Grahamstad-reisagent vas oor bedrog

Argieffoto (Foto: StockSnap/Pixabay)

Clinton Grant Gill (41) het in die Grahamstad-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn op aanklag van bedrog.

“Gill is in hegtenis geneem deur die Valke se eenheid wat ernstige handelsmisdaad ondersoek,’ het Lwando Zenzile, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), gesê.

Gill was ʼn toerisme- en verkopekonsultant by ʼn plaaslike reisagentskap. “Hy word daarvan beskuldig dat hy tussen November 2016 en Februarie 2017 meer as R797 000 onwettig van sy werkgewer geswendel het,” het Zenzile bygevoeg.

Die voormalige reisagent het glo ʼn omvattende skema van stapel gestuur om kontantbetalings, wat van kliënte ontvang is, te steel. Hy het na bewering seker gemaak dat die betaling nie op die rekenkundige stelsel van die twee entiteite verskyn nie. Kliënte het glo vir hul reisbesprekings betaal. Vervalste fakture, geskenkbewyse en reisplanne is uitgereik, maar die werklike kaartjies is nooit uitgereik nie.

“In sommige gevalle het die kliënte vir retoerkaartjies betaal, maar Gill het na bewering glo slegs enkelkaartjies vir hulle bespreek en die verskil in sy sak gesteek,” het Zenzile gesê.

Die hof het Gill vrygelaat op borgtog van R10 000 en die saak is tot 8 Oktober 2020 uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.