Grayston-brug: Ingenieur weier om vrae te beantwoord

Phumudzo Maphaha. Foto: ANA

ʼn Kontrakbestuurder en ingenieur wat betrokke was by die bou van die Graystonrylaan-voetgangerbrug wat in 2015 ineengestort en tot die dood van twee mense gelei het, het Woensdag herhaaldelik geweier om vrae te beantwoord by die ondersoek na die voorval.

Hein Pretorius was met verlof op 14 Oktober 2015, die dag wat die brug ineengestort het. Altesaam 19 mense is in die voorval beseer.

Pretorius het aan die kommissie van ondersoek gesê hy is nie in ʼn posisie om te weet wat die oorsaak van die ineenstorting was nie. Hy het geweier om ʼn vraag te beantwoord oor die lading wat die struktuur kon dra en het aangevoer hy kan homself moontlik inkrimineer deur die vraag te beantwoord. Hy wou ook nie aan die kommissie sê wie verantwoordelik was vir inspeksies op die bouterrein nie.

In antwoord op ʼn vraag van Phumudzo Maphaha, die voorsittende beampte van die ondersoek, het Pretorius gesê hy is bewus daarvan dat die projek vereis het dat daar ʼn mentor aangestel word vir die kandidaatingenieur, Oliver Aadnesgaard, maar het toegegee hy weet nie wie dié mentor was nie.

Hy het gesê hy is egter steeds tevrede dat Aadnesgaard voldoen aan die vereistes vir ʼn bekwame persoon.

Pretorius het verder laat hoor dat hy gereeld gesondheid- en veiligheidsverslae van die konstruksieperseel ontvang het.

Die tekeninge vir die struktuur is deur FormScaff verskaf en Pretorius het gesê sy gesprekke met die maatskappy het grootliks gehandel oor die gemak waarmee die tydelike brug opgerig en afgebreek kon word.

Hy wou weereens nie verduidelik hoekom die konstruksiewerk voortgegaan het sonder ladingsassesserings nie. Aadnesgaard wou op soortgelyke wyse nie vrae wat aan hom gestel is beantwoord nie.

Die kommissie het vandeesweek vir die eerste keer sedert verlede jaar sy ondersoek na die brugineenstorting hervat.

Die kommissie is deur die departement van arbeid op die been gebring om te ondersoek of daar enige oortredings van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid 85 van 1993 was wat tot die noodlottige ineenstorting gelei het. Die ondersoek duur vandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Natan ·

Ek sukkel net so met ‘n professionele waardeerder wat droog gemaak het in sy werk. Hy speel kat en muis met die ondersoekspan. Kriminele aanklagte mag dalk help.

Skuus ·

As jy nie verantwoordelikheid kan vat en kan verduidelik hoekom sekere dinge nie gebeur het wat moet gebeur het nie……….tronk toe.
Ek het nog nie een brug gesien wat ineentuimel waar werklike ingenieurs en inspekteurs was nie. Ja ek praat van die vorige regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.