Groblersdal-moord: Staat gekap oor saak wat sloer

Patricia Ray Lee Smith tydens ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Tania Heyns)

Die saak teen Patricia Ray Lee Smith is Woensdag vir die soveelste keer in die Groblersdal-landdroshof in Limpopo uitgestel.

Die landdros het egter gesê dit is die finale uitstel. Die staat het nou tot Junie om sy ondersoek na die moord op die plaasvoorman Raymond Gregory Papapavlou af te handel.

Sou dit teen daardie tyd nie gebeur nie, sal die saak teen Smith teruggetrek word.

Smith staan tereg op die moord op Papapavlou.

Maroela Media het vroeër berig polisiebeamptes is verlede jaar in die vroeë oggendure van Maandag 5 Oktober na ’n plaas tussen Stofberg en Groblersdal ontbied waar Papapavlou se liggaam met verskeie skietwonde in een van die vertrekke in die plaashuis aangetref is. Hy het in ’n bed in een van die plaashuis se slaapkamers geslaap terwyl sy vrou glo in die sitkamer televisie gekyk het. Sy het aangevoer dat sy ’n skaduwee in die huis gesien het waarna sy ’n skoot in die rigting van die slaapkamer gehoor het. Sy het toe self skote met haar vuurwapen in die rigting van die skaduwee geskiet.

Smith was ten tyde van die moord in Oktober verlede jaar glo in ’n romantiese verhouding met Raymond se vrou, Simone. Die staat het aanvanklik aangevoer dat die twee vroue saamgesweer het om die moord te pleeg.  Simone is egter tot op hede nie aangekla nie.

Sonja Weideman, Smith se regsverteenwoordiger, het gister in die hof versoek dat die saak teen haar kliënt teruggetrek word hangende die ondersoek.

“Die saak is al vir vyf maande op die rol en die ondersoek is steeds nie afgehandel nie,” het Weideman vanmiddag aan Maroela Media gesê.

Die landdros het die versoek afgekeur, maar die staat gewaarsku dat dit die laaste uitstel is.

Die direkteur van openbare vervolging het intussen ’n skrywe aan die betrokke ondersoekbeampte gerig waarop dié moet antwoord voordat besluit word of vervolging gaan plaasvind al dan nie.

Smith sal na verwagting weer op 11 Junie in die hof verskyn.

Borgtog is verleng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tanja ·

al wat werk in hierdie nuwe ANC Suid-Afrika is die taxi’s, korrupsie, beurtkrag, plunder en brand. Daar is absoluut niks meer oor wat werk nie nie eers die gereg nie.

KB ·

Wys my een saak in die SA Howe wat nie uitgestel word nie…
Die SA Regstelsel het baie agteruitgegaan.

Androclus ·

Sy gaan lekker kry,alhoewel sy skuldig is aan moord,as daardie saak uitgegooi word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.