Grey-leerders in kwarantyn kan nou tuis isoleer

Personeel se temperatuur word gemeet by Grey-kollege in Bloemfontein. (Foto: Verskaf

Negentien leerders aan Grey Kollege Sekondêre Skool in Bloemfontein wat vandeesweek in kwarantyn geplaas is nadat ’n medeleerder positief getoets het vir Covid-19, kan nou tuis selfisoleer.

Dié aankondiging is gedoen nadat hulle deur die departement in ʼn gastehuis geplaas is en glo nie besoekers mag ontvang het nie. Maroela Media het vroeër berig dele van die skool word ontsmet nadat ʼn leerder positief vir Covid-19 getoets het. Die leerder is van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal.

Willie Spies, die burgerregteorganisasie AfriForum se regsverteenwoordiger, het Donderdag ’n prokureursbrief aan dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gerig.

Spies het in dié brief versoek dat die leerders toegelaat word om tuis te selfisoleer.

“AfriForum beskou dit as ’n reuse-oorwinning vir die regte van die kinders en hul ouers, maar ook vir almal wat in dié tyd aan magsvergrype van die staat blootgestel word,” het Carien Bloem, bestuurder van onderwys by AfriForum, Donderdag in ’n verklaring gesê.

Volgens Bloem is die seuns, almal koshuisinwoners, vandeesweek deur staatsamptenare na ’n gastehuis naby die skool verskuif om daar in kwarantyn gehou te word. “Hul ouers is in kennis gestel dat die kinders vir die volgende 14 dae ‘die eiendom van die staat sal wees’ en nie besoekers mag ontvang nie.

“Waar hulle in die koshuis in enkelkamers gehuisves is, is hulle boonop drie tot vier saam in ʼn kamer in die gastehuis geplaas, wat die handhawing van sosiale afstande onmoontlik gemaak het. Hulle is dus eerder in gevaar gestel om die virus aan te steek as om hulle daarteen te beskerm,” het Bloem gesê.AfriForum,

Volgens Bloem het die amptenare se optrede in hierdie geval die leerders en ouers se regte geskend en het die amptenare ’n hofbevel van 3 Junie 2020 verontagsaam. Dié bevel bepaal dat selfisolasie ’n opsie moet wees vir mense wat positief vir die virus toets of in kontak was met iemand wat positief getoets het, indien hulle verkies en oor die vermoë beskik vir selfisolasie.

“AfriForum is dankbaar dat geregtigheid geseëvier het en die leerders nou veilig in hul ouers se sorg teruggeplaas word,” het Bloem gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Niemand kan die staat se eiendom wees nue. Waar kom hulle daaraan? Die is komunisme in sy ergste graad! Dankie Afri forum. Sterkte aan die kinders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.