Groblersdal-moord: Vrou hoor oor borgtog

Patricia Ray Lee Smith in die hof. Foto: Tania Heyns

Patricia Ray Lee Smith (23) is Maandagmiddag borgtog in die Groblersdal-landdroshof in Limpopo geweier.

Hoewel die staat nie borgtog teengestaan het nie, het die landdros beslis dat daar weens die ernstige aard van die aanklagte teen Smith geen buitengewone omstandighede bestaan wat bepaal dat borgtog toegestaan moet word nie.

Smith was sigbaar teleurgesteld met die beslissing. Die saak is nou tot 2 Desember uitgestel vir verdere ondersoek.

Luidens die klagstaat het Smith en die oorledene se vrou, Simone, saamgesweer om die 28-jarige Raymond Gregory Papapavlou te vermoor. Smith is reeds verlede maand in hegtenis geneem in verband met die moord. Sy staan tereg op aanklagte van moord en sameswering tot moord.

Die ondersoekbeampte, sers. Tshepo Mogano, het vanoggend in die getuiebank gesê ’n staatsgetuie het aangedui dat Smith en Simone in ’n romantiese verhouding betrokke is. Raymond het glo in die pad van die verhouding gestaan.

Mogano het ook gesê Simone sal in hegtenis geneem word sodra sy opgespoor word.

Raymond Gregory Papapavlou en sy vrou Simone. (Foto: Facebook)

Albei vroue se selfoonrekords is nagegaan en dit het glo aan die lig gekom dat hulle die moord ’n geruime tyd lank op WhatsApp beplan en bespreek het. Die selfoonrekords plaas glo ook vir Smith in die omgewing van die plaas enkele ure voor Papapavlou op 4 Oktober vermoor is.

Die verdediging sê egter Smith was die aand van die moord nie naby die plaas waar Papapavlou vermoor is nie.

Polisiebeamptes is in die vroeë oggendure van Maandag 5 Oktober na ’n plaas tussen Stofberg en Groblersdal ontbied waar Papapavlou se liggaam met verskeie skietwonde in een van die vertrekke in die plaashuis aangetref is.

Papapavlou het in ’n bed in een van die plaashuis se slaapkamers geslaap terwyl sy vrou glo in die sitkamer televisie gekyk het. Sy het glo ’n skaduwee in die huis gesien waarna sy ’n skoot in die rigting van die slaapkamer gehoor het. Sy het toe self skote met haar vuurwapen in die rigting van die skaduwee geskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SomeOne ·

simone, het jy regtig die polisie se integriteit so onderskat

Persheks Adri ·

Laat hulle maar sit. As jy mense kan vermoor moet jy die gevolge kan dra… Enige aksie ly tot reaksie en ongelukkig is dit beplan. Ons weet immers wat sê die Bybel oor dit ook

Yvonne ·

Lees die mense nooit oor vorige sake nie…hoe dink hulle om weg te kom met so n bose daad

madels ·

Liewe mapstieks, hoekom het sy hom maar nie eerder geskei nie!!!?? Hoekom hom vermoor!??? Laat hulle maar goed vrot daar in die tronk

Thea ·

Kan nie glo sy is tot nou toe nog nie inhegtenis geneem nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.