Greyhound, Citiliner skort dienste op

(Foto: Greyhound/Facebook)

Greyhound en Citiliner, ʼn afdeling van Greyhound, gaan hul dienste permanent opskort.

Dié langafstandbusdienste het Dinsdag in ’n kennisgewing gesê hul bedrywighede gaan tot 14 Februarie voort waarna dit opgeskort word.

Passasiers met buskaartjies wat na hierdie datum bespreek is, sal terugbetaal word.

Greyhound en Citiliner het nie besonderhede rakende die besluit verskaf nie.

Dié landafstandbusdienste het byna vier dekades lank passasiers tussen Suid-Afrika se grootste stede asook Harare en Bulawayo in Zimbabwe en Maputo in Mosambiek vervoer.

Maroela Media het vroeër berig die luukse en semi-luukse busbedryf word lamgelê weens afsonderingsregulasies. Greyhound en Citiliner word ook beskou as luukse en semi-luukse busse.

Busoperateurs van luukse en semi-luukse busse het weens Covid-19-afsonderingsregulasies tien maande gelede laas werk gehad. Hulle moet boonop steeds derduisende aan die regering opdok om buslisensies te hernu en pleidooie aan die departement van vervoer val op dowe ore.

Fiona Brooke-Leggatt, voorsitter van die Private Charter Passenger Association (PCPA), het Woensdagmiddag aan Maroela Media gesê Greyhound en Citiliner was die afgelope tien maande in dieselfde spreekwoordelike bus as busoperateurs van luukse en semi-luukse busse wat lisensies betref.

Die luukse busbedryf se busse word gebruik om toeriste mee rond te rits, leerders gedurende skooltoere aan te ry, asook die werksmag van en na konferensies te vervoer. Hulle het dié lisensies nodig om die bedrywighede te kan voortsit.

“Die verskil is egter dat [Greyhound en Citiliner] intussen hul bedrywighede tussen stede kon voortsit terwyl ons nie kon nie. Tog maak hul steeds toe.”

Greyhound en Citiliner het hul klante vir 37 jaar se ondersteuning bedank. Navrae rakende terugbetalings kan aan 087 352 0352 of [email protected] gerig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chantel

Dis ‘n gatslag vir talle SA’ners.

Agge nee

Nog besighede onderdeur, nog werkloosheid, mooi Mnr Pres. Hulle kon sekerlik gehelp kon word met die miljoene wat vermors is.

Dries

So gaan die verwoestende padjie van die ANC volstoom voort. Hulle sal nie rus voordat daar niks oor is nie. Ek was vandag in Germiston waar ek groot geword het. VERVAL is verby. Nou tree VEROTTING in

Alet

Wie moet ons bedank? Defnitief nie Boland Bank nie

JohanR

En daar het jy dit! Die ANC het eers dis treine opgebogger…..passasier en goedere, nou die bus dienste opgebogger en die ligdienste al soe halfpad opgebogger, en die vragmotors wat nou goedere in SA moet vervoer word aan die brand gesteek. Jan van Riebeeck se ons moet in ‘n jaar of twee maar weer die osse en waens inspan vir vervoer. Se weer Covid-19 is nie die virus nie. Die ANC is die virus!