Graderingsagentskap sê oor Eskom

Calib Cassim, Eskom se finansiële hoof. Foto: Armand Hough/ANA

Terwyl beleggers steeds asem ophou om te sien wat met Suid-Afrika se kredietgradering gebeur ná die jongste begrotingsrede net meer as ʼn week gelede, het die graderingsagentskap Standard & Poor’s Vrydag goeie nuus gebring toe hy sy vooruitsig vir Eskom van negatief tot stabiel verbeter het, en sy kredietgradering op die huidige vlakke bevestig het.

Die agentskap het in ʼn verklaring Eskom se buitelandse en plaaslike langtermynskuld op ʼn CCC+-gradering en sy langtermyn- en korttermyn- nasionale skaalgradering op zaB bevestig.

Dié besluit volg op minister Tito Mboweni se aankondiging tydens sy begrotingsrede dat die regering ʼn voorlopige ondersteuningspakket van R69 miljard oor ʼn tydperk van drie jaar aan Eskom sal toestaan. Die reddingsboei sal na verwagting die kragvoorsiener help om sy skuldverpligtinge na te kom.

Calib Cassim, Eskom se finansiële hoof, het gesê Eskom het tot dusver 95% van die R72 miljardfinansiering vasgemaak vir die boekjaar wat vandeesmaand tot ʼn einde kom, asook 35% van die R48 miljard finansiering wat hy vir die 2019/’20-boekjaar benodig. Volgens Cassim is die maatskappy “versigtig optimisties” dat hy in staat sal wees om die volle finansiering vir hierdie jaar te bekom danksy die verbeterde marksentiment oor Eskom.

“Ons is bemoedig deur die graderingsagentskap se positiewe hersiening van Eskom se vooruitsig en die bevestiging van die kredietgraderings. Ons sien hierdie besluit as ʼn positiewe bevestiging van ons pogings om Eskom se likiditeitsposisie te verbeter. Die effens verbeterde likiditeit gee aan ons die nodige buigbaarheid om voort te gaan om te fokus op die finansiering wat benodig word vir 2019/’20 en om Eskom se sekuriteit van voorraad te stabiliseer.”

Op 29 Maart sal Moody’s Investor Service, wat tans die land nog op beleggingsvlak gradeer, sy beslissing oor die land se gradering gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Werner ·

Hulle is seker ook omgekoop kan nie sien dat enige regdenkende belegger hulle as stabiel kan klasifiseer nie

Judge Dredd ·

Die regering se “bail-outs” mag Eskom miskien TYDELIK meer stabiel maak, maar dit dompel SA in nog meer skuld en ‘n moontlikheid dat ook Moodys, SA afgradeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.