Grey-skoolhoof: ‘Finansiële skikking geen opsie’

Deon Scheepers, hoof van Grey Kollege Sekondêre Skool in Bloemfontein. Foto: Facebook

Deon Scheepers, die skoolhoof van Grey Kollege Sekondêre Skool in Bloemfontein, het Maandag gesê die enigste oplossing wat die skool se beheerliggaam in die huidige mediasieproses aangebied het, is ʼn finansiële skikkingsaanbod met die voorwaarde dat hy onmiddellik moet bedank.

“As iemand wat nog my hele lewe in die onderwys is, met die missie en visie om te verseker dat Grey ʼn toonaangewende skool bly, is ʼn finansiële skikking nie ʼn oplossing vir die huidige situasie nie. Dit hou ook nie tred met die feit dat ek ʼn werknemer van die onderwysdepartement is en nie van die beheerliggaam nie,” het Scheepers in ʼn verklaring op sy Facebook-blad gesê.

“So ʼn moontlike skikking sal nie in die beste belang van die skoolgemeenskap wees nie. Dit skep ook ʼn gevaarlike presedent vir onderwys in die hele Suid-Afrika oor tot waar die grense van ʼn beheerliggaam strek as dié ʼn geskil met die skoolhoof en die skool se senior bestuurslui het.”

Maroela Media het vroeër berig Scheepers het aangevoer die mediasieproses op 30 Junie tussen hom en lede van die beheerliggaam was “ongelukkig” nie suksesvol nie. “Die opvolgmediasie wat op 7 Julie vanjaar sou plaasvind, het ook deur die mat geval. Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het nie die gesprekgeleenthede bygewoon nie,” het Scheepers onder meer gesê.

Henry Büchner, voorsitter van die skool se beheerliggaam, het in ʼn verklaring hierop reageer deur te sê Scheepers is oneerlik wanneer hy beweer die bemiddelingsproses het op ʼn dooiepunt uitgeloop. “Die mediasie het Saterdag 30 Junie ʼn aanvang geneem. Tydens die proses het mnr. Scheepers vir uitstel gevra om ʼn moontlike oplossing te ondersoek en die partye het op uitstel tot Saterdag 7 Julie ooreengekom. Hy het egter Donderdag 5 Julie die beheerliggaam in kennis gestel dat hy hom aan die mediasieproses onttrek. Die bewering dat die mediasie dus onsuksesvol was en op ʼn dooiepunt uitgeloop het, is onjuis,” het Büchner vroeër gesê.

Scheepers het Maandag gesê hy verbind hom daartoe om “enigiets te doen tot die beswil van Grey”.

Volgens hom sluit dit mediasie of enige ander oplossingsgedrewe gesprekvoering in ten einde die beste belange van die skool te bevorder. Scheepers voer aan hy glo werklik dat opregte bemiddeling tussen hom en die beheerliggaam ʼn moontlike hofgeding kan voorkom.

Vir die bemiddelingsproses om suksesvol te wees, is die volgende kriteria egter volgens Scheepers noodsaaklik:

Bemiddeling kan alleen plaasvind aan die hand van ʼn vooropgestelde agenda waaroor die bemiddeling moet handel sodat albei partye die geleentheid het om hulle daarop voor te berei, in belang van die skool.

Die vroeëre besluit van die beheerliggaam wat hom van sekere pligte onthef, moet herroep word, ten minste tot ná afhandeling van die bemiddelingsproses.

Sy vakbond, SAOU, wat tans ʼn party in die hangende hofsaak is, moet ook in die bemiddelingsproses in ag geneem word en die onderwysdepartement wat sy werkgewer is, moet deel van die bemiddelingsproses vorm.

Laastens moet albei partye vooraf op ʼn onafhanklike voorsitter ooreenkom.

“Ek het groot waardering en hoë agting vir die huidige mediasievoorsitter, en is dankbaar vir die onpartydige rol wat hy tot dusver in die mediasieproses gespeel het. Dit is egter belangrik dat ʼn onafhanklike eksterne persoon, wat nie betrokke by die skool of vertroud (persoonlik of andersins) met enige van die partye is nie, wel hierdie dispuut wat tans bestaan sinvol en in belang van die skool kan medieer.”

Büchner het vroeër gesê die mediasieproses is gelei deur ʼn appèlregter wie se goeie naam onberispelik is en wie se onafhanklikheid bo alle verdenking is.

Scheepers meen as Grey die fokuspunt van al die partye bly en persoonlike geskille opsy geskuif word, kan die bemiddelingsproses slaag en die hofsaak vermy word.

Hy sê die verdeling van ʼn skoolhoof se bestuurs- en professionele pligte skep onsekerheid en ʼn onuithoudbare situasie. “Dit strek nie tot voordeel van Grey en die skoolgemeenskap nie. Ek doen dus ʼn ernstige beroep op die beheerliggaam om alle besluite hieraan te meet én te neem namate sulke besluite die skool sal verenig en sterker in die samelewing sal vestig.”

Die saak sal dus na verwagting 20 Augustus in die hof aangehoor word en die persoon wat as tussentydse skoolbestuurder met ingang 17 Julie waarneem, sal eersdaags aangekondig word.

Büchner het Maandagoggend aan Maroela Media gesê hy wil nie onmiddellik kommentaar lewer nie, maar eers met belanghebbendes vergader voordat die beheerliggaam moontlik sal reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Nee wat ·

Ons, die publiek weet nie regtig wat alles aangaan nie, maar uit ondervinding, aanvaar eerder die skikking & gebruik jou energie by ‘n skool wat dit kan waardeer. Op die einde van die saak, stoei jy al jou geldjies weg op regskoste, jou eer heeltemal down the drain – vat en loop en laat hul dan maar self sukkel of wat hul ookal wil doen. As hul eers so begin, hou dit nie op nie.

Grey ·

Hoe skik jy met ‘n party wat nie jou werkgewer is? Betaaal die Dept van Onderwys die regskoste?

Klink my al hoe meer daar is drie kante verbonde aan hierdie saak.

Geregtigheid ·

Grey
Miskien moet die beheerligaam al sy ekstra geldelike voordele en behuising met onmiddelike effek stop. Skop hom uit die ere huis. Scheepers doen Grey se naam nou meer skade aan. Hy is uit om vir Grey naam af te breek as hy nie sy sin kry nie.

Ellisras ·

Moet my asb nie kruisig nie. Maar dit lyk nie of een van die 2 partye 100 % eerlik is in die saak nie. Dit gaan meer oor persoonlikhede as oor die feite.

Nettie ·

@Nee wat, ek stem: as buitestaanders, weet ons glád nie wat in die “binne-gevegte” aangaan nie, dus sou dit onregverdig wees om kant te kies.

As ek egter mnr. Scheepers was, sou ek gesê het: “Gaan julle aan, gooi modder soveel julle wil, ek vat my goed en trek. Onderwys is my passie en êrens sal daar ‘n skool wees wat my vaardighede en kennis wel kan waardeer, as julle dan nie kan nie”.

Tensy hy natuurlik skuldig is aan die een of ander oortreding en dit weggesteek word vir Jan Publiek ………

Oujongvrou ·

Hierdie skool beheerliggame is n onding. Doen weg met die spul. Dis oor die algemeen n kliek. Dis ” the who’s who”wat hulle verbeel hulle kan die skool beheer oor hulle posisies en geld het. Dis soos n hoenderhaan wat tussen eende op n dam wil gaan kraai. Loop kry ander mishope om te gaan kwaad steek en lawaai. Eks verstom dat die onderwysdepartement die klas van ding duld

Oujongnooi ·

Beheerliggame is die behoud van die meeste behoorlike eerste wêreld skole. Daar is wel hier en daar ‘n vrot appel. Kyk maar is Gauteng is beheerliggame die enigste wat die tiran van ‘n Lesufi teenstaan.

Rupert Ashford ·

Die alternatief? Dink jy 100% beheer deur die departement van onderwys is die oplossing?

Wessel ·

As hy dan so adamant is, waarom doen hy nie om ‘n pos elders aansoek nie?? Koop sommer jou eie skool.

Geregtigheid ·

Scheepers sal vashou solank as wat hy kan. Met ‘n skoolhoof salaris plus R500 000 bonus van Grey en twee sponser voertuie (Merc en BMW) sal ek seker maar ook vasbyt tot ek nie meer kan nie. Die tyd het gekom dat die beheerligaam al die feite op die tafel sit sodat die bom moet bars en klaarkry. Scheepers is by Grey vir eie gewin en nie vir die kinders se opvoeding nie. Die tyd het ryp geword dat Scheepers sy ry kry en iemand kans gee wat goed met mede onderwysers en kinders kan werk.

Boerseun ·

Ek dink die ondewyser will sekere transformerende aksies in werking stel wat die ouers nou kwaad het

Wessel ·

Ek was destyds toe ek 53 jaar oud was “geherstruktureer” ek was nie ge-BEE nie, ek was sommer net gefire om vir die nuwe SA plek te maak. Nou vra ek, hoe kan ek die proses omdraai, hoe kan ek my ou werk terug kry?

@ Wessel ·

So hartseer soos dit is, draai weg daarvan jy gaan nie jou werk terugkry nie. Dit is vir my so tragies dat mense wat goeie lewens gely het agv BEE onskuldig hulle werk moes verloor, ek is al TWEEKEER ge-retrench by parastatals .. ja ja .. meeste vingerwysers sal sê die fout le by my, maar ons was elke keer ‘n hele groep, ek laat my nie vertel die fout lê by ons as werkers nie. Ek het egter aangestap en het elke keer weer ‘n goeie werk gekry en gaan nou aan met my lewe … Dit is baie erg want ek mis my ou werk omdat ek lief was vir die werk . dit het nie net oor ‘n salaris gegaan nie .. Ploeg voort is al wat ek vir jou kan vra .. moenie terugkyk nie . dit is soos was wat smelt .. jou kersie brand later al hoe flouer.

J ·

Beheerligame is n ewil in alle skole. Vat weg onmiddelik spandeer eerder geld om extra klasse te gee en leermiddels aan te vul en helo kinders daarmee wat n agterstand het.

J ·

Doen weg met alle beheerligame in alle skole. Gebruik geld om leermiddels aan te vul en gebruik vir xtra klasse.

Geregtigheid ·

Die beheerligaam is uiters nodig as daar ‘n magsiek skoolhoof is wat alles met ‘n ysterhand wil domineer.

Flooi ·

Word beheerliggaamlede betaal?? Nie by ons nie!! Hulle gee hulle tyd vir die behoud van die skool almal het ander beroepe en moet dus ekstra tyd en moeite maak vir vergaderings en die nodige dinge gedoen te kry. Dus verstaan ek nie wat jy bedoel met spandeer ekstra geld op ekstra klasse en hulpmiddels nie. Ons beheerliggaam sorg dat da genoeg geld is sodat ons klein plaasskooltjie kan voort bestaan. Ek glo ‘n beheerliggaam is baie belangrik dis wel hoe die hoof van die skool dinge doen wat maak of hulle saam werk of teen mekaar werk!!

Rupert Ashford ·

As ek so na Mnr Scheepers se kommentaar kyk, lyk dit of hy slegs tot mediasie met ‘n voorafbepaalde uitkoms belangstel? Soos julle se weet ons nie wat hier aangaan nie, maar sy standpunt klink nie vir my na iemand wat in goeder trou onderhandel nie.

Opvoeder ·

Eenheid in leierskap is van alleruiterste belang in die lewe en groei van enige instansie. Leiers behoort te alle tye met groot omsigtige wysheid te lei. Volwassenes behoort konsekwent volwasse op te tree. Enorme skade word veral in talle areas berokken aan leerlinge en personeel van ‘n opvoedingsinstansie terwyl leiers onwys verskil. Elke woord en elke besluit bou of breek af, word ‘n direkte voorbeeld vir leerlinge, personeel en samelewing om na te volg. As ouers probleme ondervind met ‘n leerkrag, watter posvlak ookal, behoort die werkgewer, nl die Departement van Onderwys, indringend betrek te word op grond van alle feitelike bewyse. Daarna is dit die grootse verantwoordelikheid van die werkgewer om die saak in diepte te ondersoek en uitsluitsel te verskaf, aangesien die betrokke leerkrag as werknemer eerstens verantwoordelik is aan sy/haar werkgewer. Die beheerraad kan ‘n beduidende bydrae lewer tot so ‘n in diepte ondersoek, maar na alles is slegs die werkgewer in staat om dienste op te skort of te laat voortgaan. Waar dit werklik in alle erns slegs gaan oor die belang van die kosbare kern van ‘n skool nl die leerlinge, sal alle leiers, hetsy skoolhoof of beheerraadslede, dié wees wat DIEN. Laat staan u verskille en beskerm die kudde.

Rupert Ashford ·

Probleem is die Dept is nie deesdae noodwendig ‘n vriend van uitnemendheid nie.

LR ·

Die probleem is dat die onderwysers en leerders vir die een of ander rede nie respek vir die man het nie.
Self van die publiek buite die skool wat al met hom te doen gehad het kan nie verstaan hoekom hy ooit aangestel is nie.
In mnr Volsteed se tyd was dit heeltemal anders. Kinders en onderwysers het geweldige groot respek vir hom gehad en hy vir hulle.
Blykbaar is die dep ook oor hom bekommerd omdat Grey n skool is waarmee die VS dep mee kan spog.
Aangesien hy self erken dat die Dep eintlik sy werkgewer is, is dit mos nou maklik. Sy werklike werkgewer moet hom net herontplooi, na n ander skool of na die dep self.
Hy is dan nou kwansuis so bekommerd oor die skool, die uitslag moet tot voordeel van die skool wees.
Indien hy die pad vat sal dit beslis tot groot voordeel van die skool wees.

Wonder nou net ·

Hoe gebeur dit dan dat ‘n hoof daar aangestel word? Het hierdie einste beheerraad nie ook ‘n sê daaroor gehad nie? Mens sou dink dat daar twee, drie, vier maal gedink en deur en deur gekeur sou word voordat enige personeellid by so ‘n befaamde skool aangestel word…

Koos ·

Ja-nee, mens wonder. Het hy dan só suksesvol ieder en almal die rat voor oë gedraai om die pos daar te kry? Toe draai dit nou so sleg uit… Vreemd.

Wessel ·

Smile, an everlasting smile
A smile can bring you near to me
Don’t ever let me find you gone
Cause that would bring a tear to me
This world has lost it’s glory
Lets start a brand new story
Now my love
You think that I don’t even mean
A single word I say…
It’s only words
And words are all I have
To take your heart away

Ai ·

Hoekom was die skoolhoof die vuil wasgoed in die openbaar as hy die skool voorop stel? Maak nie sin nie.

Tom ·

Ons weet nie wat hier aangaan nie. Die hoof word nou gedwing om skuld te erken, die geld te vat en te loop. Kom eers agter die kap van die byl en spring dan op en af. As daar iets ongeruimd is moet dit uitkom. As die hoof nou dinge doen of gedoen het, wat dalk die beheerraad in die kropsteek, hoekom sê die beheerraad dan nie. Beheerrade is in ‘n toesighoudende posisie en as hulle ‘n probleem met die hoof het is dit hulle plig om by die departement te gaan kla en nie by die koerant nie!

Leerkrag ·

Presies. Gaan kla by die regte plek; by dié wat die outoriteit het om op te tree. Om ander in die openbaar te verneder, is ‘n gejaag na wind. Mense met integriteit werk op die regte manier volgens die regte kanale.

honourable member ·

Beheerliggame in skole is n onding. Dis n handjie vol mense wat dink hulle besit die skool en wil die skoolhoof regeer. Geen doel vir n beheerliggaam…

Tom ·

Nie heeltemal waar nie. In die verlede het hulle darem onder andere toegesien dat die christelike opvoeding en beginsels gehandhaaf word, veral in die afrikaanse skole. Deesdae is dinge effe anders maar as hulle die regte beheer toepas en nie afdwing nie kan hulle bestaansreg nog geregverdig word.

Juffrou ·

Ek wonder ook waarom die skoolhoof hom tot facebook wend. Klink vir my na goedkoop sensasie soek. Maar ek weet ook uit eie ervaring: as vertrouensbreuk tussen BL en skoolhoof eers plaasgevind het, is daar min remedies oor. ‘n BL kan wonderlike ondersteuning aan ‘n skoolhoof bied, mits dit op wedersydse respek gefundeer is – wat duidelik nie meer by Grey die geval blyk te wees nie. Dis hartseer en soveel mense se lewens word hierdeur geraak. Kry so gou moontlik hierdie saak afgehandel ter wille van die breër skoolgemeenskap – skuif nou maar die ou egotjies eers bietjie opsy Mnre en dames

Reguit ·

Ek stem saam oor facebook sensasie soek. Ek verwag meer van ‘n die skoolhoof. Van die probleem leerlinge is vriende met Scheerpers op FB. Ek het ‘n probleem daarmee.
As Scheerpers regtig vir Grey leerlinge en mede onderwysers omgee sal dit in sy dade gesien word. Scheerpers is uit om Grey se naam deur die modder te sleep en soek ondersteuning op FB waar net hy sy kant stel. Raak vinnig ontslae van hom.

HARTSEER ·

As oudskolier van hierdie uitmuntende instelling is dit hartseer om te sien hoe een man se ego die hele instansie beklad. Sosiale media uitsprake en afstelling van afsprake dra m.i. die karakter van lafhartigheid en selfsug. Ek weet egter dat geen mens groter as Grey is nie, aangesien ons `n familie van broers is, gedryf deur die liefde vir ons alma mater. Ons sal toesien dat ons kosbare erfenis bewaar word, ongeag die swaar tye en smeerwerk van ander! Grey is gewoond om deur elke Jan Raap en sy maat verkleineer te word.

Geregtigheid ·

25 onderwysers saam die beheer raad is teen Scheepers sonder die draadsitters. Ek sal graag wil weet hoeveel leerders en ouers is ook moeg vir Scheepers?
Verseker het Grey rede om dan van Scheepers ontslae te raak. Die tyd het aangebreek vir ‘n Nuwe Begin by Grey en dit sonder Scheepers

kas ·

Ek sal graag wil weet,wat is in die beste belang van Grey se leerlinge.Die voortslepende onmin of Mnr Scheepers se bedanking.Duidelik is hy nie meer so gewild by die skool nie en dink hy aan sy maandelikse salaris wat hy gaan verloor as hy bedank.Dit is tragies en die kinders gaan daaronder lei.Kan die ouers nie iets doen nie?

Adam ·

Alhoewel onsmaaklik, vind ek die geveg heel amusant. Mnr Scheepers was uiteraard onderwerp aan deeglike keuring voor hy aangestel is. Hoe is dit moontlik dat hy ewe skielik so “sleg” geword het? Die vraag word tereg gevra hoekom daar na sosiale media gehardloop word, maar die teenkant van die muntstuk is dat die beheerliggaam die media ingespan het om hul vuilwerk te help doen. Die aangeleentheid moes deurlopend en ten alle koste ‘n interne een gebly het. nog meer vreemd is die feit dat Mnr Scheepers ‘n finansiele skikking aangebeid word in ruil om te bedank. Die enigste logiese afleiding is dus dat hy nie iets gedoen het wat sy ontslag regverdig nie en probeer die BL hom “koop” om hulle sin te kry. Nie een van die twee partye beklee hulself met glorie nie, maar Grey se oud-leerders, wie graag hulself sien as ‘n spesiale sub-spesie, tree waarskynlik op in terme van ‘n agenda waarvan ons nie bewus is nie. Ons het tydens Mnr Volsteedt se bewind gesien hoe oud-Grey leerders ook skandes maak en dan die invloed van die duiwel blameer. In die geval word Mnr Scheepers as die “duiwel” voorgehou en op ‘n balans van waarskynlikhede is ek nie oortuig dat dit summier as korrek aanvaar kan word nie.

Stem ·

Stem saam met jou Adam. Ek het al persoonlik gesien hoe advokate en ander “slim en hoogaanstaande” mense op ‘n beheerliggaam ‘n skoolhoof se lewe ruineer agv hulle persoonlike gevoelens teen die skoolhoof. Vergaderings is met ouers belê om hulle op te stook teen die hoof voor die vergadering waar die hoof sy kant kon stel aan die ouers. In so ‘n saak behoort albei partye tog ‘n regverdige kans te hê om sy kant te stel. Ongelukkig werk dit nie altyd so nie. Ek hoop regtig in hierdie geval sal geregtigheid en regverdigheid geskied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.