Grensboere voer opdraande stryd

Die grensdraad is op talle plekke tussen Suid-Afrika en Lesotho bykans heeltemal afwesig. Grensdrade en selfs die pale wat dit vashou, word gesteel, vertel ‘n boer.

ʼn Vrystaatse boer wie se plaas op die grens met Lesotho is, sê die toename in voorvalle van veediefstal, plundery en skade op sy plaas naby Wepener het nou sulke drastiese afmetings aangeneem dat hy binnekort moontlik álles gaan verloor.

Die boer, wat uit vrees vir viktimisasie anoniem wil bly, het gesê hy het die afgelope paar jaar nagenoeg 300 beeste met ʼn waarde van sowat R3 miljoen verloor. “Ons wil nie meer plaas toe gaan nie. Dit is net te onveilig. Maar dit breek ons harte om te sien hoe ons diere ly,” het hy gesê oor die genadelose aanvalle op hul oorblywende diere en eiendom.

Hy het sedertdien al sy beeste van dié plaas na ʼn ander perseel verskuif.

Die boer en sy gesin woon in Bloemfontein en wou die plaas, met geweldige groot ontwikkelingsmoontlikhede, in ʼn eko-toerismebestemming omskep. Weens die voortslepende misdaad daar, is dít nou ʼn bykans onbegonne taak.

Geen grensbeheer

Volgens dié boer steek Lesotho-burgers die grens, waarvan die grensdrade jare gelede al gesteel is, ongestraf oor. Hulle buit vee én wild en is toenemend gewapen. Soms word honde gebruik om te jag. Die boer sê sy kinders se perd op die plaas moes onlangs van kant gemaak word, nadat die dier vermoedelik in ʼn strik getrap en sy been gebreek het.

Hy het net vanjaar al nagenoeg 60 blesbokke aan stropers verloor en van die oorblywende bokke loop etlike plase verder nadat die diere deur die drade gejaag is.

(Argieffoto)

“Ons veg ʼn verlore stryd. Ek het ʼn vrou en kinders en daar is geen manier wat ek teen dié oormag kan opstaan nie. Ons is al met die dood gedreig,” het hy gesê.

Hy het gesê dit gaan hom nagenoeg R40 000 per maand kos om ʼn private teenstropery-eenheid met militêre opleiding aan te stel om sy eiendom te beveilig. “As die plaas sy volle potensiaal bereik, kan ons dít dalk bekostig, maar ons het reeds byna alles verloor. Ons moet die plaas weer van onder af probeer opbou,” het hy gesê.

Die jongste uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika het boonop hernieude fokus geplaas op nie net die vervoer van diere nie, maar ook behoorlike grensbeheer.

Dié boer sê honderde beeste wat nie geïmmuniseer is nie, loop daagliks deur sy plaas. Miltsiekte het ʼn ruk gelede in Lesotho uitgebreek, maar van behoorlike grensbeheer tussen die twee lande om siektes soos dié ook doeltreffend te bestuur, is daar oënskynlik geen teken nie.

Volgens hom is die plaas van meer as 350 ha ook nie meer veel werd nie – niemand wil hiér boer nie.

“Ons word basies deur Lesotho onteien en niemand gee om nie. Ons is met ons rûe teen die muur,” het hy moedeloos gesê.

Die Suid-Afrikaanse weermag is vir grenspatrollies verantwoordelik, maar dié boer sê daar is op sý plaas geen teken van só ʼn patrollie nie. Dít ten spyte van herhaalde pleidooie by die weermag om patrollies daar te verskerp, het hy gesê.

“Dit wat op die grens gebeur, is eintlik niks anders as terreuraanvalle nie. Die weermag sê dit is nie hulle werk om my plaas op te pas nie. Hulle ry kamstig patrollies, maar dit is so ondoeltreffend dat die Lesotho-burgers eintlik lag vir hulle,” het hy gesê.

‘n Boer sê hy het reeds miljoene rande se skade gely en die situasie maak dit vir hom bykans onmoontlik om te boer.

Georganiseerde optrede

Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou se veiligheidskomitee, het gesê grensbeheer is inderdaad ʼn knelpunt. Dis egter ʼn probleem wat al oor jare kom en nie binne ʼn dag of twee opgelos gaan word nie. Grensdrade wat nie in stand gehou word nie, is maar een van talle probleme.

Le Roux het gesê die ideaal is dat ʼn grens opgerig word waardeur geen mens of dier kan beweeg nie, maar dat dít miljarde rande gaan kos en jare kan duur. Die probleme en toegewings op die grens het boonop al so ver gevorder, dat dit bitter moeilik is om dit nou te stuit.

Hy het gesê daar moet probeer word om boere wat in dié gebiede boer, op hul plase te hou. “Weens al die probleme wil niemand die grond hê nie, maar as daardie boer wegval, skuif die probleem net een plaas verder binneland toe.

“Die grensboere is moeg, uitgeput. ʼn Boer kan nie 24 uur van die dag patrollie ry nie, ons kán net nie. Ons het werk om te doen. Daai [oortreders] kan dae lank op ʼn klip sit en kyk wanneer die beste tyd is om toe te slaan,” het Le Roux gesê.

Hy het gesê Vrystaat Landbou is besig met ʼn projek – in samewerking met verskeie rolspelers in die bedryf – om kameras op spesifieke punte op die grens op te rig. Dit sal 24 uur per dag gemonitor word en word gebruik as ʼn proeflopie om oplossings vir die kwessie te help vind.

Volgens Le Roux is die vlakke van samewerking tussen die landboubedryf en die weermag oorwegend goed, en moet hulle ondersteun word om op hul bestaande suksesse voort te bou.

Hy het gesê daar kan wél veel meer van regeringskant gedoen word om boere en die georganiseerde landbou in dié verband te help.

(Argieffoto: SA Polisie)

Veediefstalsyfers

Veediefstal het ʼn verwoestende uitwerking op die landbou-ekonomie en na raming beloop verliese die afgelope jaar meer as R1,2 miljard.

Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalforum, het vroeër vanjaar gesê dié bedrag kan selfs hoër wees as die misdade wat nie aangemeld word nie, ook in berekening gebring word. Volgens hom word net sowat 30% van gevalle tans aangemeld.

Luidens die polisie se misdaadsyfers vir die 2018-’19-boekjaar is amper 30 000 voorvalle van veediefstal landwyd aangemeld. Dit is ʼn styging van net-net minder as 3%. (Die diefstal van wild maak nie deel van dié syfers uit nie.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frm

Hkm se julle samewerking met die weermag is eintlik goed terwyl die boer dit nie so ervaar nie. Is dit dalk nie die probleem nie. Kameras met n reaksie mag het nog nooit en sal ook nie hier werk nie.

Swanna

Hierdie gooi ek absoluut voor die ANC regering se deur. Hulle dag gaan ook kom. Die HERE is geduldig maar die dag wanneer SY toorn ontvlam.

kobie

Ek glo dit nie ,pleks van terugbaklei,hardloop ons en gaan kruip weg,hier is dus nou n plaas wat konfeskeer moet word sonder vergoeding,en ek stem saam gee die grond vir iemand met ruggraat.

Karel

Sien hier is baie slim en dapper manne wat beter planne het. Nou cat die plaas, gaan boer julle. Ek dink net hierdie boer is na jare der jare se baklei nou gedaan. Hy is man alleen, soos hy sê, n verlore stryd maar sien hier is manne wat nog nie n dag in sy skoene geloop het nie, wat graag dit n go wil gee.

BR

Kobie plaas jou tel no hier. Boere het jou nodig