Patricia Ray Lee Smith (23) wat verdink word van die moord op Raymond Gregory Papapavlou, ʼn plaasvoorman van Groblersdal in Limpopo, het Woensdag weer in die plaaslike landdroshof verskyn waarna die saak tot volgende jaar uitgestel is.
Raymond se vrou, Simone, is nog nie versoek om in die hof te verskyn nie ten spyte daarvan dat haar naam saam met dié van Smith op die klagstaat verskyn. Luidens die klagstaat het die vroue saamgesweer om die 28-jarige Papapavlou te vermoor.
Louw Erasmus, Simone se regsverteenwoordiger, het vandeesweek teenoor Maroela Media ontken dat daar enige sameswering tussen sy kliënt en Smith was om die oorledene te vermoor.
Daar word nou oorweeg om ’n klag van meineed teen die ondersoekbeampte, sers. Tshepo Mogano, aanhangig te gemaak oor getuienis wat hy vroeër in die hof gelewer het.
Mogano het verlede maand in die getuiebank gesê ’n staatsgetuie het aangedui dat Smith en Simone in ’n romantiese verhouding betrokke is. Raymond het glo in die pad van die verhouding gestaan.
Volgens Mogano is albei vroue se selfoonrekords nagegaan en dit het glo aan die lig gekom dat hulle die moord geruime tyd lank op WhatsApp beplan en bespreek het. Die selfoonrekords plaas glo ook vir Smith in die omgewing van die plaas enkele ure voor Papapavlou op 4 Oktober vermoor is.
Mogano het verder volgehou Simone is nog nie agter tralies nie aangesien sy glo nie opgespoor kan word nie.
Erasmus beskryf die getuienis as “blatante leuens”.
“Daar was geen sameswering nie,” het Erasmus gesê en bygevoeg sy kliënt is nié voortvlugtend nie en meer as bereid om haar volle samewerking te gee. “Niemand praat met ons nie. Ons wou al by die polisie aanmeld, maar daar is aan ons gesê dat die polisie nie in haar belangstel nie.”
Ocker Botha, Smith se regsverteenwoordiger, sê sy kliënt moet weer op 13 Januarie in die hof verskyn. Die saak is tot dán uitgestel vir ’n beslissing van die direkteur van openbare vervolging (DOV).
Smith is tans uit op borgtog.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
10 Kommentare
Hierdie saak gaan ook jare neem om verhoor te word.
Absurde gekke paradys.
Beslis ‘n slang in die gras….en ‘n oomkoopgeldjie net so voor kersfees.
Van dag een af het ek gedagte gehad sy vrou het deel aan sy moord,net die feit dat hulle in verskillende vertrekke was toe die skietery plaasvind.
As Simone onskuldig, waarom kruip sy weg?