Graham Weir sterf

Graham Weir in die Baxter-teater. (Foto: Fahiem Stellenboom/Facebook)

Die Suid-Afrikaanse akteur Graham Weir is Dinsdag onverwags oorlede nadat hy vermoedelik ʼn beroerte gehad het.

Sy suster, Christine Weir, het sy afsterwe op Facebook bevestig en gesê haar broer is in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad oorlede.

“Die hospitaalpersoneel het ons ingelig dat hy in die vroeë oggendure vreedsaam gesterf het,” het sy geskryf.

Talle boodskappe van medelye van kollegas en vriende in die kunstebedryf het intussen op sosiale media ingestroom.

“Ek is jammer,” het Nicola Hanekom, aktrise en draaiboekskrywer, in ʼn Instagram-plasing geskryf. “Hoop jou sang word gehoor waar ook al jy nou is.”

Simoné Pretorius, die aktrise bekend as Jony in die Afrikaanse kykNET-komediereeks Hotel, het ʼn greep uit dié reeks gedeel. Weir het as Oom Dirk teenoor Pretorius in Hotel verskyn.

Weir was vir bykans vier dekades ʼn toonaangewende figuur in die Suid-Afrikaanse kunstebedryf. Hy het onder meer die rol van Viking in die Spud-rolprente vertolk, asook die rol van Captain Naft in die internasionale reeks Black Sails. Hy is ook in die BBC-reeks Jamillah and Aladdin as Jafar te sien.

Graham Weir (middel agter) het saam met Simoné Pretorius, Mila Guy, Schalk Bezuidenhout, Sandi Schultz, Martelize Kolver en James Borthwick in ‘Hotel’ gespeel. (Foto: IMDb)

Hy was ʼn veelsydige teaterakteur en sanger en was in musiekblyspele soos Jesus Christ Superstar en Sweeney Todd te sien.

Hy is in 2009 met die gesogte Fleur de Cap-teaterprys vir sy rol in Not the Midnight Mass vereer. In 2016 het hy weer die Fleur de Cap-prys ingeoes vir beste solovertoning vir sy outobiografiese eenmanstuk Dead Yellow Sands.

Fahiem Stellenboom, bemarkingshoof van die Baxter-teater in Kaapstad, het Weir se dood as ʼn “groot verlies vir die kunste- en musiekbedryf” beskryf.

“Rus sag tussen die engele, liewe Graham, sing saam met hulle,” het hy geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.