Gratis vlugte vir afgetrede LPs nié ANC-idee

vliegtuigsitplekDie kantoor van die ANC se hoofsweep het Woensdag bekend gemaak dat die party aanvanklik gekant was teen ʼn voorstel dat afgetrede LPs tot 24 gratis vlugte per jaar vir 10 jaar moet kry.

“Die ANC was aanvanklik gekant teen die voorstel weens die bykomende las wat dit op die belastingbetalers se sak sou hê,” het Moloto Mothapo, die hoofsweep se woordvoerder, in ʼn verklaring gesê. “Ons besluit om die voorstel te ondersteun is gemaak op die voorwaarde dat die parlement dit eers aan die nasionale tesourie voorlê sodat ʼn omvattende ondersoek oor die bekostigbaarheid en uitvoerbaarheid gedoen kan word.”

Mothapo het gesê dit is ʼn “skande” dat die DA, glo die hoofborg van die voorstel, homself in die media weerspreek “in ʼn lomp poging om goedkoop politieke punte te kry”.

Hy het gesê die kantoor van die hoofsweep was “verbaas” deur die DA se “skynheiligheid” oor die voorstel deur die parlementêre oorsigtelike komitee dat afgetrede LPs en hul eggenote gratis vliegtuigkaartjies moet ontvang, op belastingbetalers se koste, gebaseer op die aantal jaar wat hulle as lede van parlement gedien het.

“In teenstelling met dit wat sommige DA-LPs oor hierdie saak glo, is hierdie voorstel nie die ANC s’n nie. Die feite, en notule van die vergadering waar die voorstel gemaak is, bewys dat die DA, deur sy hoofsweep en adjunk-hoofsweep, in 2007 voorgestel het dat reisvoordele ook aan gewone LPs gebied word wanneer hulle aftree,” het Mothapo gesê.

Hy het gesê nadat Douglas Gibson en Mike Ellis uit die parlement getree het, het hul opvolgers, Watty Watson en Sandy Kalyan, met die voorstel se veldtog voortgegaan.

Kalyan, die DA se adjunk-hoofsweep, het gesê die idee was om die “speelveld gelyk te maak” tussen voordele wat aan voormalige LPs toegestaan word teenoor die van voormalige ministers en adjunk-ministers. Die voorstel is vervat in die oorsigowerheid se 2013-jaarverslag, wat onlangs ter tafel gelê is.

Pravin Gordhan, minister van finansies, het Dinsdag gesê die parlement moet binne sy begroting te werk gaan en die “beskeidenheidsfaktor” in gedagte hou. Hy het gesê wat ook al die nuwe reëling is, dit ná die algemene verkiesing op 7 Mei opgelos moet word. – SAPA

Lees ook:
Gratis vliegkaartjies vir afgetrede LPs

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.