Grey-skoolhoof hof toe oor beheerliggaam se besluit

Deon Scheepers, hoof van Grey Kollege Sekondêre Skool in Bloemfontein. Foto: Facebook

Deon Scheepers, hoof van Grey Kollege Sekondêre Skool in Bloemfontein, gaan ʼn hofaansoek bring teen die bevinding van die skool se beheerliggaam om hom van al sy beheerliggaam-pligte te onthef.

Hannes Peyper, prokureur van die firma Peyper Prokureurs in Bloemfontein wat Scheepers verteenwoordig, het aan Maroela Media gesê die hofstukke sal Woensdag ingedien word. Volgens hom is hy van voorneme om die aansoek op 8 Junie te argumenteer in die hof.

Maroela Media het vroeër berig Henry Büchner, voorsitter van die skool se beheerliggaam, het op 15 Mei in ʼn verklaring gesê dié “ingrypende bestuursbesluit” om Scheepers van sy beheerliggaam-pligte te onthef kom weens ʼn onherstelbare verbrokkeling van die vertrouensverhouding tussen Scheepers en die beheerliggaam. Volgens Büchner het alle pogings om die geskille tussen die twee partye te besleg op ʼn dooiepunt uitgeloop.

Peyper het gesê dat Scheepers nie Saterdag die derby tussen Grey en die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria bygewoon het nie. “Hy kon nie gaan nie, want hy mag mos nou geen kultuur- of sportgeleenthede bywoon nie. Dit is vir hom baie sleg en vernederend,” het Peyper gesê.

Grey se eerstespan het Affies met 39-28 geklop tydens dié derby.

Peyper het wel bevestig dat Scheepers sedert Maandag terug is by die skool.

Scheepers het in Januarie 2013 die leisels as skoolhoof by Johan Volsteedt oorgeneem. Volgens berigte was daar jare lank onmin tussen Scheepers en die skoolbeheerliggaam.

Büchner het nie in die verklaring uitgebrei oor die aard van die “geskille” met Scheepers wat tot die besluit van die beheerliggaam gelei het nie. Hy het wel aangedui dat in ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse Skolewet ʼn skoolhoof verantwoordelik is vir die bestuur van akademiese aktiwiteite by die skool, maar dat alle ander funksies, regte en bevoegdhede wat die skoolhoof uitoefen, deur die beheerliggaam aan hom gedelegeer word. “Hy moet hieroor en ook oor die plig van onderrig-bestuur aan die beheerliggaam verslag doen,” het Büchner gesê.

Volgens Büchner sal Jurie Geldenhuys as tydelike skoolbestuurder optree om die pligte wat van Scheepers weggeneem is uit te voer totdat ʼn langtermyn-oplossing gevind kan word. Luidens die verklaring sluit dié pligte onder meer in die bestuur van die skool se buite-kurrikulêre program soos sport en kultuur, die bestuur van die skool se finansies, die bestuur van die skool se terrein en bates insluitend die koshuis, bestuur van personeel ten opsigte van nie-akademiese aktiwiteite, asook interne en eksterne kommunikasie.

“Mnr. Scheepers as werknemer van die Vrystaatse onderwysdepartement sal voortgaan met sy professionele plig as skoolhoof, beperk tot slegs dié bevoegdhede wat aan hom toegewys is in terme van die Skolewet,” het Büchner gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

honourable member ·

Sterkte meneer. Veg vir waarin jy glo. Hierdie mense moet weet hulle kan nie maak en breek soos hulle wil omdat hulle dink hulle is belangrik nie.

Francois le Cochon ·

Ja, die meeste mense van op trustees en beheerrade dien steur hulle nie aan Romeine 12 vers 3 nie.

Slim vang sy baas ·

Wonder of jy en ook die arme Peyper prokureurtjie weet wat regtig hier aangaan en hoeveel ander hofsake daar tans teen die skool hangend is agv die optrede van hierdie hoof. Hou net die koerante in die nabye toekoms dop….. slim vang altyd sy baas!!

Francois le Cochon ·

Volgens die Dept van Onderwys se PAM (Personnel Administration Manual) beleid, is ‘n skoolhoof se pligte nie beperk net tot die akademie, soos hierdie SBL dit wil he^ nie, maar spesifiseer die PAM beleid ook dat ‘n skoolhoof ekstre kurrikulere pligte het. ‘n SBL kan dus nie ‘n skoolhoof onthef van sy pligte wat deur die DvO vereis word, en waarvoor die DvO hom voor vergoed nie.

Francoid le Cochon ·

Skuus, PAM = Personnel Administration Measures

Cheetah ·

Ons weet nie wat die rede was vir die besluit nie

Het al uit ondervinding gesien dat daar skoolhoofde is wat homself as “DIE SKOOL” voordoen.
Hy wil maak en breek soos hy wil.

Die Onderwysdepartement is ook nie die skool nie. Hulle het beperkte regte

Hier is waar hy moet besef dat hy ‘n werknemer is en dat die beheerliggaam die ouers verteenwoordig en hulle betaal om die kinders by die skool te laat onderig en aan Sport en Kultuur te laat deelneem.
OUERS KRY DIT NIE GRATIS NIE. — HULLE MOET DUS OOK GEHOOR WORD

As ‘n werknemer koppe wil stamp met sy werkgewer, gaan hy onthef word van die pligte wat daardie wergewer aan hom opdra.

Werknemers is ook vervangbaar

Juffrou ·

Min wenners en baie verloorders as dinge al só ver gevorder is. Was eenkeer op personeel waar Beheerliggaam hoof probeer “uitwerk” het. Bring spanning en onsekerheid asook verdeeldheid onder personeel wat JARE daarna nog letsels wys. My innige simpatie met alle onskuldige partye wat by só n situasie betrek word.

Johann ·

Wonder watter ongemaklike vrae het die Hoof begin vrae rondom bv FINANSIES by Grey? Vra ek bloot…

Cherokee ·

Sit stil klas en luister. As julle nie weet nie, konsentreer en leer. Moet nie aanmerkings maak terwyl julle nie weet waarvan julle praat nie. Ek het nie ‘n idee wat daar aangaan nie, of die hoof, beheerliggaam of res van die ouers, die drama veroorsaak het nie. Weet nie waaroor dit gaan nie. Ook nie juis ernstig geïnteresseerd nie want dit gaan my nie aan nie. Sit stil klas en luister, dan sal julle meer uitvind.

ja-nee ·

Hou aan met julle simpel binnegevegte. Julle gee die regering net meer skietgoed om van SBL’e ontslae te raak en sodoende allalle seggenskap oor ons skole te kry :-(

Jane ·

Roer hulle, moet NIE onder die druk van die beheerliggaam swig nie .. seker weer een of ander seuntjie wat nou nie eerste span gekry het nie of wie nie as hoofseun gekies is nie se ouers wat hierdie saak teen jou dryf .. as jou gewete skoon is … BEVEG hulle MET DIE SKOOL SE GELD.

GERT ·

Dit is die grap van die jaar die beheeliggaam het die hoof aangestel daar is seker n paar vorige bl lede wat weer dien mens verwag dit nie van so top skool nie as die sport so belangrik is stig n klub

Klaas is Baas ·

Verduideik dié: daar is jarelange onmin tussen Mnr. Scheepers en die beheerliggaam. Hoe het hy dan skoolhoof geword? Is dit nie die beheerliggaam wat onderhoude doen en die aanbeveling aan die Departement stuur nie? Waar was die jarelange onmin toe? Ek herhaal… beheerliggame is ‘n on-ding!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.