‘Gratis middagetes’ iets van verlede vir Tshwane

(Foto: Twitter)

Ná maande onder administrasie en toenemend verslegtende dienslewering in die Pretoria-omgewing, het die Tshwane-metroraad eindelik weer ʼn burgemeesterskomitee.

Die DA se Randall Williams is verlede week as burgemeester aangewys nadat die metroraad maande gelede deur die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Lebogang Maile, onder administrasie geplaas is.

“Vir meer as sewe maande het die stad geen politieke leierskap of oorsig oor sleutelbedrywighede gehad nie. Raadslede is uit gemeenskappe verwyder en ʼn gaping tussen die stad en sy inwoners het ontstaan,” het Williams Donderdag tydens die bekendmaking van die nuwe burgemeesterskomitee vir die stad gesê.

Williams sê hy het die afgelope paar dae op die hoogte probeer kom van die stad se operasionele stand.

Die metro se geldsake lyk beroerd. Al hoe minder geld word ingesamel, begrotings moes besnoei word en die stad sukkel om behoorlik te reageer op diensleweringsversoeke. Die Covid-19-pandemie het verdere druk op die stad geplaas. Talle amptenare moes van die huis af werk, maar het geen toerusting ontvang om hul werk doeltreffend te kan doen nie.

Williams sê hy het die waarnemende stadsbestuurder reeds opdrag gegee om alle amptenare – behalwe dié met onderliggende siektetoestande of ernstige mediese probleme – terug te roep en daar is reeds met die proses begin.

“Dit is tyd om die hoofstad weer aan die gang te kry,” het hy gesê.

Williams sê daar sal bestekopname gedoen word van elke sent wat oor die afgelope sewe maande bestee is. Die stad beoog ook om voortaan aansienlik minder te bestee en gaan afskaal op die gebruik van konsultante en uitgekontrakteerde diensverskaffers.

“Besteding op spyseniering in die Stad Tshwane word gestaak. Gratis middagetes is iets van die verlede. Maak nie saak hoe lank ʼn vergadering of byeenkoms duur nie: Die stad gaan nie kos koop nie.

“Geleenthede en konferensies se begrotings gaan verminder word en na sleuteldienslewering herlei word,” het Williams gesê.

Internasionale reise sal beperk word en besteding aan items soos skryfbehoeftes of drukwerk gaan streng gemonitor word.

Die burgemeester het ook ʼn tienpuntplan vir dienslewering bekend gestel.

Prioriteite sluit in:

  • Krag- en waterinfrastruktuur
  • Die inwerkingstelling van ʼn Covid-19-bestuursplan
  • Betroubare vullisverwydering
  • Verbeterde finansiële bestuur
  • Die verbetering van veiligheid- en nooddienste
  • Kostebesnoeiing
  • Instandhouding van padnetwerke

Só lyk Tshwane se nuwe burgemeesterskomitee:

Behuising: Mpho Mehlape-Zimu

Korporatiewe en gedeelde dienste: Sylvester Phokoje

Gemeenskap- en maatskaplike ontwikkeling: Thabisile Vilakazi

Gemeenskapsveiligheid: Karen Meyer

Gesondheid: Sakkie du Plooy

Finansies: Mare-Lise Fourie

Nutsdienste, streeksbedrywighede en koördinering: Phillip Nel

Omgewing en landboubestuur: Dana Wannenburg

Ekonomiese ontwikkeling en ruimtelike beplanning: Bruce Lee

Paaie en vervoer: Dikeledi Selowa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

JohanR ·

Hulle kry al groot uitspattige salarise, dan moet die belastingbetaler hulle nog voer ook! Gaan hoek kafee toe, en kry ‘n vleispastei soos ek en JanAllerman moet doen elke werks dag vir middagete!

Anel ·

Of maak soos miljoene ander, vat jou eie broodjies werk toe!

Persheks Adri ·

Elkeen moet mos self sorg vir sy etes regtig! Dis dieselfde as met die huiswerkers jy moet nog vervoer ook betaal en kos voorsien pffft asof ons nie self by werk moet kom nie genade

Elsa ·

Dit klink gaaf.
Begin sommer met die nie-bestaande sypaadjie voor die polisie kantoor en magistraatskantoor in Pretoria Noord.
Nou alle waterlekke in die Noord, en daar is baie.

agnes ·

Dit is nou goeie nuus. Welkom Mnr Williams, ons Sal u waar moontlik bystaan. ????

Nie Verbaas ·

Internationale reuse? Waarvoor sal hulle internasionaal will reis?

agnes ·

Vir die eerste keer in dekades kry ons nou n STAATSDIENST ipv n STAATSKANKER! Baie baie dankie

Bregterblom ·

Het self by stadsraad gewerk-hul pak kos in handsakke vir die hele familie! Hoog tyd dat die gebruik sneuwel!!

Elize ·

Genugtig dit sal darem lekker wees om by die werk kos te kry! Bring eie eetgoed saam en sommer vir die baas ook toebroodjies elke dag. Dan maak ek nog self die kantoor skoon sonder enige betaling

Derek ·

Ek hoop die ANC verstaan dat die grondwet bepaal dat water en kos n grondwetlike reg is vir almal in Suid Afrika. Nie net vir ANC ondersteuners!

Genis ·

Maar die buurte skoon, wie se geld julle so op-eet… Pretoria lyk soos n hool… Dis tyd dat ons VF raadslede in die woonbuurte instem… DA beteken nie veel nie

Ferdi ·

Baie sterkte mnr Williams met die enorme taak. Die inwoners sal moet help. Hoe lui die spreekwoord: “As elkeen voor sy eie deur vee bly die straat skoon”

LiveAndLetLive ·

Mooi om te sien die “Gravy trein” loop nie meer nie.
Geld val nie uit bome nie – tyd dat hulle dit besef.

Jakes ·

Dit is darem n lekker werkgewer wat sy personeel nog vet voer ook. Ai die skokke hou net nie op nie. Geen wonder die land is so korrup nie.

Hennie J ·

As ek dit nie mis het nie is die etes en dies meer vir raadslede al vir geruime tyd verbode. Dat die administrateurs dit (en ek glo baie ander ongerymdhede) net te laat voortgaan, wys maar net weer op die swak gehalte van kader administrateurs wat die anc op munisipaliteite afdwing. Mnr. Williams,as jy regtig wil naam maak, bring sake van onbevoegdheid/versuim teen die sogenaamde administrateurs, dan sal die poppe dans.

Mariana ·

Sterkte, hoop hy slaag in sy poging om stad se sake weer op dreef te bring. Gaan rukkie neem en om etes uit te skakel sal daar dalk meer gewerk word en vergaderings ook vinniger verdaag. Tyd vir partytjies om te stop.

Vanessa ·

Ja nee dis hoogtyd dat hulle begin werk. Mens kry niks uitgerig, want almal sit lekker agteroor by die huise en niks doen en gebruik die verskoning van Covid en kry vol salaris. Daar is niks fout as jy wel van die huis af werk en jou kant bring, maar hulle doen absoluut niks. Ek ken hope mense wat vir die staat werk en met verlof gegaan het gedurende die tyd, want hulle kan nie van die huis af werk nie. Regtig!!!!!! Ek hoop die werk wat agter geraak het gaan sommer nou spoedig weer op datum gebring word. Ek het al in Julie aansoek gedoen vir my bestuurderslisensie tot en met vandag het ek nie die bestuurderslisensie gekry nie, nou moet ek weer velof insit en weer ingaan!!!!! Dit maak my siek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.