Groblersdal-moord: ‘Hy was in die pad’

Smith en Papapavlou in die beskuldigdebank in die landdroshof op Groblersdal (Foto: Anja van der Merwe)

AO Debbie van Zyl, ondersoekbeampte, het Donderdag in die hof aangevoer Simone Papapavlou (26) en Patricia Ray Lee Smith (23) het saamgesweer om Raymond Gregory Papapavlou (28), ʼn plaasvoorman van Groblersdal, dood te maak omdat hy “in die pad was”.

Smith en Papapavlou was glo ten tyde van Raymond se moord in ’n romantiese verhouding betrokke.

Van Zyl het Donderdag in die landdroshof op Groblersdal vir die staat getuig om Papapavlou se borgtog teen te staan.

Sonja Weideman, Papapavlou se regsverteenwoordiger, het vroeër die dag in die hof ’n beëdigde verklaring voorgelees waarin Papapavlou ontken dat sy en Smith saamgesweer het om Raymond dood te maak. Die verklaring is as deel van Papapavlou se borgtogaansoek voorgelees.

Raymond is op 4 Oktober in die egpaar se plaashuis geskiet. Hy het op ’n bed in die egpaar se slaapkamer gelê en slaap terwyl Papapavlou glo in die sitkamer televisie gekyk het.

Papapavlou staan voorlopig tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ongelisensieerde ammunisie en regsverydeling.

Van Zyl het in die hof aangevoer dat geld ook nie as motief vir die moord uitgeskakel kan word nie.

Volgens haar het Raymond voor sy dood twee lewensversekeringspolisse uitgeneem en dit aan Papapavlou as begunstigde uitgemaak.

Weideman het tydens kruisondervraging gesê die motief dat die twee vriendinne “vryelik in ʼn romantiese verhouding” wou wees, nie gewig dra nie aangesien Papapavlou, Smith en Raymond al drie kwansuis saam in ʼn seksuele verhouding betrokke was.

Smith en Papapavlou het glo al in 2019 aan Raymond se moord begin beplan, sowat ʼn jaar ná Papapavlou en Raymond getrou het.

Van Zyl het getuig die vriendinne se eerste “probeerslag om Raymond uit te haal” was vyf maande voor sy moord by ʼn braai saam met ʼn groep van 18 vriende.

Gif in die braaibroodjie

Simone Papapavlou (26) in die beskuldigdebank van die landdroshof op Groblersdal (Foto: Anja van der Merwe)

Raymond is op 9 Mei verlede jaar in die hospitaal opgeneem nadat hy by die braai ʼn braaibroodjie geëet het waarop glo rotgif was.

Daar was glo iets blou op die broodjie wat soos rotgif gelyk het.

Volgens Van Zyl het Papapavlou en twee ander vroue die aand die braaibroodjies gemaak.

Papapavlou het eerste Raymond se broodjie opgeskep en vir hom gevat.

Die ondersoekspan het daarna vingers na Papapavlou gewys.

“Die hospitaal het Raymond vir simptome van vergiftiging behandel. Hy was die enigste persoon wat daardie aand sulke simptome getoon het,” het Van Zyl in die hof gesê.

Weideman het tydens kruisondervraging daarop gewys dat die braaibroodjie nooit getoets is nie en dat Van Zyl na strooihalms gryp om Papapavlou met die voorval te verbind.

“Raymond wou nie die broodjie vir gif laat toets nie omdat hy geweet het daar was gif op,” het Van Zyl gesê.

Van Zyl het in die hof na twee verklarings verwys van mans wat beweer dat Smith hulle genader het om gif te koop. Volgens die een verklaring het Smith vir die man gesê: “Die gif het nie gewerk nie, nou soek ek ʼn vuurwapen.”

‘Dit was net hulle in die huis’

‘n Rekonstruksie van die misdaadtoneel is gedoen en Van Zyl het bevind dit was nie ‘n plaasaanval, soos Papapavlou en Smith dit wou laat lyk het nie.

Volgens Van Zyl is daar tydens die ondersoek geen vingerafdrukke of DNS behalwe dié van Raymond en Papapavlou in die plaashuis gevind nie. Daar was ook geen teken van gedwonge ingang deur ʼn venster of deur in die huis nie.

Die vuurwapen waarmee Raymond geskiet is – moontlik ʼn 3.58-rewolwer of .375-Magnum – is ook nooit gevind nie.

Volgens Papapavlou se verklaring het Raymond die aand gekla dat hy ʼn migraine het en het vroeg gaan slaap. Papapavlou het televisie in die sitkamer gekyk.

Sy beweer dat sy twee rolprente gekyk het en gedurende die tweede rolprent op die bank aan die slaap geraak het. Die egpaar se varkhond het by haar op die bank gelê. Sy het ook haar 9 mm-vuurwapen by haar gehou. Sy sê sy het later wakker geskrik toe sy ʼn geweerskoot gehoor het.

Smith en Papapavlou in die beskuldigdebank in die landdroshof op Groblersdal (Foto: Anja van der Merwe)

Volgens Papapavlou het sy ʼn skaduwee van ʼn “skraal persoon” teen die muur gesien en mense in ʼn Afrikataal in die gang hoor praat. Sy beweer sy het uit vrees sewe skote op die skaduwee afgevuur.

Volgens Papapavlou het die later stil geraak. Sy het na Raymond geroep, maar geen antwoord gekry nie en familie en omliggende boere om hulp gebel.

Papapavlou het in haar verklaring beweer Raymond is tussen 23:00 en middernag geskiet. Volgens Van Zyl het ʼn forensiese wetenskaplike aan die Universiteit van Pretoria (UP) foto’s van Raymond se liggaam op die bed bestudeer en gesê hy was nie in dié beweerde tyd geskiet nie, maar moontlik ʼn uur en ʼn half vroeër.

“Volgens die ambulansdienste wat omstreeks 02:00 op die toneel was, was Raymond se liggaam al koud.”

Van Zyl het ook getuig Papapavlou het omstreeks 23:32 op ʼn boodskap op ʼn WhatsApp-groep “heel vrolik” reageer.

“Dit was in die tyd wat sy beweer het sy geslaap het.”

Die borgtogaansoek sal Maandag voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Alma ·

Want sy het geld gesoek…! Ek hoop daar is genoeg bewyse om haar (hulle) baie lank toe te sluit.

Marthie ·

So al drie was saam in ‘n seksuele verhouding betrokke… As jy moreel so arm is dan raak alle ander dinge soos moord ook makliker.

Misky ·

Nie noodwendig die waarheid nie. Net wat die 2 vrouens nou beweer.

Vonnie ·

hoekom het die hond nie geblaf as daar vreemde mense was nie. nee wat poppie, julle turf gaan sit

Casper ·

Hierdie hele moordsaak is deurspek met liegstories.Simone het verskeie weergawes van wat gebeur het waarvan die nuutste die mense wat in ‘n Afrika taal in die gang gepraat het en die varkhond doen niks.As jy in ‘n toe huis ‘n .357 afvuur gaan jy vir ‘n geruime tyd nie kan hoor nie.Hy is in die hospitaal getoets vir gif.Twee ander vroue het gehelp om die braaibroodjies te maak maar Simone vat Raymond sin eerste vir hom.Raymond wou nie die broodjie laat toets nie want hy het geweet daar is gif op.Smith sê vir die mans die gif het nie gewerk nie sy soek ‘n vuurwapen.Het die 2 mans dit getuig.Die twee vroue wat gehelp het met die broodjies sien nie wie sit die gif op nie.Die twee lewenspolisse waarvan Simone die begunstigde is,is ‘n sterk motief vir moord.Geen gedronge ingang tot die huis so die moordenaar was reeds in die huis.Die enigste persoon in die huis was Simone want Raymond was dood of het Smith spore gemaak na die moord.Oktober is reeds warm veral in Groblersdal.

Casper ·

As ek weet daar is gif in my kos sit ek nie my mond daaraan nie.Hoe lank vat ‘n lyk in die somer voor dit koud is.Ek skat so 6 ure veral as Raymond onder ‘n kombers gelê het.Die paramedici was 2 uur daar toe was hy al koud.Dinge gaan nog baie interessant raak.

Kathleen ·

A G V Covid 19 kom niemand meer in ‘n Kerk nie so daar is nie voedsel vir die siel nie , kyk nou wat gebeur as mens nie gelowig is nie , jy doen al die goed waarvan die ou duiwel hou en sodoende beland jy kniediep in die moeilikheid , mens spel dit net ietwat anders !

Henry ·

Hierdie tweetjies moet onthou dat die liegstories wat hul opmaak moet onthou word om seker te maak hulle stories stem ooreen. Dus duidelik hulle onthou nie wat hulle sê nie. Dit gaan hulle duur kos. Die waarheid sal uiteindelik uitkom al vat dot ‘n rukkie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.