Grensposte gerat vir feesseisoen

Twee beamptes van die departement van binnelandse sake, Stephen van Neel, hoof van hawebeheer, en Elroy Africa (regs), hoof van die Grensbestuursagentskap, tydens die werkswinkel in Pretoria. Foto: ANA

Die departement van binnelandse sake het Donderdag aangekondig dat die bedryfsure by ʼn groot aantal grensposte na en van Suid-Afrika oor die feesseisoen verleng sal word en dat daar ook meer personeel by dié grensposte ontplooi sal word soos miljoene mense hul vakansiereise aanpak.

Die departement het die media by ʼn werksessie in Pretoria toegespreek waar die departement sy feesseisoen-planne bekend gemaak het wat reg oor die land geïmplementeer sal word.

Thabo Mokgola, woordvoerder van die departement, het gesê die verlede het bewys dat deeglike beplanning vir die feesseisoen noodsaaklik is wanneer reisigers na Suid-Afrika stroom en baie burgers die land verlaat vir vakansie. “Dit maak dit noodsaaklik vir die departement om die nodige planne gereed te hê om onwettige bewegings en ander oortredings hok te slaan,” het hy gesê.

Gedurende die 2015/16-feesseisoen het 5 303 555 mense deur Suid-Afrikaanse grensposte beweeg. Altesaam 3 814 000 hiervan was buitelandse burgers.

Oor die 2016/17-feesseisoen het dié getal met 3,78% toegeneem tot 5 504 022 mense wat deur die land se grensposte beweeg het. Buitelandse burgers het 3 944 788 van hierdie getal uitgemaak.

Mokgola het gesê Ayanda Dlodlo, die minister van binnelandse sake, het verlengde bedryfsure en addisionele personeel van 6 Desember 2017 tot 16 Januarie 2018 by grensposte goedgekeur.

Dit sluit onder meer in die Beitbrug-grenspos waar die normale 125 personeellede tot 215 vermeerder is, die Maserubrug-grenspos waar personeellede van 62 na 107 vermeerder is, OR Tambo Internasionale Lughawe waar 370 personeel ontplooi is in plaas van die gewone 345 personeellede en die Lebombo-grenspos waar daar 222 personeellede, 75 meer as gewoonlik, aan diens sal wees.

Mokgola het gesê die departement wens alle reisigers ʼn veilige en onvergeetlike feesseisoen toe, wat gekenmerk sal word deur die beweging van “slegs wettige mense en goedere” in en uit Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

LB S ·

Ja, ek wonder net hoeveel van diè miljoene gaan weer teruggaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.