Grasietydperk vir rybewyse weer verleng

(Argieffoto: Arrive Alive)

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het die spertyd vir die geldigheid van bestuurslisensies wat tussen 26 Maart verlede jaar en 31 Augustus verval, weer verleng.

Dit omdat amper die helfte van rybewyse wat verval nie, nog nie weer hernu is nie.

Dié rybewyse bly nou geldig tot 31 Maart aanstaande jaar en geld vir alle leerlinglisensies, rybewyse, tydelike rybewyse en professionele bestuurspermitte.

Volgens die departement van vervoer is 1,2 miljoen rybewyse uit 2,8 miljoen lisensies wat verval het nog nie hernu nie.

Mbalula het Vrydag gesê vorige verlengings was veronderstel om tot ʼn ordelike uitwissing van die agterstande te lei.

Duisende mense het die afgelope paar maande egter ʼn haas onmoontlike stryd gevoer om hul rybewyse betyds te laat hernu. Lisensiekantore wat net beperkte ure sake doen of op kort kennisgewing gesluit word, ʼn gebrek aan beskikbare tydgleuwe en korrupsie was sommige van die uitdagings wat die hernuwingsproses vir talle mense in ʼn nagmerrie verander het.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, tydens Vrydag se aankondiging. (Foto: Dept. van vervoer)

Die minister sê Gauteng het die grootste getal rybewyse wat nog nie hernu is nie. Sowat 42% van lisensies wat in hierdie provinsie verval het, ofte wel sowat 437 819 lisensies, is nog nie hernu nie.

Altesame 195 200 (43%) lisensies in KwaZulu-Natal moet nog hernu word, 153 901 (36%) in die Wes-Kaap, 110 389 (46%) in Limpopo, 98 067 (42%) in Mpumalanga, 87 291 (45%) in die Oos-Kaap, 53 593 (40%) in die Vrystaat, 55 128 (40%) in Noordwes en 19 577 (37%) in die Noord-Kaap.

“Ons bly bekommerd oor die groot agterstande omdat dit ʼn negatiewe uitwerking op wetstoepassing het. Ons is egter meer bekommerd oor die redes vir die stand van sake,” sê Mbalula.

Probleme sluit in ʼn gebrek aan kapasiteit wat groot druk op toetssentrums plaas, korrupsie deur amptenare wat tydgleuwe verkoop, die stadige eNatis-stelsel, stukkende datavasleggingstoerusting wat tot lang toue lei, toerusting vir oogtoetse wat nie werk nie en vertragings met die nagaan van vingerafdrukke omdat die stelsel nie regstreeks aan dié van die departement van binnelandse sake gekoppel is nie.

Mbalula sê in ʼn poging om motoriste ʼn billike kans te gee om hul rybewyse te hernu, is die grasietydperk verleng. Hy het egter ʼn beroep op mense gedoen om nie tot op die nipper te wag om hul rybewyse te laat hernu nie.

Die verlengde grasietydperk tree in werking sodra dit in die Staatskoerant gepubliseer word.

Mbalula sê korrupsie kalwe die morele vesel van die samelewing weg en is ʼn siekte wat net deur samewerking uitgeroei kan word.

“Dit kan nooit aanvaarbaar wees dat motoriste omkoopgeld aan amptenare of veiligheidsbeamptes moet betaal net om ʼn tydgleuf te kry om hul lisensies te hernu nie.”

Ingryping by toetssentrums

Mense staan in toue by die Brandfort-toetssentrum (Foto: Verskaf)

Omdat Gauteng die grootste uitdaging met die hernuwing van lisensies het, word spesifieke stappe gedoen om die situasie in die provinsie te probeer beredder. Twee nuwe toetssentrums, bedryf deur die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), open op 1 Oktober by onderskeidelik die Waterfall Mall in Midrand en Eco Park in Centurion.

Mbalula sê wanneer die twee sentrums operasioneel is, sal dit ʼn bykomende 35 380 hernuwingstydgleuwe per maand – ʼn toename van 48% – by die stelsel voeg. Die sentrums sal van 07:00 tot 21:00 sake doen.

ʼn Nuwe sentrum is reeds in Julie vanjaar in Tembisa geopen.

Die RTMC het ook twee busse toegerus om as mobiele sentrums vir die hernuwing van rybewyse te dien. Sodra die busse se registrasieproses as toetssentrums afgehandel is, sal dit in Diepsloot en Alexandra ontplooi word. Die beoogde datum hiervoor is ook 1 Oktober.

Mbalula sê twee selfhelp-kiosks word ook beoog vir diegene wat nie dadelik by ʼn toetssentrum kan uitkom nie.

“Ons was nog nooit onder enige wanindruk oor die omvang van die probleme by toetssentrums nie, maar saam met LUR’e werk ons hard om die uitdagings uit die weg te ruim.

“Toetssentrums lewer ʼn belangrike diens aan motoriste en is ʼn belangrike ondersteuningstelsel om beweeglikheid te verseker. Talle ander mense maak ook staat op hul rybewyse om ʼn inkomste te verdien,” sê die minister.

Die departement werk ook aan ʼn ooreenkoms met die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) sodat motoriste in die toekoms die oogtoets vir ʼn rybewys by ʼn private oogkundige kan laat doen en dat dié toets dan regstreeks op die eNatis-stelsel gelaai kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Nuustak ·

Bietjie moeilik om mens se lisensie te gaan hernu as jy vir maande wag voor jy ‘n afspraak kan kry op die webtuiste. Hier in ons omgewing weier hulle om jou by die lisensiekantore te help as jy nie ‘n afspraak het nie. Dis ‘n grap

Bernhard ·

In Bronkhorstspruit werk hulle op Vrydag net tot 12h00. So gaan die agterstand nooit ingehaal word nie!

Heinrich ·

Goeie middag . En die wat na 31 Augustus 2021 verval?Kan ek net klarigheid kry asb..

marius ·

Staan in die ry vir ure om ‘n vorm te kry , wat jy mag nie self aflaai en druk . Dan moet jy weer vir ure staan net om te hoor die sisteem is af . Dan moet jy weer gaan om te hoor dis etenstyd . Daarna is dit toemaaktyd . Daar is net TWEE klerke wat ‘n distrik met honderde duisende mense moet help . Ry terug dan staan die verkeersbeamptes nie ‘n honderd meter verder en vra dadelik waar is jou lisensie . Hool !

Corrie ·

Op enige probleem wat ontstaan in hierdie land is daar baie meer verskonings as optrede. Daar bestaan nie meer iets soos werktrots nie. Meeste werkers in die openbare sektor is net daar vir die salaris. Bekwaamheid en werk trots bestaan gladnie meer nie. Doen so min as moontlik vir soveel as moontlik geld ……….. maar net my gedagte ……..

Jana ·

Ek stem saam met jou Corrie. En ‘n mens sou dink hulle sal bly en dankbaar wees dat hulle werk het in ‘n land met ‘n werkloosheidsyfer wat hoog is?

Hoekom ·

Kan dit maar verewig uitstel en afstel, hulle is nie instaat om so administrasie te behartig nie. Voor, na of tydens covid, dit is om te ewe…

Kortbroek en plakkies ·

Hulle sien die probleem kom maar hoop dit gaan net verdwyn en dan moet die eerlikes in die publiek in toue gaan staan, frustreerd raak en verlof by die werk vat om die geldkoffers te vul. Hierdie is net nog ‘n soustrein wat die regering plunder en ons moet dit net aanvaar?

Keith ·

My story… briefly.. so i go to get temp licence (to avoid a fine after august) because next appointment only available january. After hanne hanne they allow me to stand in “walk in queue” to pay and get temp licence. Get to queue, cashier pushes wrong button and processes my application as a normal full licence (without their b.s. appointment. Lol. ) I say woah woah… need temp licence., but then realise i’ve successfully applied for normal licence. “O.K. no problem, and oh please give me a temp licence in the meantime, thankyou”… which said cashier duly does. Got temp licence on the spot and my normal licence is “on its way”. Cost a few bucks more, but done and dusted. Hopefully…..

Jenny ·

En om afspraak te maak vir jou leerlinglisensie is net so ‘n onmoonlik taak, dit is altyd vol en as jy wel ‘n afspraak kan kry is nie eers in jou dorp nie. Hierdie hele situasie van lisensies is absoluut ‘n deurmekaarspul. Ek wonder wie het hierdie stelsel ontwerp…….??????

DieKriek ·

Hoor hier, jy kán nie jou rybewys hernu nie. Myne het in Februarie 2021 verval. Ek het reeds in Desember 2020 probeer om n afspraak te kry en eers in Maart 2021 een gekry 100 km van waar ek woon. Jy wag 4 ure al het jy n afspraak met n vaste tyd. Dan raak die nuwe kaart net weg….

Joe Olivier ·

Ou razmataz, skrik vir niks, hoekom is jy so bang om die e-tol te skrap. Jy maak elke keer beloftes en stap dan stert tussen die bene weg. Alles wat julle aan raak verander in bollie.

Strandloper ·

My motor se lisensie het ook nou al n paar maande terug verval. Ek het nou al 3 keer probeer en is nou moedeloos verby! So raak die boete net elke maand meer! Wat staan my te doen?

Snowball ·

Probeer ‘n instelling kry wat dit namens jou doen, selfs al het jou mororlisensie verval. Hulle bereken klaar hoeveel jy ekstra moet betaal (omdat dit reeds verval het) en jy betaal vir die diens en dan vir die lisensie self, maar dis 100% beter as om self te sukkel. In Gauteng is ‘n hele paar van hulle, ek is seker daar moet in ander provinsies ook wees – Google net bietjie.

Johan ·

Ek het gister,na 4 maande gesukkel,uiteindelik in die ry gaan staan vir 5ure,in reën,ysige koue en saam met bejaardes en vrouens ons beurt afgewag. Nooit weer wil ek die binnekant van Somerset Wes verkeer sien nie,dit was die aakligste ondervinding in my ganse lewe!

Chuck ·

“Duisende mense het die afgelope paar maande egter ʼn haas onmoontlike stryd gevoer om hul rybewyse betyds te laat hernu. Lisensiekantore wat net beperkte ure sake doen of op kort kennisgewing gesluit word, ʼn gebrek aan beskikbare tydgleuwe en korrupsie was van die uitdagings wat die hernuwingsproses vir talle mense in ʼn nagmerrie verander het.”
In hierdie paragraaf van bg. artikel le die hele probleem en natuurlik bakhand -staan onbevoegde / lui / onbeskofte personeel. Ek daag die ministeren sy ‘kronies’ uit om my verkeerd te bewys.

Meinung ·

Dankie tog die besef vir ‘n verdere uitstel het uitéindelik OOK by die minister opgedaag. Dit sal duidense mense gemoedsrus gee. Uitdagings by lisensiekantore is enorm en hopelik sal hy spoedeisend aandag gaan aan ‘n meer funksionele stelsel. Vele instansies het hom reeds idees en raad gegee oor hoe om dit te doen. Die vraag is net of die diepliggende ANC-denkpatroon dat alles sentralisties hanteer en beheer moet word, by hom sal hervorm. Privatiseer hierdie diens en in ‘n ommesientjie sal dinge beter gaan. Soos met baie afdelings van plaaslike bestuur ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.