr Zuma en die Guptas ook.

Blits ·

Al julle klomp wat so kla oor afriforum die mense help om geregtigheid te kry, ruk julle self reg asb, sien die groter prentjie en hou op met tonnelvisie.

Ek gaan vandag teken om Afriforum te ondersteun.

Gerrie moet jou nie steer aan die klomp bitter pille nie, vat die klomp korrupte skelms vas. ongelukkig is dit patykeer beter om die vuur van bo dood te maak om n daadwerklike reaksie na onder te kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.