Grey-drama: Bekende oud-Grey as skoolbestuurder aangestel

Dries van der Wal en Deon Scheepers. Foto: Facebook via Grey College.

ʼn Tussentydse skoolbestuurder is vandeesweek deur die beheerliggaam van Grey Kollege Sekondêre Skool in Bloemfontein aangewys.

Henry Büchner, voorsitter van die skool se beheerliggaam, het Vrydag aan Maroela Media bevestig Dries van der Wal, wat in 2016 as adjunkhoof afgetree het ná 36 jaar se diens by Grey, is in dié posisie aangestel.

Van der Wal was sedert 1993 die koshuisvader van Leith Huis en was ook as breier van Grey se eerstespan verantwoordelik vir talle oorwinnings op die sportveld. Volgens schoolofrugby.co.za het Van der Wal 25 van Grey se 44 Springbokke sedert Suid-Afrika se hertoelating tot internasionale sport afgerig.

Dié reëling rakende Van der Wal se aanstelling geld tot 20 Augustus 2018, die dag waarop die saak van Deon Scheepers, skoolhoof van Grey wat in Mei vanjaar van sy beheerliggaam-pligte onthef is, in die hof aangehoor word om die beheerliggaam se besluit te laat herroep.

Büchner het vroeër gesê die “ingrypende bestuursbesluit” om Scheepers van sy beheerliggaam-pligte te onthef spruit uit “onherstelbare verbrokkeling van die vertrouensverhouding tussen Scheepers en beheerliggaam”.

Maroela Media het vroeër berig Scheepers het Maandag gesê die enigste oplossing wat die skool se beheerliggaam in die huidige mediasieproses aangebied het, is ʼn finansiële skikkingsaanbod met die voorwaarde dat hy onmiddellik moet bedank.

“As iemand wat nog my hele lewe in die onderwys is, met die missie en visie om te verseker dat Grey ʼn toonaangewende skool bly, is ʼn finansiële skikking nie ʼn oplossing vir die huidige situasie nie. Dit hou ook nie tred met die feit dat ek ʼn werknemer van die onderwysdepartement is en nie van die beheerliggaam nie,” het Scheepers in ʼn verklaring op sy Facebook-blad gesê.

Scheepers het voorheen aangevoer die mediasieproses op 30 Junie tussen hom en lede van die beheerliggaam was “ongelukkig” nie suksesvol nie. “Die opvolgmediasie wat op 7 Julie vanjaar sou plaasvind, het ook deur die mat geval. Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het nie die gesprekgeleenthede bygewoon nie,” het Scheepers onder meer gesê.

Büchner het in ʼn verklaring hierop gereageer deur te sê Scheepers is oneerlik wanneer hy beweer die bemiddelingsproses het op ʼn dooiepunt uitgeloop. “Die mediasie het Saterdag 30 Junie ʼn aanvang geneem. Tydens die proses het mnr. Scheepers vir uitstel gevra om ʼn moontlike oplossing te ondersoek en die partye het op uitstel tot Saterdag 7 Julie ooreengekom. Hy het egter Donderdag 5 Julie die beheerliggaam in kennis gestel dat hy hom aan die mediasieproses onttrek. Die bewering dat die mediasie dus onsuksesvol was en op ʼn dooiepunt uitgeloop het, is onjuis,” het Büchner vroeër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Geregtigheid ·

Dis die beste nuus wat ek die jaar gehoor het. Geluk aan Grey en dankie aan die beheerligaam vir julle insette en toewyding om die Grey probleem op te los of nog beter— om van die Grey probleem ontslae te raak

Linda ·

Beheerliggame moes al lankal uitgeskop geword het by skole, dis net een groot klug en n gekruipery. As jou pa goedkoop buitebande verskaf, word jou kind n leier, of jou ma dra terte, koekies en gazebos aan is jy in die Top 10. Dan vat die beheerliggaam se persoon ‘advantage’ van die hoof en sake versuur. Dit gebeur orals in skole op laerskool asook H/skool !!! Juis om hierdie rede was al 3 my kinders in top Privaatskole en ek het nooit n gekruipery en n geboelie gehad met my kinders nie !!!!!!

Francois le Cochon ·

Ek verstaan nie hierdie situasie nie. ‘n Skoolhoof word deur die Dep v Onderwys betaal om SBL pligte uit te voer en ‘n SBL by te staan (PAM beleid). Die SA Skole wet verplig ook ‘n skoolhoof om alle SBL vergaderings by te woon, As die skoolhoof nie ‘n SBL vergaderings bywoon nie, is die vergaderings ongeldig. ‘n SBL kan wel ‘n addisionele pos skep, en ‘n staats onderwyser daarin aanstel in term van Art. 38A, solank die pligte van daardie pos nie dieselfde is as waarvoor die DvO die onderwyser alreeds vergoed nie. In terme van die SA Skolewet mag ‘n SBL nie skoolgeld gebruik om iets soos ‘n skikkingsaanbod te maak nie. Soos dit vir my lyk misbruik die SBL hul magte en die skoolgeld.

liendempers ·

Hier is verseker n probleem by die skool en daar is soveel gevalle van boelie en aanranding wat net onder die mat ingevee word. Om die in beheer net so ver te kry om iets aan die probleem te doen, is n yslike gesukkel. My seun het net n jaar oor. As ek nou n seun gehad het wat graad 1 begin, sou dit definitief nie in Grey gewees het nie. Vra die seuns een vir een of hulle enige respek vir Scheepers het………..

CJ ·

Uit die min inligting tot my beskikking, kan ek net my kop skud in verwondering. Francois is heeltemal reg i.t.v. die PAM en SA Skolewet 84 van 1996. Kyk ek verby die emosies, bly daar vir my n paar vrae oor: (a) Is die Dept van Onderwys ontevrede met Scheepers se werk? Indien wel, sit die SBL met n probleem, want hulle is nie Scheepers se werkgewer nie. Indien die SBL n addisionele vergoeding aan Scheepers bet ingevolge Art 38 van die Skolewet, mag hulle dit staak. Alle klagtes teen Scheepers deur die ouers aanhangig gemaak, moet egter deur die Dept van Onderwys ondersowk word. So nie alles maak vir my n duidelike prentjie nie. Daar kort n hele paar legkaartstukke. Ek voel opreg jammer vir die personeel, kinders en ouers vd skool. Sterkte

volla ·

Natuurlik was die mediasieproses onsuksesvol. As die partye ter enige tyd onttrek of nie kan ooreenkom nie, dan is daar geen skikkingsooreenkoms nie en die mediasieproses onsuksesvol. Die skoolhoof is heeltemal korrek.

Naas ·

Hier is duidelik ‘n paar Skolewet kenners onder die kommentators, maar dit is te veel moeite om te lees. Ek onthou ‘ n koerantbrig wat Grey matriekresultate skokkend laag binne die relevante distrik plaas om nie eers van die Vrystaat te praat nie. As ‘n mens aanvaar dat jy jou kind in Grey sit om ‘n professionele sportman te word en nie om ‘n kwalifikasie te verwerf nie moet jy tog steeds beserings en die feit dat hy dit moontlik net nie gaan maak nie in gedagte hou. Wie ook al die skoolhoof is of behoort te wees moet sorg dat skoolhou, kennis en punte ‘n prioriteit word.

Toon ·

Wat het Dries se springbokke met sy bekwaamheid uit te waai??? Tyd dat julle kinders leer en ophou sport

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.