Grafte beskadig toe munisipaliteit begraafplaas ‘beveilig’

Van die grafte is met ʼn stootskraper beskadig en ander is onder ʼn hoop sand toegegooi. (Foto: Verskaf / VF Plus)

Die Vryheidsfront Plus het Woensdag aangedring dat die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit in die Oos-Kaap grafte in die Despatch-begraafplaas herstel.

Dít volg nadat talle grafte glo beskadig is toe die munisipaliteit ’n heining om dié begraafplaas opgerig het – juis om veiligheid op te skerp en die vandalisering van grafte te verhoed.

Dié heining is 4 km lank en het die munisipaliteit R6 miljoen gekos, sê  Piet Mey, VF Plus-LP en provinsiale leier in die Oos-Kaap.

Volgens Mey het die VF Plus talle klagtes uit die gemeenskap ontvang dat munispale werkers grafte en grafstene glo in die proses met ’n stootskraper platgestoot en beskadig het. Van die grafte is toe onder ʼn hoop grond en inwoners sukkel om hul geliefdes se grafte op te spoor.

“Tydens ons besoek aan die begraafplaas was daar inwoners wat tussen grafte rondgedwaal het, opsoek na hul geliefdes se laaste rusplek. Anders inwoners het probeer om grafte te herstel en ruikers het eenkant op ’n hoop gelê.

“Sommige grafte is skaars onder die grondwalle sigbaar en daar is duidelike tekens dat daar oor verskeie grafte gery is,” sê Mey.

Dié soort gedrag, sê Mey, is heeltemal onaanvaarbaar aangesien die waardigheid van inwoners en hul oorlede geliefdes gerespekteer moet word.

Brig. Hannes Slabbert, ’n inwoner, het aan Maroela Media gesê dat hy “diep geskok” is oor die huidige situasie by die begraafplaas.

“Ek sê altyd ’n begraafplaas is deel van ’n dorp se geskiedenis. Net so is dié begraafplaas deel van Despatch se geskiedenis.

“Mense weet nie eers waar hulle geliefdes begrawe is nie en dis ’n skande dat mense wat in die laaste paar maande oorlede is se liggame so vertap word.”

Van die grafte is met ʼn stootskraper beskadig en ander is onder ʼn hoop sand toegegooi. (Foto: Verskaf / VF Plus)

Verskeie inwoners het ook op die Facebook-groep, Inwoners van Despatch, hieroor uitgevaar.

“Hoekom lyk dit so by die begraafplaas? Kan nie eers blomme op grafte sit nie, als is weggegooi … het niemand dan meer respek nie?” skryf ene Tracy Elliot op dié groep.

Sy het ook ’n foto gedeel waar die platgeskraapte grond en enkele grafstene sigbaar is.

“Was gister by my seun se graf, ons het skoongemaak, maar die vullisdromme daar is oorvol en vuil,” skryf Melvin Maritz.

Volgens Mey grens die optrede deur die munisipaliteit en sy amptenare aan grafskending.

“Ingevolge die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne is grafskending en selfs die verwydering van blomversierings, aangeplante bome, ystertralies of sierhekke ’n misdaad.

“Die VF Plus dring aan dat die metro teen die betrokke amptenare en afdelingshoofde optree en van begrote R40 miljoen vir die omheining van begraafplase gebruik om die beskadigde grafte te herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pierre

Die begrafplaas benodig beskerming van die beskermers.

Menan

Dis verskriklik !!!!!! Goeie genade????

Elize

Is deaar iets wat hulle kan of wil regdoen?

Misky

Dis absoluut skokkend en skandelik!!! En dan boonop 4km heining teen 6 miljoen….. daai maatskappy kan mos die koste dra van herstel en wie was die toesighouer ten tye van die werk?

Kokerboom

Gevoellose ANC boewe