Grahamstad se munisipaliteit finaal onder administrasie

Makhanda in die Oos-Kaap. (Argieffoto: ANA)

Die hooggeregshof in Grahamstad het die Makana-munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl teen ʼn vroeëre beslissing om die plaaslike owerheid te laat ontbind Donderdag van die hand gewys.

Die munisipaliteit bedien Makhanda (voorheen Grahamstad) en omliggende gebiede.

Regter Igna Stretch het bevind daar is geen billike vooruitsig dat die aansoek gaan slaag nie.

Stretch het in Januarie vanjaar beslis die Makana-munisipaliteit kan nie administratief funksioneer of dienste lewer nie. Die raad moet dus ontbind en onder administrasie geplaas word.

Die munisipaliteit wou teen dié uitspraak appelleer.

Die DA sê die regter het weer benadruk wat in die hoofaansoek aangevoer is, naamlik dat die munisipaliteit “met pap op die gesig sit en sy kop in skaamte moet laat sak”.

Die DA se koukusleier in Makana, Brian Farger, het die uitspraak verwelkom en sê dit is hoog tyd dat die munisipaliteit terug in kiesers se hande geplaas word.

Hy het hulle het nou die LUR van samewerkende regering en tradisionele sake in die provinsie, Xolile Nqatha, gevra vir ʼn spesifieke tydlyn om die munisipaliteit in ooreenstemming met die oorspronklike uitspraak te laat ontbind.

“Die DA beoog om te vra vir ʼn nuwe verkiesing sodra dit veilig is ten einde te verseker die inwoners van Makana kry die vlak van dienslewering wat hulle verdien,” het Farger gesê.

“Die oorspronklike uitspraak baan die weg vir inwoners wat deur die regering versaak is en wat daagliks sukkel met swak tot geen dienslewering om hulle tot die howe vir hulp te wend.”

Die DA sê wanneer dienslewering ineenstort, geld die beginsel dat inwoners die hof kan vra om in te gryp.

Die party sê nog twee munisipaliteite in die Oos-Kaap – die Enoch Mgijima (Queenstown) – en die Sakhisizwe- plaaslike munisipaliteit (Elliot) – het reeds met die proses begin om die howe te vra om hul rade te laat ontbind.

Die DA sê hy gaan voort om te verseker die regering word aanspreeklik gehou wanneer hy mense in die steek laat en waar kaderontplooiing munisipaliteite op hul knieë dwing en mense van hul basiese grondwetlike regte ontneem.

News24 het in Januarie berig inwoners, sakeondernemings en sommige staatsdepartemente skuld die munisipaliteit meer as R500 miljoen, terwyl die raad se skuld in daardie stadium R200 miljoen was.

Burgemeester Mzukisi Mpahlwa het toe gesê ʼn munisipaliteit kan net dienste lewer met die geld wat hy beskikbaar het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Christa

Al’s waar die ANC VAT IS N TOTALE GEMORS
HIER GAAN NIKS OOR WEES KOMMUNISTE SE REGERING MAAR HUL EIE MENSE GAAN HUL UITMOOR

Jaco

Vreemd, ek het uit ANC propaganda afgelei dat net die rassistiese DA nie behoorlik dienste lewer nie. Daar was selfs al dreigemente om die Kaapse SA stadsraad onder (ANC) administrasie te plaas. So dis regtig vreemd. Hoe kan die ANC in Makhanda dan nie vir hulle eie mense sorg nie?

ElizeK

Is hier nog iets in SA wat hulle aan vat wat nie in bollies verander nie? Ek is so sat, want omtrent elke besluit wat hulle neem gaan draai nou in die hof.
Dan verwelkom Cyril nog DIE feit. Regtig!!!! Net asof dit n kompliment is en nie n klap in die gesig is oor hulle onbevoegdheid nie.
Ek is moeg. Lewensmoeg vir die absurde regering se doen en late.

Hennie

Nou gaan die lur n kader of twee/drie op die arme munisipaliteit loslaat as administrateur/s. Hierdie kaders is persone wat nie die mas kon opkom in plaaslike bestuur nie, maar iemand ken wat invloed het en hulle van sulke los werkies voorsien! Hulle sal melk wat hulle kan en sover hulle kan en niks verrig nie en oplaas sit die belastingbetaler nog steeds met die gebakte pere.

Willem

Dit kom nou van slim wees