Grasietydperk vir rybewyse nie weer hernu

Fikile Mbalula

Die grasietydperk om rybewyse te hernu sal nie verleng word nie ondanks ’n agterstand van meer as ’n halfmiljoen rybewyse.

Die grasietydperk geld vir motoriste wie se rybewyse tussen 26 Maart 2020 en 31 Augustus 2021 verval het en is ingestel weens die Covid-19-pandemie. Fikile Mbalula, minister van vervoer, het egter Maandag tydens ’n besoek aan die Akasia-toetssentrum in die noorde van Pretoria volgehou die sperdatum verstryk teen 31 Maart.

Volgens Mbalula is sy departement op koers om die agterstand uit te wis. “Teen 25 Februarie het ons 401 131 rybewyse vervaardig. Die agterstand, wat slegs van toepassing is op diegene wat hernuwingsaansoeke ingedien het, staan op 534 807.”

Die masjien wat motoriste se rybewyskaarte vervaardig, was vir lank in Duitsland om herstel te word nadat dit in November verlede jaar opgepak het.

’n Digitale stelsel vir die hernuwing van bestuurderslisensies is verlede maand bekendgestel. In die 16 dae sedert die aanlyn stelsel in werking gestel is, is altesaam 3 641 transaksies met ’n geldwaarde van R2 128 751 suksesvol verwerk, het Mbalula aangekondig.

Staking deur bestuurskole

Die Akasia-toetssentrum se deure was Maandag tydens Mbalula se besoek gesluit weens die voortslepende staking deur bestuurskole. ’n Groep mense het buite die gebou betoog terwyl Mbalula die media binne die gebou te woord gestaan het.

Mbalula het gesê alle toetssentrums moet Dinsdag operasioneel wees en dat hy met Bheki Cele, minister van polisie, in verbinding sal wees om te verseker dat wet en orde gehandhaaf word. Hy het gesê die betogers is gewelddadig en dat hulle wapens het.

Oor die bestuurskole se eise dat die aanlyn Natis-besprekingstelsel geskrap word, het Mbalula gesê dit gaan nie gebeur nie.

“Ons het met die bestuurskoolwerkers in gesprek getree oor hul bekommernisse en ons sal deur ’n georganiseerde proses aan hulle terugrapporteer. Hulle het eise en bekommernisse oor die aanlyn stelsel aangesien hulle minder klante het omdat mense kies om aanlyn dienste te gebruik.”

Oekraïne-twiet

“Ek gaan nie daaroor kommentaar lewer nie.” Dit was al wat Mbalula wou sê toe hy herhaaldelik uitgevra is oor sy twiet oor die naweek dat hy “pas in Oekraïne geland” het.

Die kriptiese twiet het geen besonderhede verskaf oor die redes waarom Mbalula hom in dié land, waar die Russiese oorlog al langer as ʼn week woed, sou bevind nie.

Mbalula het Maandag net herhaaldelik gesê hy gaan nie daaroor kommentaar lewer nie ondanks joernaliste se vrae oor hoekom hy die inskrywing gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jr

Hierdie ou is definitief n paar skroewe los. Totaal en heel al so deurmekaar en lyk soos kots in ‘n tuimeldroë

Hendrik

Hoe op dees aarde kan mens teen so ‘n radikale persoon baklei? Wat moet ons doen na 31 Maart, weer geld uithaal op ‘n tydelike bewys te kry!!! Nog geld in die koffers van die verwronge regering om geld te laat verdwyn.

Suzette

Nar!

Hendrik

Hoe op dees aarde kan mens teen so ‘n radikale persoon baklei? Wat moet ons doen na 31 Maart, weer geld uithaal op ‘n tydelike bewys te kry!!! Nog geld in die koffers van die verwronge regering om geld te laat verdwyn.

Grassie

Dit klink vir my die man se boonste verdieping begin raas.