Gratis onderrig ‘sal infaseer word’

Hlengiwe Mkhize, minister van hoër onderwys, tydens die mediakonferensie (4 Januarie 2018). Foto: Oupa Mokoena/ANA

Gratis hoër onderrig in Suid-Afrika sal nie onmiddellik geïmplementeer word nie, maar sal deel vorm van ʼn nuwe stelsel wat oor die volgende vyf jaar ingefaseer sal word, het Hlengiwe Mkhize, minister van hoër onderwys, Donderdag gesê.

Mkhize het dié aankondiging gemaak saam met Steven Zwane, die uitvoerende hoof van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS). Zwane het gesê NSFAS sal beweeg van ʼn studieleningvoorsiener na ʼn beursskema.

Pres. Jacob Zuma het verlede maand aangekondig dat armes van 2018 gratis by tersiêre instansies sal kan studeer.

Mkhize het gesê die infasering van die nuwe stelsel sal die nasionale tesourie kans gee om ʼn nuwe begrotingsplan saam te stel en te implementeer.

“Die beleidsbesluit wat deur die president aangekondig is om aandag te gee aan studiehulpuitdagings in hoër onderwys is ʼn bewys daarvan dat onderwys ʼn top-prioriteit bly in die regering se beleid wat ten gunste van armes is,” het Mkhize gesê.

In 2018 sal slegs aansoekers wat reeds ʼn duidelike aanbod van ʼn universiteit of tegniese en beroepsgerigte opleidingskollege (TVET) het, oorweeg word vir studiehulp.

“Studente wat nie by instansies of by NSFAS aansoek gedoen het nie en wat graag ʼn plek in die naskoolstelsel wil hê, sal deur die Central Applications Clearing House (CACH) gehelp word,” het sy gesê.

Die CACH-diens, wat in die 2013 begin is, is ʼn aanlyn-aansoekportaal van die regering wat ontwerp is om matrieks en ander landsburgers te help wat graag wil aansoek doen vir hulp tydens naskoolse onderrig.

NSFAS het van 2018 sy inkomstedrempel van R122 000 na R350 000 per jaar vermeerder, wat beteken die definisie van “arm en werkersklas” is aangepas om families wat voorheen uitgesluit is te help.

Mkhize het gesê studente word afgeraai om net by universiteite op te daag om aansoek te doen om ʼn soortgelyke voorval soos by die Universiteit van Johannesburg in 2012 te voorkom. Destyds is ʼn vrou dood en minstens 17 mense beseer in ʼn stormloop van studente wat by die universiteit opgedaag het om aansoek te doen om toelating.

Intussen het Julius Malema, leier van die EFF, akademies-kwalifiserende kandidate aangemoedig om net by die hoër onderrig instansie van hul keuse op te daag om vir hul studies te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mari ·

Bietjie te laat om dit nou aan te kondig na nog ‘n onverantwoordelike uitlating?

Hanna ·

Ek dink dis bietjie te laat… EFF het klaar beloftes gemaak. Zuma ook. Hier kom chaos, dis virseker!

Marius ·

Kan nie sien hoe so stelsel kan werk nie. In Australie word studente toegelaat om te studeer maar moet hul studiegeld terugbetaal sodra hulle n voorgeskrewe salarisskaal bereik. Terugbetaling is gebasseer op 1% addisionele belasting per jaar. Selfs die stelsel het rondom 2012 tot ongeveer $13 Biljoen se agterstallige skuld gelei. Iemand gaan hiervoor betaal en dit kan net die belastingbetaler wees.

Werker ·

Waar is die dae wat studente in die aande gewerk het op hul studiegelde te betaal en nog in die dag klas gedraf het (ek was een van die studente wat in die dag voltyds gewerk het en deeltyds geswot het). Grootste gedeelte van my salaris het net so vir studiegelde gegaan

Eish ·

Verby en vir altyd verby.
Dis die dae toe jy nog kraanwater kon drink, kinders boomgeklim het, uitgeval en arms en bene gebreek het. Die jare toe hul quite gespeel het tot donker. Die tyd voor Xbox en Facebook.
Ek het ook gewerk tot 16h30, 5km gestap tot by Technikon en klas gedraf tot ounag, dan teruggestap blyplek toe.
Dis die tyd toe ons gewerk het vir n lewe. Deser dae stem hul vir n lewe.

Callie ·

Alles baie mooi. Nou ken ons mos die kultuur van wanbetaling. Verder, lekker student speel vir n jaar of twee en dan maak die oorgroot meerderheid dit nie. Wie betaal dan. Al die chaos gesien van die wat gratis mag studeer en dan is daar nie meer plek nie.

Koos1 ·

Net so het die ANC vir almal huise belowe. Nou 23 jaar later spring shacks op soos paddastoele. Nee wat, wat die ANC belowe en wat hulle uitrig is so ver soos die ooste van die weste!
Maar ja Zuma sal alles in die stryd werp om sy eie bas uit die tronk te probeer hou, alles ter wille van ons land.

Hennie ·

Malema se ondersteuners gaan beslis vandag ghaos veroorsaak, presies wat Malema voorstaan. Hy is immers hierdie land se no 1 vyand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.