Gretha Wiid reageer ná mediastorm

Gretha Wiid. Foto: Facebook via Gretha Wiid

Die verhoudingskenner en Christelike skrywer Gretha Wiid het haar Saterdag tot sosiale media gewend om vir die eerste sedert die storm om haar Lyfslim vir seuns/meisies-boek losgebars het, oor dié kwessie te praat.

Wiid het in ʼn video gesê dié boek is reeds in 2009 gepubliseer. Sy het egter nie dié video gemaak om haar boek te verdedig nie, maar wel om haar “hart en die konteks van die boek” mee te verduidelik.

Die verhoudingskenner sê sy is bewus daarvan dat sy die afgelope tyd baie in die media was oor “uitsprake” in die boek.

Wiid word daarvan beskuldig dat sy homoseksuele mense veroordeel, verdoem en boonop nog verdere aantygings maak dat seuns en meisies gay word weens molestering, ʼn gebrek aan ʼn vader- of moederfiguur en wanneer seuns byvoorbeeld nie sportsoorte soos rugby beoefen nie.

Sy is vandeesweek deur talle mense, onder wie Gielie Hoffmann, die bekende geestesbreier en berader, by die Menseregtekommissie (MRK) verkla.

Hoffmann sê sy is roekeloos in die manier waarop sy jong mense probeer “inlig” en dit is kommerwekkend dat iets só ooglopend veroordelend teenoor homoseksualiteit gepubliseer is. Hy sê die grondslag van sy, en talle ander se klagte teen haar, is nie bloot nét haatspraak nie, maar dat sy ander se menswaardigheid aantas. Hoffmann sê dit is ook problematies dat sy homoseksualiteit ondergeskik aan heteroseksualiteit stel.

“Dit is skrikwekkend om te dink sy het die boek vir kinders tussen 10 en 13 jaar oud geskryf. Sy stel hulle myns insiens voor aan talle stereotipes en versterk dit tegelykertyd. ʼn Jong kind wat met sy seksualiteit wroeg, sal selfs meer vrae hê en moontlik uitgeworpe voel as hy eers die boek onder oë gehad het. En die feit dat dit in 2009 geskryf is, is nóg erger – dit beteken dis al vir agt jaar te koop.”

Die Menseregtekommissie het intussen bevestig hulle het verskeie klagtes ontvang, en is tans besig met ʼn ondersoek.

Wiid het in die video, wat teen Sondagmiddag meer as 50 000 keer gekyk is, ontken dat sy verdoemend was.

“Ek is nie hier om my boek of myself te verdedig nie – ek wil ʼn deel van my hart deel. Ek wil sê die saak [van homoseksualiteit] lê my baie nader aan die hart as wat mense besef. My broer is deel van die homoseksuele gemeenskap, en ons is baie na aan mekaar. Ek het deur familie na aan my die struggle en die alleenheid [van homoseksualiteit] leer ken, ek weet hoe kyk die samelewing na hierdie goed. Ek weet ook wat is die geestelike vraagstukke rondom hierdie ding.”

Wiid sê haar boeke is deur talle op sosiale media uit konteks gehaal.

“Die teikenmark van die boek was vir kinders van tussen 10 en 13 jaar oud. Dis nie ʼn literêre werk nie, en dis daarom ook so geskryf. Ek wou kinders leer en bemagtig. Ek het toe oor gay-wees en die stereotipes rondom dit ook gepraat in ʼn afdeling wat lui: ‘Wat beteken dit as iemand gay is?’ Ek sê daarin kinders verwys na gay mense as ‘moffies’ of ‘lesbiërs’, maar ek sê ook verder op bladsy 71 dat ons ʼn hart soos God moet hê, en dat dit dus nie oukei is om dit te doen nie. Ek het nooit gesê gay mense gaan hel toe nie. Ek het hulle nie verdoem nie.”

Wiid sê in die video sy het veral ook gefokus op die wreedheid wat soms by kinders voorkom, soos byvoorbeeld dat ʼn seun dalk gespot mag word omdat hy verkies om klavier te speel in plaas van rugby.

Wiid het veral deurgeloop oor ʼn frase in haar boek waar sy homoseksualiteit ondergeskik aan heteroseksualiteit voorstel.

Die paragraaf lui: “Ongeag wat die redes vir homoseksualiteit is (of jy nou met my saamstem of nie), dit bly hartseer. Sulke mense kan nooit op die normale manier kinders hê nie. En sou hulle kinders aanneem, sal die kinders nooit die wonderlike voorreg hê om ’n pappa én mamma te hê nie.”

Wiid het nie dié frase direk aangespreek nie.

Gielie Hoffmann (Foto: Facebook)

Sy sê egter die stereotipes wat sy in haar boek aanspreek, word verder ook verdraai. “Ek sê nie alle vroue wat koud staan in die huwelik is seksueel gemolesteer nie. Ek sê ook nie jy gaan lesbies wees as jy gemolesteer is nie en heeltemal andersom ook. Net so is alle seuns wat nie van sport hou nie, nie gay nie. Maar dis stereotipes, en dis waaroor die hoofstuk gaan. Juis om te weet dis nie oukei om met iemand te spot of naar te wees bloot omdat iemand anders is nie.”

Sy sê indien mense seergekry het “deur woordkeuses of die manier waarop die boek geskryf is”, wil sy daarvoor om verskoning vra.

“Ek wil nie op mense se tone trap nie. Ons as mense is baie onverdraagsaam. Ons luister nie meer na mekaar nie. Dit was hartseer om te weet hoe mense my vloek en slegsê en dinge oor my uitspreek. As ons kinders van die Here is, maak ons nie lelike uitsprake nie. Die hel en die hemel is nie my domein van uitspraak nie – ek het nooit gesê gays gaan hel toe nie, want dis nie my hart nie. Ons as kinders van die Here moet aanvaar ons vertolk dinge anders, en ons moenie bang wees vir mense wat anders is nie.”

Hoffmann meen egter hy is nié gelukkig oor die video nie, en beplan reeds om die video én notas daarvan ook na die MRK te stuur.

Hy sê sy slaag nie daarin om die kern van die probleem aan te raak nie – die feit dat sy ander se menswaardigheid aantas en ʼn worstelende kind selfs nóg meer gaan laat wroeg.

“Die manier en koers wat sy inslaan, is vir my gevaarlik, en ek dink die video rig nou selfs meer skade aan. Op die ou end is ek nie seker of sy nou om verskoning wil vra en of sy haarself verdedig nie. Ons sal maar vir die MRK se ondersoek moet wag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.