Gretha Wiid moet dié stappe doen ná MRK-skikking

Gretha Wiid. Foto: Facebook via Gretha Wiid

Die inhoud van die skikkingsooreenkoms wat tussen die Menseregtekommissie (MRK) en die verhoudingskenner en Christelike skrywer Gretha Wiid bereik is ná haar uitsprake oor gays, is bekend gemaak.

Wiid is in Mei verlede jaar daarvan beskuldig dat sy homoseksuele mense veroordeel, verdoem en boonop aantygings maak dat seuns en meisies gay word weens molestering, ʼn gebrek aan ʼn vader- of moederfiguur en wanneer seuns byvoorbeeld nie sportsoorte soos rugby beoefen nie. Dit was na aanleiding van haar boeke, Lyfslim vir seuns en Lyfslim vir meisies, wat reeds in 2009 gepubliseer is.

Die MRK het 77 klagtes rakende die inhoud van die boek ontvang. Volgens die MRK het die klaers aangevoer die boek kom op onbillike diskriminasie neer op grond van seksuele oriëntasie, geslagsidentiteit en uitdrukking, en dat dit haatspraak is. Wiid is verder ook oor die kole gehaal rakende praatjies en werksessies wat sy tussen 1996 en 2011 by skole in Gauteng aangebied het.

Volgens die skikkingsooreenkoms sal Wiid haar boeke, Lyfslim vir seuns en Lyfslim vir meisies, vir toekomstige uitgawes aanpas. Huidige of ouer weergawes van die boeke mag nie verder versprei word nie en Wiid moet redelike stappe doen om die verspreiding daarvan te keer en te beperk.

Wiid sal verder nie tekste skryf vir verspreiding onder kinders wat voorstel dat homoseksualiteit die gevolg van seksuele aanranding is of aan afwesige ouers toegeskryf kan word nie. Sy mag ook nie skryf dat homoseksualiteit ʼn praktyk is wat vermy of afgekeur moet word nie.

Wiid het verder as deel van die ooreenkoms onderneem om nie tydens haar werksessies oor homoseksualiteit te praat nie. Indien dit wel deur ʼn kind of onderwyser geopper word, sal Wiid voorstel dat die onderwerp nie geskik is om by die sessie bespreek te word nie en dat dit eerder vir ʼn ander forum geskik is.

Indien die onderwerp egter steeds voortgaan, sal Wiid dit op ʼn manier hanteer wat die regte van menswaardigheid en gelykheid van die LGBTIQ-gemeenskap respekteer.

Volgens die skikkingsooreenkoms moet die gewysigde teks in Wiid se boeke voortaan soos volg lees:

“Wat beteken dit as iemand gay is?

“ʼn Ander woord wat mense ook gebruik is ‘homoseksueel’. Gay vroue word soms ‘lesbiërs’ of ‘lesbeens’ genoem. Homoseksuele mense voel aangetrokke tot mense van dieselfde geslag. God se siening oor homoseksualiteit is iets waaroor baie mense baklei en stry. Ongeag wat jy glo is dit vir my baie belangrik dat jy nooit ongeskik sal wees met kinders wat jy voel is anders as jy nie. Dit beteken dat jy ook nie anders kinders lelike name sal noem of spot nie. Kom ons kies om kinders te wees wat genade het vir ander mense en hulle goedhartig hanteer. Al stem jy nie saam met mense nie, kan jy mos nogsteeds mooi wees met hulle. God waarsku ons in die Bybel dat ons versigtig moet wees met dit wat ons sê. In Spreuke 18:21 leer ons dat dinge wat jy sê soos saad is wat later sal opkom. Wees daarom asseblief een van die kinders wat nie lelik praat van ander nie – nie voor hulle nie, maar ook nie agter hulle rug nie. Wees ʼn jong man met ʼn hart van God!

As jy voel dat jy sukkel hiermee of deurmekaar is rondom jou eie seksualiteit, is dit baie belangrik dat jy met iemand sal gaan gesels wat jy vertrou vir leiding en ondersteuning. Wees lief genoeg vir jouself en jou eie toekoms om met iemand te praat as jy onseker is en alleen voel. Om met die regte mense te gesels (jou ouers, ʼn onderwyser of ʼn berader/sielkundige) kan jou baie help hiermee. (sic)”

Die skikkingsooreenkoms is vandag by die kommissie se kantoor in Braampark onderteken.

Wiid het destyds in reaksie op die kritiek teen haar ontken dat sy verdoemend was. “Ek is nie hier om my boek of myself te verdedig nie – ek wil ʼn deel van my hart deel. Ek wil sê die saak [van homoseksualiteit] lê my baie nader aan die hart as wat mense besef.

“My broer is deel van die homoseksuele gemeenskap, en ons is baie na aan mekaar. Ek het deur familie na aan my die struggle en die alleenheid [van homoseksualiteit] leer ken, ek weet hoe kyk die samelewing na hierdie goed. Ek weet ook wat is die geestelike vraagstukke rakende hierdie kwessie.”

Die volledige skikkingsooreenkoms kan hier gelees word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.