Groblersdal-moord: Virus dié keer rede vir uitstel      

Patricia Ray Lee Smith (23) het weer Vrydag in die landdroshof in Groblersdal verskyn. (Foto: Tania Heyns)

Die moordsaak teen Patricia Ray Lee Smith is Vrydag vir die soveelste keer in die Groblersdal-landdroshof in Limpopo uitgestel, ten spyte daarvan dat die hof al minstens twee keer ’n finale uitstel aan die staat toegestaan het.

Dit lyk wel nou of die staat al sy skietgoed gereed het om Smith (23) te vervolg en wag nou nog net vir die direkteur van openbare vervolging (DOV) om die groen lig te gee. Die advokaat aan wie die dossier toegeken is om hieroor te beslis, het egter intussen Covid-19 opgedoen en kon daar wéér geen uitsluitsel oor die saak gegee word nie.

Smith staan tereg vir die moord op die 28-jarige Raymond Gregory Papapavlou wat in Oktober verlede jaar in sy plaashuis tussen Stofberg en Groblersdal doodgeskiet is. Smith was ten tyde van die moord glo in ’n romantiese verhouding met Papapavlou se vrou, Simone.

Die saak is sowat ʼn maand gelede uitgestel sodat die DOV kon besluit of Smith wel vervolg moet word. Die hof het tóé gesê dat dit die finale uitstel sou wees, sou die staat nie vinnig sy sake in orde kry nie.

Die staat het vanoggend in die hof gesê die advokaat aan wie die dossier oorhandig is, werk weens die Covid-19-pandemie tuis. Die advokaat en sy vrou het sedert Smith se vorige hofverskyning verlede maand siek geword en die advokaat was nie in staat om sy werk voort te sit nie.

Die advokaat se direkte toesighouer het glo ’n ander amptenaar van die DOV aangesê om die saak oor te neem, maar die hooggeregshof moes net daarna vir byna twee weke sluit onder meer om ontsmet te word.

Die verdediging is nie gelukkig met die vertraging nie en het vanoggend versoek dat die saak teen Smith voorlopig teruggetrek word.

Sonja Weideman, Smith se regsverteenwoordiger, hou vol dat haar kliënt se grondwetlike reg tot ’n spoedige en regverdige verhoor geskend word weens die staat se interne uitdagings.

Die landdros het egter, ten spyte van Weideman se besware, nog ’n uitstel toegestaan. Volgens die landdros word Smith nie in dié stadium benadeel nie, omdat sy op borgtog uit is.

Die landdros het voorts gesê niemand kon voorsien dat die advokaat Covid-19 sou opdoen en dat die hooggeregshof genoop sou word om te sluit nie. Sy het wel toegegee dat dit “’n ander storie sou wees” sou daar geen poging van die DOV se kant wees om die dossier by die betrokke advokaat oor te neem nie. Dit was volgens die landdros egter nie die geval nie en nog ’n finale uitstel is dus in die belang van geregtigheid.

Smith moet weer op 13 Augustus in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Papapavlou se liggaam is in Oktober verlede jaar in die vroeë oggendure met verskeie skietwonde in sy huis aangetref.

Hy het op ’n bed in een van die plaashuis se slaapkamers gelê en slaap terwyl sy vrou, Simone, glo in die sitkamer televisie gekyk het. Sy het aangevoer dat sy ’n skaduwee in die huis gesien het waarna sy ’n skoot in die rigting van die slaapkamer gehoor het. Sy het toe self skote met haar vuurwapen in die rigting van die skaduwee afgevuur.

Die staat het aanvanklik aangevoer dat Simone en Smith saamgesweer het om die moord te pleeg. Simone is egter tot op hede nie aangekla nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Androclus ·

Dit lyk wel nou of die staat al sy skietgoed gereed het om Smith (23) te vervolg BAIE GOED.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.