Grafika: Veels te min kinders in karstoeltjies, gordels

(Argieffoto)

Navorsing wys die gebruik van stremstelsels vir kinders – oftewel motorstoeltjies – in voertuie word al hoe meer gebruik, maar daar is steeds kommer dat ʼn derde van alle kinders in Suid-Afrika steeds op geen manier in ʼn voertuig vasgegordel word nie.

Die beperkte gebruik van dié stelsels word in Suid-Afrika met bekostigbaarheid verbind, terwyl talle motoriste ook glo dat ʼn veiligheidsgordel ʼn werkbare alternatief is om kinders mee vas te gordel.

Luidens nuwe navorsing van die Automobiel-Assosiasie (AA) oor die gebruik van stremstelsels vir kinders is meer as ʼn tiende van alle slagoffers wat in motorongelukke sterf jonger as 15.

In 2020 was 30% van alle padsterftes passasiers. Hiervan was 4% van die slagoffers kinders tussen nul en vier jaar oud, 4% was tussen vyf en nege jaar oud en 5% was tussen tien en 14 jaar oud.

Ouderdomsgroep20162017201820192020
0-44,6% (647)3,8% (534)5,1% (659)6% (750)4% (399)
5-93,4% (478)3,2% (450)3,8% (491)4% (500)4% (399)
10-143,1% (436)3,1% (435)3,3% (426)4% (500)5% (499)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beskryf die drie “botsings” wat plaasvind in ʼn motorongeluk waar ʼn passasier nie vasgegordel is nie. Die eerste botsing is die botsing tussen die voertuig en die ander voorwerp. Die tweede botsing is die een tussen die passasier en die binnekant van die voertuig, terwyl die derde botsing dié van die organe in die liggaam met die bors of skelet is.

Die tweede botsing veroorsaak gewoonlik die meeste beserings, maar dit kan beduidend verminder word as passasiers sitplekgordels dra of in ʼn kinderstoeltjie vasgegordel is.

Ten spyte van pogings om die gebruik van motorstoele vir kinders te bevorder, is daar steeds ʼn kommerwekkende getal padsterftes onder kinders.

Die AA se navorsing het bevind van die duisend kinders wat in voertuie dopgehou is, was 63% vasgegordel. Uit dié persentasie was die meeste (60%) egter net met ʼn veiligheidsgordel vasgemaak, terwyl dit ingevolge wetgewing nie as ʼn stremstelsel vir kinders beskou word nie.

Dus was kinders in net sowat ʼn kwart van gevalle ingevolge wetgewing korrek vasgegordel.

Bevindings van die navorsing:

  • 57% van kinders in ʼn karstoeltjie was tussen vyf en 12 jaar oud.
  • Veiligheidsgordels is in die meeste gevalle (60%) gebruik, gevolg deur kinderstoele (26%), babastoele (10%) en versterkingstoele (“booster seats”) (4%).
  • 31% van kinders het op die voorste passasiersitplek gesit.
  • In 55% van gevalle waar kinders vasgegordel was, was die bestuurders vroue.
  • Altesame 51% van kleuters (tussen een en vier jaar oud) was glad nie vasgegordel nie, 46% van kinders tussen vyf en 12 was nie vasgegordel nie 3% van babas was nie vasgegordel nie.
  • 20% van kinders wat nie vasgegordel was nie, het op die voorste passasiersitplek gesit.
  • Van kinders wat nie vasgegordel was nie, het 49% rustig in hul stoele gesit; altesame 30% van dié kinders het op die agtersitplek rondgespring en nog 10% het op ʼn volwassene se skoot gesit.
  • Die meeste bestuurders van motors waarin kinders nie vasgegordel was nie, was mans (60%) en 24% van hulle het self nie veiligheidsgordels gedra nie.

Die AA se navorsing lui dat hoewel die gebruik van ʼn veiligheidsgordel beter is as om ʼn kind op geen manier vas te gordel nie, is dit nie doeltreffend genoeg om padsterftes onder kinders te verminder nie.

Doelgemaakte stelsels verminder beserings onder kinders tussen vyf en nege jaar oud met 52%, terwyl veiligheidsgordels beserings met 19% verminder.

Volgens die AA se navorsing skort ouers moontlik die gebruik van beperkingstelsels op namate kinders ouers word, maar daar is nietemin uiters groot kommer oor die getal kleuters met wie dieselfde gedoen word. Daar is begrip vir enigiemand wat al probeer het om ʼn kleuter wat weier om ʼn karstoel te gebruik, vas te gordel. Die AA waarsku egter dat die gevolge dodelik kan wees.

“Ouers moet opgevoed word oor die gevaar van dié besluit, gegewe dat kleuters die hoogste persentasie van padsterftes, veral in Suid-Afrika, uitmaak,” sê die AA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Ons voertuig het gerol met ‘n ongeluk en ons gesin se lewens is verseker gered deur die dra van sitplekgordels. Ek ry nêrens sonder om vas te gordel nie.

Nommer 7 ·

My ondervinding is dat ouers die paaiement op hul voertuig belangriker ag as hul kinders se veiligheid. Ek neem aan hierdie berig is geskryf na aanleiding van ‘n onlangse tragiese geval.

Elizabeth ·

Waar in die wêreld is daar plek vir ñ karstoeltjie? Elke derde voertuig is reeds oorlaai. Wat van taxis??

DieKriek ·

My bure se kleindogter was in n ongeluk waar haar 3 jarige, wat los in die motor was, in die pad beland het. Hulle is nie ernstig beseer nie en het vier miljoen rand by die POF gekry. So word agterlosigheid beloon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.