Grey-sage: Hoof van laerskool bedank uit SAOU

Jurie Geldenhuys. Foto: Facebook.

Jurie Geldenhuys, die hoof van Grey Kollege Primêre skool in Bloemfontein, het Dinsdag sy bedanking uit die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) aangekondig.

Paul Sauer, voorsitter van die SAOU in die Vrystaat, het dié nuus aan Maroela Media bevestig en gesê die onderwysersunie het Dinsdag sy bedankingsbrief ontvang.

Geldenhuys se bedanking spruit glo daaruit dat die SAOU besluit het om toe te tree tot die hofsaak van Deon Scheepers, skoolhoof van Grey Kollege Sekondêre Skool. Scheepers het ʼn hofaansoek teen Grey Sekondêr se beheerliggaam ingedien om die besluit van 15 Mei om hom van sy beheerliggaampligte te onthef ongeldig te laat verklaar.

Henry Büchner, voorsitter van die skool se beheerliggaam, het vroeër gesê die “ingrypende bestuursbesluit” om Scheepers van sy beheerliggaampligte te onthef spruit uit “die onherstelbare verbrokkeling van die vertrouensverhouding tussen Scheepers en die beheerliggaam”.

Sauer het gesê hy wil dit onomwonde stel dat die SAOU nie kant kies nie en dat dit vir hulle bloot oor die wettigheid van die beheerliggaam se besluit gaan. “Dit is vir ons ʼn beginselbesluit. Ons wil die howe net inlig sodat daar uitsluitsel kan kom aangesien dit ook ʼn invloed op ander skole, ander hoofde en ander beheerliggame en lede kan hê,” het Sauer gesê.

Geldenhuys het glo in sy bedankingsbrief aangevoer dat die SAOU hom nie te hulp gesnel het toe die departement van onderwys hom ernstig daarop gewys het dat hy hoof van twee skole was (in die tyd toe hy as tussentydse skoolbestuurder by Grey Sekondêr aangestel is) terwyl hulle hom net vir een pos aangestel het nie.

“Ons het uit die oogpunt geredeneer dat hy daardie beheerliggaam se aanbeveling self aanvaar het,” het Sauer gesê.

Volgens Geldenhuys is daar glo al vir ʼn lang tydperk nie gehoor gegee aan sommige van die Grey-personeel se griewe nie.

Sauer meen dit is belangrik om ʼn onderskeid te tref tussen amptelike en nieamptelike griewe. “Al die amptelike griewe/navrae wat deur die SAOU vanaf Grey HS se personeel ontvang is, is hanteer.”

Maroela Media het vroeër berig Scheepers se hofaansoek sal na verwagting 20 Augustus aangehoor word.

Dries van der Wal, wat in 2016 as adjunkhoof afgetree het ná 36 jaar diens by Grey, neem tans as tussentydse skoolbestuurder by Grey Sekondêr waar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Paul ·

Dit gaan nie daaroor dat die SAOU, soos hulle aanvanklik gesê het hulle tot die hof wil toetree maar nie kant sal kies nie, dit aan daaroor dat daar agtergekom is dat hulle nou in die hof saam met Scheepers die beheerliggaam gaan teenstaan! Juis daardie mense met wie Scheepers ‘n onherstelbare vertrouensbreuk het.

Willem ·

Tring-tring-tring …… tring-tring-tring …… Lesufie, is dit jy? Jaaa? Mr Lesufie, my naam is Koos uit die Rosestad, ons het hier ‘n kollosale probleem by ‘n skool waar witmense die probleem tussen die voormalige skoolhoof en die beheerraad nie kan oplos nie, wil jy nie asseblief kom uithelp nie? Ek meen nou, jy het massiewe kennis die afgelope paar jaar in Gauteng opgedoen. Ons vra net advies, nie dat jy moet inmeng nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.