Graderingsagentskap het goeie nuus vir Eskom

(Foto: AFP PHOTO/GIANLUIGI GUERCIA)

Skaars ’n maand nadat die nasionale tesourie skuldverligtingsmaatreëls vir Eskom aangekondig het, het die graderingsagentskap S&P Global nou die sukkelende kragverskaffer se kredietmonitering op positief geplaas.

Dit beteken Eskom se kredietgradering kan vorentoe met een of meer kerwe verhoog word. Die maatskappy se buitelandse en plaaslike langtermynskuld is tans op ʼn CCC+-gradering bevestig.

Calib Cassim, tussentydse uitvoerende hoof van Eskom, sê die aankondiging is tekenend van die positiewe impak wat die skuldverligting op Eskom se finansiële posisie en algehele likiditeit het.

Dit sal ook hopelik leners en krediteure se vrese oor Eskom se finansiële stabiliteit ietwat besweer.

Cassim sê die potensiële opgradering sal na verwagting plaasvind sodra die parlement die skuldverligtingswetsontwerp goedgekeur en onderteken het en die tesourie die finale bepalings en voorwaardes van die skuldverligting verskaf.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het verlede maand in sy begroting die reusebedrag van R254 miljard aan Eskom toegewys om die las op die reeds sukkelende kragvoorsiener se balansstaat te verminder en Eskom toe te laat om instandhoudingswerk te doen om die beskikbaarheid van krag te verhoog.

Maroela Media het vroeër berig die skuldverligting sal in twee dele gedoen word: ʼn aanvanklike R184 miljard vir die volle skuldvereffening (in drie betalings) op mediumtermyn. Die tweede is die regstreekse oorname van tot R70 miljard van Eskom se leningsportefeulje in 2025-’26.

Dit sal danksy die skuldverligting ook nie vir Eskom nodig wees om in hierdie tydperk nog geld te leen nie.

Dit plaas ook kapitaal in Eskom se sak om die energiebeskikbaarheid van sy vloot kragstasies te herstel en te belê in die versterking en uitbreiding van die netwerke, het Cassim in reaksie op S&P Global se nuus gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johanna ·

Ñuwe karre en oorsee SE vakansie vir hele familie. Soustrein Gaan weer loop

Waarom ·

En wie moet ons bedank vir Eskom se balansstaat wat verbeter het van die vorige jare veral die afbetaling van die lenings. Ja dit is André de Ruyter.

Pampoen ·

Ons belastinggeld word gebruik om verligting te bied van die paaimente wat Eskom moet betaal. Dan word hulle skuld gradering beter en dan leen hulle meer geld en dan sukkel hulle om dit af te betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.