Groblersdal-moord: ‘Daar is nog verdagtes’

Patricia Ray-Lee Smith in die hof. Foto: Tania Heyns

Die ondersoekbeampte in Raymond Gregory Papapavlou (28) se moordsaak het Vrydag gesê dat die polisie nog verdagtes geïdentifiseer het wat met die moord op Papapavlou verbind word. Dié verdagtes moet volgens die ondersoekbeampte egter nog opgespoor word.

Die 23-jarige Patricia Ray-Lee Smith het vandag weer in die Groblersdal-landdroshof verskyn in verband met die moord op Papapavlou. Sy is vroeër die week by haar werkplek in Kempton Park in Gauteng in hegtenis geneem.

Sy was glo na aan Papapavlou en sy vrou, Simone. Smith staan tereg op aanklagte van moord en sameswering tot moord.

Smith se regsverteenwoordiger het beplan om vandag ’n aansoek om borgtog namens haar kliënt in te dien.

Patricia Ray-Lee Smith in die hof. Foto: Tania Heyns

Die staat het egter vir uitstel gevra aangesien die ondersoekbeampte, sers. Tshepo Mogano, tyd benodig om die beskuldigde se besonderhede, waaronder haar woonadres, na te gaan en nog wag vir die verwerking van haar vingerafdrukke.

Uitstel is ondanks die verdediging se argumente toegestaan.

Sonja Weideman, Smith se regsverteenwoordiger, het in die hof aangevoer dat die polisie oorgenoeg tyd gehad het om die inligting na te gaan en vroeër haar vingerafdrukke kon geneem het sodat dit reeds beskikbaar kon wees.

Sy het verder gesê die polisie het nie ’n sterk saak teen Smith nie en sloer doelbewus om haar kliënt “te intimideer en te frustreer”.

Die beskuldigde is Dinsdag ná haar inhegtenisneming vanaf Kempton Park eers na Modimolle geneem voordat sy na Groblersdal vervoer is.

Patricia Ray-Lee Smith in die hof. Foto: Tania Heyns

Volgens Weideman kon die uitstaande inligting tóé reeds ingewin en aan die ondersoekbeampte in die saak oorgedra word. Weideman het verder daarop gewys dat dit boonop ongrondwetlik is om iemand in aanhouding te hou sodat die polisie sy ondersoek kan afhandel.

Mogano is vanoggend deur die staatsaanklaer na die getuiebank geroep waar hy getuig het dat hy eers Woensdag die dossier ontvang het. Hy het verduidelik dat hy eers self die beskuldigde se woonadres in Johannesburg wil nagaan en eers onder meer moet vasstel of daar enige hangende sake teen haar is.

Die landdros het gesê hy is nie daarvan oortuig dat Mogano doelbewus met sy ondersoekwerk sloer nie en dat die uitstaande inligting benodig word voordat die staat kan aandui of hy borgtog gaan teenstaan al dan nie.

Smith sal nou op 9 November weer in die hof verskyn wanneer sy na verwagting ’n aansoek om borgtog sal kan indien.

Raymond Gregory Papapavlou en sy vrou. (Foto: Facebook)

Mogano sê die staat het ’n sterk saak teen die beskuldigde.

Polisiebeamptes is in die vroeë oggendure van Maandag 5 Oktober na ’n plaas tussen Stofberg en Groblersdal ontbied waar Papapavlou se liggaam met verskeie skietwonde in een van die vertrekke in die plaashuis aangetref is.

Volgens Mogano het Papapavlou in ’n bed in een van die plaashuis se slaapkamers geslaap terwyl sy vrou glo in die sitkamer televisie gekyk het. Sy het glo ’n skaduwee in die huis gesien waarna sy ’n skoot in die rigting van die slaapkamer gehoor het. Sy het toe self skote met haar vuurwapen in die rigting van die skaduwee geskiet, het Mogano gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Blikke ·

Persoonlik reken ek dat die verwysing na “verdagtes” eerder na die enkelvoud moet verwys. n Verdagte…..sal maar moet wag en sien.

Dries ·

Nou het die vrou skaduwees in die huis gesien. Die storie kry ook elke keer ‘n stertjie by.

QueenB ·

Ja wat gedink omdat dit Suid Afrika so ’n hoe misdaad syfer het veral by die dood maak van wit mense hulle gaan daarmee wegkom ek nog nie gesien iemand plant n kruis nie

Oujongvrou ·

Mmmm, gerieflik slaap ons saam met n hond, en man in kamer. So maak ons seker net een word gedood.

Opdiemanaf ·

Slagoffer se vrou gaan volgende in hegtenis geneem word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.