Gratis vliegkaartjies vir afgetrede LPs

vliegtuigsitplekAfgetrede LPs behoort tot 24 gratis vlugte per jaar te kry vir 10 jaar, luidens ʼn voorstel wat voor die parlement gelê is, het die Sunday Times berig.

Die parlement se oorsigtelike komitee het onlangs voorgestel dat afgetrede LPs en hul eggenote gratis vliegtuigkaartjies moet ontvang, op belastingbetalers se koste, gebaseer op die aantal jaar wat hulle as lede van parlement gedien het.

ʼn LP wat een termyn (vyf jaar) gedien het, moet agt ekonomieklas-kaartjies elke jaar kry vir 10 jaar; 16 ekonomieklas-kaartjies per jaar vir 10 jaar ná twee termyne; en 24 besigheidsklas-kaartjies per jaar vir 10 jaar ná drie termyne.

Sandy Kalyan, adjunkhoofsweep van die Demokratiese Alliansie het gesê die idee is om die “speelveld gelyk te maak” tussen voordele wat aan voormalige LPs gebied word en die voordele wat aan voormalige ministers en adjunkministers gebied word. Kalyan dien op die taakspan wat die reisbeleid hersien.

Die voorstel is vervat in die oorsigowerheid se jaarverslag vir 2013. Die owerheid is die hoogste beleidvormingsowerheid vir die parlement en sluit die speaker Max Sisulu en voorsitter van die nasionale raad van provinsies, Mninwa Mahlangu in.

Sisulu sal na verwagting die voorstel met Pravin Gordhan, minister van finansies, en adjunkpresident Kgalema Motlanthe bespreek. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Slim Daan ·

Besonder Slim ?

Ok. Net n grappie. Gotcha! ( Sou net graag wou weet wat die regverdigings-gronde is vir so n besluit. Verstommend val die DA hierby in ? Eisj. )

Grassie ·

Dit is verregaande. Ek dink die ou spul kry in elk geval `n buitensporige hap uit die staatspensioenfonds by uittrede. Hulle is ook onproduktief tydens hul diensjare – daar is baie fotomateriaal van hoe hulle openlik sit en slaap tydens sittings. Verder word hulle daagliks tot barstens toe volgeprop met gratis kos. Hulle draai ook baie stokkies , is selde op hul pos. Ek sien die DA steun die voorstel. Hulle is maar almal voëls van eenderse vere – ry die soustrein en te hel met die gepeupel daar buite waar baie moet honger ly of in haglike omstandighede moet woon. Ek dink hierdie storie van hulle is op dieselfde morele vlak as Nkandla.

Ria Maritz ·

Ek glimlag nou, jy is 100% in die kol met jou skrywe. As hulle eers op daardie 9de nekwerwels aan’t eet gaan … en die kospakkies wat saam huiswaarts geneem word. Dit skree ten hemele.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.