Suid-Afrikaanse huisgesinne kan dalk binnekort ʼn maandelikse databundel van 10 GB deur die regering toegestaan word in ʼn poging om tegnologiese vooruitgang te bevorder.
Só het die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Khumbudzo Ntshavheni, Dinsdag in haar toespraak tydens die debat oor die staatsrede onderneem.
Ntshavheni het gesê alle burgers sal toegang tot die internet verkry omdat dit deesdae as ʼn kernbehoefte beskou word.
Vooruitgang in tegnologie soos 5G en die beplande vrystelling van waardevolle dataspektrum sal daartoe lei dat die regering “voorgeskrewe minimum data” aan huishoudings kan bied.
“Data het ʼn nuwe nuttigheid soos water en elektrisiteit geword,” het sy gesê.
“Die een of ander tyd sal ʼn Suid-Afrikaanse huishouding, of hulle ryk of arm, werkloos of werkend is, toegang tot 10 GB data per maand gegee word, want dit is wat die regering sal lewer.”
Ntshavheni het bygevoeg dat die departement, in samewerking met die onafhanklike kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Icasa), gaan toesien dat ʼn aantal skole en gesondheidsentrums ook internetverbindings ontvang.
“Ons het saam met Icasa maatskaplike diensverpligtinge gestel om binne 36 maande nadat die lisensiëring van die spektrum afgehandel is internetverbindings aan al ons openbare skole te gee. Ons wil dit ook aan openbare gesondheidsfasiliteite wat klinieke en hospitale insluit, asook die kantore van tradisionele leiers en owerhede verskaf.”
Altesaam 18 520 openbare skole sal dié gratis internetverbinding ontvang, terwyl 5 731 gesondheidsfasiliteite en 8 241 kantore van tradisionele leiers en owerhede dit beloof is.
Die departement van openbare werke en infrastruktuur het glo verlede jaar reeds in sy nasionale infrastruktuurplan onderneem om gratis data aan lae-inkomste-huishoudings te verskaf, berig Business Tech.
Die plan bepaal ook dat hoëspoed-breëband (fibre) teen 2023-’24 in elke gemeenskap beskikbaar sal wees.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
47 Kommentare
Niks is “gratis” nie. “Gratis” beteken iemand anders betaal daarvoor.
Dit is fantasties. Wie gaan daarvoor betaal?
Natuurlik gaan daar een of ander tender opduik en iemand wat weer lekker die laaste bietjie aangebrande pap uit die pot gaan skep…
En so maak jy die massas ongeskoolde honger “people” afhanklik van n Tshirt, n grant, n handvol pap en data! Volgende is n Tablit, n PC, n Laptop en n paar Slim fone per “gesin”.
Dalk, miskien, moontlik… Dit seg als