Greyling-gesin roerend gegroet

Van links: Jacques, Ian, Christa, Jordan en Donovan (Foto: Verskaf)

“Hulle is op so ʼn onregverdige en onnodige wyse skielik van ons weggeruk.”

Só het Theo Burger, senior medeleraar van die Herlewingsentrum Wonderboompoort, tydens die roudiens vir Christa (45) en Ian Greyling (52) en hul seun, Jacques Marais (15), gesê nadat hulle op 10 Januarie in ’n ongeluk op die N3 by Harrismith omgekom het.

Jordan Marais (16) en sy ouboet, Donovan Delport (22), is nou die enigste oorblywende lede van dié gesin van Pretoria-Noord.

Maroela Media het vroeër berig die gesin was die betrokke Sondagaand saam met hul boesemvriende, Willie (44), Zelde (41) Snyman en hul dogter Lize (15), in ʼn bussie van Uvongo, waar hulle vakansie gehou het, op pad terug huis toe.

Die bussie waarin die Pretoriase gesinne gery het, Willie se Prado en ’n vragmotor was in die ongeluk betrokke. Almal behalwe Jordan het in die ongeluk omgekom.

Donovan was nie in die ongeluk betrokke nie nadat hy vroeër vertrek het omdat hy moes terugkeer werk toe.

Burger het in sy boodskap benadruk dat die Greylings die land van diegene wat ewig lewe nou betree het, dat geliefdes mekaar moet bemoedig en dat hulle nou ewig by die Here is.

“Die Here sê Hy is die opstanding en die lewe – en die dood is nie die finale spyker in die kis nie. Die dood is ʼn oorgang na die ewige lewe. Christa, Ian en Jacques is uit ’n wrede wêreld geruk om vrede in die paradys te vind. Ons sal ons geliefdes weer eendag sien,” het Burger in sy troosboodskap gesê.

Brig. Wassie Wasserman, ’n vriend van die gesin, het aan die begin van die diens die bedankings gedoen en ook ’n huldeblyk aan Christa, Ian en Jacques gedoen.

“Christa en Ian is mense wat hul lewe ten volle geleef het. Hulle het ’n groot deel van die wêreld gesien. Ons sê dankie vir die Here vir die vol lewe wat hulle gehad het,” het Wasserman gesê.

Donovan het in die brief wat hy namens hom en Jordan aan hul ma, stiefpa en broer voorgelees het, gesê dit voel of die wêreld onder hom uitgeruk is die dag toe hy die nuus ontvang het dat sy ouers en broer dood is.

“My hart en gees is gebreek. Dit voel vir my so onregverdig wat gebeur het; soos ’n droom wat nie wil eindig nie,” sê Jordan.

“Mamma was die beste ma in die hele wêreld, ʼn mens kon nie vir ’n beter ma vra nie. Mamma het altyd plek en liefde vir enigiemand gehad en was ’n engel in soveel mense se lewens. ’n Lig vir mense wie se dae jy met jou glimlag opgehelder het.”

In die brief het hy ook vir Ian as stiefpa geëer en gesê hy was dankbaar om ’n tweede pa soos hy te hê.

“Die grappies en stories wat ons gedeel het, lê diep in my hart. Ek gaan die geselsies mis. Ek en Jordan sal die mans word waarop pa sal trots wees. Tot ons weer ontmoet.”

Hy het ook in sy brief gesê Jacques was ’n son en ster in sy eie reg wat soveel mense se harte aangeraak het.

“Hierdie moes nie met iemand soos jy gebeur het nie. Die hemel het nou nog ʼn ster bygekry en ek sien uit na die dag wat ons weer kan gesels soos altyd.”

’n Brief is ook voorgelees namens die seuns se ouma, Suzette Schoeman, ter nagedagtenis aan Christa, Ian en Jacques. In die brief vereer sy Christa as ’n goeie ma vir haar seuns en vir Ian vir sy sagmoedige geaardheid en toegewydheid aan Christa en die seuns.

Sy vertel ook hoe sy altyd vir Jacques langs die rugbyveld aangespoor het en hoe hy alles met oorgawe en geesdrif aangepak het.

“Ek sal mooi kyk na die twee seuns,” skryf sy in die brief.

Aan die einde van die diens het roubeklaers rose by ʼn foto van Christa, Ian en Jacques voor in die kerk geplaas. Hulle het daarna ballonne losgelaat.

Jordan is ernstig beseer in die ongeluk en is na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gejaag waar hy tans in die trauma-eenheid herstel. Schoeman besoek hom weekliks.

Kort na die ongeluk is Jordan geopereer om die bloeding op sy brein te verlig. Hy het ook verlede week ’n operasie ondergaan waartydens sy kakebeen en een van sy bene geheg is. Volgens hospitaalpersoneel sterk hy goed aan.

Schoeman het Woensdag in ’n boodskap aan familie en vriende gesê Jordan kon sy oë oopmaak en sy duim in die lug steek.

ʼn Roudiens vir die Snyman-gesin word Donderdag om 11:00 by die Westerlig Lewende Woord in Pretoria gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Spekkies

Foto se byskrif stem nie ooreen met foto

Jaco

Sonder dié simpel aandklokreël kon hulle vroeër vertrek het. Dan was hulle nou nog met ons.

John

Dit is hoogtyd dat daar iets gedoen word met Vragmotorbestuurders. Ek het al vroeg oggend gery en by Van Reenen, waar hulle in een baan moet ry af na die Kwazulu toe, kom hulle twee twee langs mekaar met nog twee, en nog twee, agter hulle af gejaag deur daardie pas…. ‘n mens se are stol as jy dink een verkeerde beweging en jy is saam hulle weg. Hulle jaag, veral deur die Vrystaat, swaai voor jou in na willekeur en so boender hulle voort om vir hulle base meer geld te maak en meer kommissie te verdien….

Veronika

Genade dis darem ‘n hartseer affere hierdie….. die arme kinders wat so wees gelaat word, daar is darem ‘n Ouma maar nogtans.