Grafika: Ál meer steun op toelae

Byna ʼn kwart van alle Suid-Afrikaanse huishoudings maak op ʼn maatskaplike toelaag staat as hul hoofbron van inkomste. (Foto: Unsplash)

Die meeste van Suid-Afrika se Covid-19-regulasies is opgehef, maar die uitwerking van die pandemie op die land – en veral kinders – gaan nog lank gevoel word.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het pas die uitslag van sy maatskaplike en huishoudelike diensleweringsopname bekend gemaak en daarin word bevind dat Covid-19 die aard van veral reëlings oor kinderversorging ingrypend verander het.

Die persentasie kinders tussen nul en vier jaar oud wat tuis saam met ʼn ouer, voog, volwassene of ander kind bly, het van 57,8% in 2019 tot 64,6% verlede jaar toegeneem.

In dieselfde tydperk het die persentasie kinders wat gr. R doen, of ʼn ander kleuterskool, crèche of kindersorgsentrum bywoon, van 36,8% in 2019 tot 28,5% in 2021 gedaal.

Covid-19 het ook ʼn verwoestende uitwerking op skoolbywoning gehad. Die persentasie vyfjariges wat in 2021 nie ʼn opvoedkundige sentrum bygewoon het nie, staan nou op 19,4%. Dit is ʼn beduidende toename van die 10,9% van vyfjariges wat in 2019 nie so ʼn sentrum bygewoon het nie. In 2020 het die syfer op 37,7% gestaan.

Hoewel skoolinskrywing steeds betreklik hoog is, dui data op ʼn effens hoër persentasie ouer kinders wat in vergelyking met 2019 se syfers nie skool bywoon nie.

StatsSA het bevind daar was wel ʼn daling onder diegene ouer as 20 jaar wat geen opleiding het nie. Dit het van 11,4% in 2002 tot 3,2% verlede jaar gedaal. Diegene met minstens ʼn gr. 12-kwalifikasie het in dieselfde tydperk van 30,5% tot 35,8% toegeneem.

Inkomstebron

Maatskaplike toelae bly steeds ʼn belangrike vangnet vir miljoene Suid-Afrikaners, veral in die armste provinsies. StatsSA sê die spesiale Covid-19-toelaag wat in 2020 uitbetaal is, het ʼn sentrale rol gespeel om enkelinge en huishoudings teen ʼn verlies aan inkomste te beskerm.

Naas ʼn salaris (59,4%) was ʼn toelaag die belangrikste bron van inkomste vir huishoudings (51%), terwyl dit amper ʼn kwart van huishoudings landwyd se hoofbron van inkomste was.

In die Vrystaat ontvang meer mense (60%) toelae as wat hulle salarisse (53,2%) ontvang, terwyl ʼn soortgelyke patroon ook in die Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga gevolg word.

ProvinsieOntvang ʼn toelaagOntvang ʼn salaris
Vrystaat60%53,2%
Oos-Kaap63,7%46,2%
Limpopo65,7%49,7%
Mpumalanga66,2%50,9%

 

Omdat so baie mense vir die R350-toelaag aangemeld het, het die persentasie mense wat toegang tot ʼn toelaag het, toegeneem tot 35,7% in 2021, terwyl die persentasie huishoudings wat minstens een toelaag ontvang, verlede jaar tot 50,6% gestyg het. Nasionaal het 5,8% van alle mense verlede jaar spesiale Covid-19-toelae ontvang, met mense in metrogebiede wat veel groter toegang (25,2%) daartoe gehad het.

Water, krag, sanitasie, vullisverwydering

(Argieffoto: Stad Kaapstad)

Daar was ook vordering op die gebied van watervoorsiening. Die persentasie huishoudings met toegang tot ʼn verbeterde waterbron het tussen 2002 en 2021 van 84,4% tot 88,7% toegeneem.

Die grootste vordering was in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Verskeie provinsies het egter agteruit geboer. Toegang tot water het in ses provinsies afgeneem, hoewel meer huishoudings in 2021 toegang tot lopende water gehad het as twee dekades gelede.

Toegang tot sanitasie het ook verbeter en teen verlede jaar het 84,1% van huishoudings toegang tot verbeterde sanitasiegeriewe gehad. Die syfer het in 2002 op 61,7% gestaan.

Die grootste verbetering was in die Oos-Kaap (58,3% tot 91,7%), gevolg deur Limpopo (31,6% tot 58,5%).

Die installering van puttoilette met ventilasiepype het ʼn beduidende rol in die verbetering gespeel, hoewel verskeie redes – waaronder ʼn toename in huishoudings en verstedeliking, asook ʼn voorkeur vir spoeltoilette – ʼn rol in die stadige vordering gespeel het.

StatsSA sê die skaarsheid van water, asook gereelde wateronderbrekings in talle dele van die land, kan ook lei tot alternatiewe bronne van sanitasie.

Teen verlede jaar was 89,3% van huishoudings aan die kragnetwerk gekoppel (2002: 76,7%), terwyl daar in dieselfde tydperk ʼn afname in die gebruik van hout en paraffien was.

Die algemene gebruik van hout en houtskool vir kookdoeleindes in landelike provinsies soos Limpopo en Mpumalanga, dui daarop dat dié hulpbronne steeds baie toeganklik is – en waarskynlik goedkoper is as om elektrisiteit te gebruik.

Meer as ʼn vyfde van huishoudings het verlede jaar steeds nie elektrisiteit gebruik om te kook nie.

Altesame 62,9% van huishoudings se vullis is in 2021 weekliks, of minder gereeld, verwyder. Vullisverwydering is ook veel meer algemeen in stedelike as landelike gebiede (85,4% teenoor 11,8%), terwyl 86,3% van huishoudings in metropolitaanse gebiede toegang tot hierdie dienste het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wondermaarnet ·

My dogter het ‘n huis gekoop, is in ‘n verhouding, maar bly alleen en dra alle kostes self. Daar hoef nie ‘n klomp mense te wees in ‘n huishouding nie.

Hennie ·

Hierdie is ANC propaganda! Jy kan nie een van hierdie korrupte statistieke glo nie!

Lood ·

Doen jouself ‘n guns. Gaan kyk bv. wanneer die ongeskiktheidstoelaes uitbetaal word. Kyk mooi na almal in die ry en jy sal baie moeilik een kry wat lyk asof hy/sy nie kan werk nie. Die stelsel is besig om die land net verder dood te bloei.

ENFM ·

Is “elektrisiteit gebruik om te kook” “n goeie maatstaf om LSM te bepaal, in ‘n land waar elektrisiteit so onbetroubaar is dat mense eerder braai of gas gebruik?

Pietertjie ·

Nou wat anders het die ANC verwag? Erger nog, die toelae sal nooit gestop kan word sonder ernstige opstande en vernietiging nie, inteendeel dit sal aanhoudend verhoog en uitgebrei moet word om die massas te sus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.