Groblersdal: ‘Dubbele standaarde en selektiewe vervolging’ bevraagteken

Piet Groenewald, Stephan Greeff, aanranding, Groblersdal, betogings,

Stephan Greeff en Piet Groenewald in die landdroshof in Groblersdal, Limpopo. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Suid-Afrika is ʼn regstaat en elke landsburger moet gelyk voor die reg staan, maar daar is “duidelike dubbele standaarde en selektiewe vervolging” wat in Groblersdal plaasvind ná die afgelope weke se gebeure.

Piet Groenewald (63) en sy stiefseun, Stephan Greeff (23), is Maandag in die Groblersdal-landdroshof borgtog geweier. Hulle staan tereg op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hiervolgens sou Greeff en Groenewald ʼn werker met ʼn piksteel aangerand en ʼn veiligheidshond aangehits het om hom te byt, asook hom glo met ʼn onbekende vloeistof ingespuit het.

In dieselfde hof het die aktiviste Willem Petzer (27) en Tewie Wessels (32) saam met Devon Hofmeyr (29), ʼn direkteur van die Bittereinders-beweging, onder polisiebewaking verskyn. Wessels, Hofmeyr en Petzer het al drie Maandag vroegoggend met hul tasse aangemeld by die polisiestasie waar hulle toe in hegtenis geneem is.

Luidens die voorlopige klagstaat sal hulle onder meer teregstaan op aanklagte wat verband hou met openbare geweld en die verhindering van ʼn polisiebeampte in die uitvoer van sy pligte. Die drie was op 24 Januarie deel van ʼn betoging buite die landdroshof in Groblersdal toe Groenewald en Greeff met hul borgtogaansoek begin het. Hul borgtogaansoeke is laatmiddag aangehoor, maar daarna tot Donderdag uitgestel weens beurtkrag wat om 15:00 by die hof ingeskop het. Hulle al drie bly in aanhouding tot dan.

Die sanger Steve Hofmeyr het Dinsdag sy seun, Devon, in polisieaanhouding besoek.

“Dis die genadelose vlakte waar ʼn vader hom bevind as sy seun onregverdig opgesluit word. Ek kan dit nie vir jou beskryf nie. Die moeilikste is om nie te kan opdaag nie. En daar is drie goeie redes hoekom ek nie opdaag nie, redes wat sin maak vir Steve Hofmeyr, maar glad nie sin maak vir ʼn pa nie. Daarom is ek in stilte deur om my seun te gaan besoek.”

Hofmeyr het sy dank uitgespreek teenoor dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, nadat hy Dinsdag in die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede kritiek gelewer het oor die gebeure in Groblersdal.

“Suid-Afrika is ʼn regstaat en elke landsburger moet gelyk voor die reg staan. Maar met die hofsaak in Groblersdal waar twee persone aangekla word van aanranding, gaan woon die ministers van polisie, Bheki Cele, en justisie, Ronald Lamola, self die borgtogaansoek van die beskuldigdes by. Het hulle nie werk om te doen nie? Hoekom gaan hulle soontoe? Hulle gaan soontoe, want hulle het ʼn politieke motief en daardie motief is om die voorsittende beampte te intimideer. Hulle is borgtog geweier.”

Van links, Willem Petzer, Devon Hofmeyr en Tewie Wessels in die hof op Groblersdal. (Foto: Isabel Venter)

Rakende Petzer, Wessels en Hofmeyr het Groenewald gesê hy het by twee geleenthede klagtes teen die EFF-leier Julius Malema ingedien oor sy direkte aanhitsing om wittes te vermoor. “Waarom word hy nie ook in hegtenis geneem nie? Laat hy ook gaan aansoek doen vir borgtog. U is besig onder u leierskap om ongelykhede te skep. Hierdie manne het hulleself gaan oorgee. Hulle is geregtig om borgtog te kry.”

Die burgerregte-organisasie AfriForum het na aanleiding van die gebeure op Groblersdal die afgelope paar weke gesê hy verwerp die optrede van enige organisasie of individu wat chaos in die gemeenskap saai.

“AfriForum is egter terselfdertyd sterk gekant teen die duidelike dubbele standaarde en selektiewe vervolging wat tans hier plaasvind. Politieke partye, soos die ANC en EFF, poog om die gespanne situasie wat in Groblersdal heers, opportunisties uit te buit en te laat toeneem in aanloop tot die 2024-verkiesing om goedkoop politieke myle daaruit te haal. Daar is ʼn onmiskenbare poging om die gemeenskap te destabiliseer,” het Llewelynn Hemmens, AfriForum se hoof van veiligheid vir die Noordstreek, gesê.

Dit is volgens Hemmens egter kommerwekkend dat slegs betogers ter ondersteuning van die beskuldigdes tans vervolg word, terwyl opswepers en wetteloses aan die ANC- en EFF-kant oënskynlik vervolging vryspring.

“Diegene wat die wet oortree, geweld en wetteloosheid aanhits en chaos saai in die gemeenskap moet konsekwent vervolg word. Dubbele standaarde is onverdedigbaar en verhoog die spanning net verder,” sê Hemmens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jean ·

Afriforum sal nie help met die 3 mans se saak nie, ‘n paar mense wat ek ken het die week hulle bydrae na Afriforum gestop.

Theunis ·

Die presidensie en alle kaders voel defnitief nog bedreig deur die minderheid, hoekom dan die magsvertoning?

Leon ·

As n persoon in die 1e plek nie die wet oortree nie is daar geen rede tot kommer oor verskillende standaarde nie. Omdat die ander party nie vervolg word gee dit niemand die reg om dieselfde te doen nie.

Koen ·

Laakbaar van Steve om sy seun sy battles te laat fight. Steve se mond is gesnoer. Dieselfde gaan met Devon gebeur.

Papsak ·

Ja wil ook weet hoekom die dubbelsinnigheid Malemma kan maak wat hy wil goed skree soos kill the boer en wil ons wittes dood maak hy kom niks oor nie hierdie drie manne het hulle self gaan oorgee hoekom so onregverdig werk regverdig sluit Malemma ook op vir sy woorde en dade teenoor wit maar hy loop los kyk die voorbeeld ne maar God slaap nie

chris ·

Koen jy val vir die ou storie wat deur die media gedryf word vir sensasie:Jy hou van iemand of jy haat hom of haar.Steve is ‘n tipiese voorbeeld wat hier gebruik word.As dit nie hy is nie, is dit een van sy familielede wat gebruik word tot verdere verdeeldheid rondom hom as persoon.Koen moenie val vir daardie strik nie!!

Gaitsigubib ·

Ek sien mens kan kwyt raak net wat jy wil, maar ‘n verduideliking mag nie geeis word nie. Mens mag ook nie vra om ‘n skrywe met feite te staaf nie. Is dit nie die media se werk om “feite” te bevraagteken nie? Almal kon tog nie reg en ook verkeerd wees nie? Dis of die een of die ander? Is hierdie ‘n vertrapping van mense se grondwetlike reg om te mag betoog of is dit nie? Het n sekere deel van die samelewing nie die reg om te betoog soos wat ander het nie? Die antwoord is tog “obvious”, so waarom mag mens dit nie se nie?

Leon ·

Gaitsigubib. Dit is enige persoon se grondwetlike reg om te betoog, mits dit geskied binne die raamwerk van die wet. Sou die “bittereinders” by die reel gehou het was daar nie n probleem nie. Jy kan nie apparte gevalle met mekaar vergelyk nie. Gaan lees gerus die wet op byeenkomste. Sou ander partye anders hanteer word neem dit op met die LP van jou politieke party. Jy betaal hom om jou stem te laat hoor.

Elsie ·

Ag Afriforum, shuuuuuuut, ek het juis my lidmaatskap gestop, wat doen jul vir die boer????waar het hul chaos gesaai???? Baie georganiseerd en gedissiplineerd sou ek eerder se.

Leon ·

Elsie. Ek betaal met n glimlag jou lidmaatskap gelde. Het versoek dat hul my premie verdubbel. Verduidelik net vir my die woord “boer”. Jy is welkom om WAT te raadpleeg.

Nommer 7 ·

Terwyl Stephan Greef in aanhouding is het Devon sy vrou “saans opgepas” Kommin spul as jy my vra!

Meerkat ·

@Leon jy besef dat die Bittereinders wel die wet oortree het nè. Ek was self daar. Die sapd het die mandaat om ‘n optog wat wettige goedkeuring het se roete te verander sou daar ‘n risiko wees vir die gemeenskap, wat wel die geval was. Francios en sy vriende het geïgnoreer en deur die sapd blokkade gebreuk, sapd lede aangerand en is toe gearresteer.

Terselfdertyd stem ek saam dat lede van die ANC en EFF ook die wet oortree het maar is nie vervolg nie. Ek dink AfriForum verwys na daai dubbele standaarde.

Meerkat ·

@Leon ek is regtig bly daar is mense wat ten minste bietjie tyd neem om die werklike gefeite te gaan opsoek voor hulle net ‘n opinie form.

Chrisp ·

Eintlik baie maklik Leon dit is die mense agter boerewors,boerbeskuit boerperd,boerboel,oerpampoen Sommer ook die wat geveg het in die boereoorlog in boerkommando’s of dink jy die beskrywings was slegs vir landbouers(ook boere genoem) en niemand in stede of dorpe was betrokke nie?
Dalk het ek die boeke oor die Suid-Afrikaner oorlog in 1900 gemis.

Net vir my kennis wat se die WAT?

Republikein in die Wes Kaap ·

Nommer 7, ons is so min, ons moet mekaar se bates beskerm.

Gaitsigubib ·

no 7 jy was seker ook daar soos ou meertkat? of net n peeping tom in die geval?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.