Groblersdal-moord: Weduwee, minnares beplan glo moord op WhatsApp

Raymond Gregory Papapavlou en sy vrou Simone. (Foto: Facebook)

Raymond Gregory Papapavlou (28) se vrou, Simone, sal in hegtenis geneem word sodra sy opgespoor word.

Só het die ondersoekbeampte, sers. Tshepo Mogano, Maandag in die Groblersdal-landdroshof in Limpopo getuig. ’n Ander polisiebeampte wat by die saak betrokke is, het egter glo aangedui dat daar nie genoeg bewyse is om haar in hegtenis te neem nie.

Luidens die klagstaat het Simone glo met haar vriendin Patricia Ray Lee Smith saamgesweer om haar man te vermoor. Smith is reeds verlede maand in hegtenis geneem in verband met die moord en haar borgtogaansoek word vandag aangehoor. Sy staan tereg op aanklagte van moord en sameswering tot moord.

Verskeie oënskynlike teenstrydighede in die ondersoek na die moord het egter in die hof aan die lig gekom.

Dit sluit in teenstrydige stellings van lt.kol. Jan de Lange wat vroeër by die ondersoek betrokke was en sers. Mogano wat die dossier ná Smith se inhegtenisneming ontvang het.

Patricia Ray Lee Smith in die hof. (Foto: Tania Heyns)

Mogano het vanoggend in die getuiebank gesê ’n staatsgetuie het aangedui dat Smith en Simone in ’n romantiese verhouding betrokke is. Raymond het glo in die pad van die verhouding gestaan.

Daar is volgens Mogano genoeg gronde vir Simone se inhegtenisneming. De Lange het glo verlede maand gekeer dat Simone haar aan die polisie oorgee omdat hy van mening is dat daar nie genoeg bewyse is om haar in hegtenis te neem nie.

Mogano hou egter vol Simone is nog nie agter tralies nie aangesien sy glo nie opgespoor kan word nie.

Albei vroue se selfoonrekords is nagegaan en dit het glo aan die lig gekom dat hulle die moord ’n geruime tyd lank op WhatsApp beplan en bespreek het. Die selfoonrekords plaas glo ook vir Smith in die omgewing van die plaas enkele ure voor Papapavlou op 4 Oktober vermoor is.

Die verdediging het egter ’n strokie aan die hof voorgelê wat toon dat Smith die betrokke aand ’n wegneemete bestel het om by haar huis in Johannesburg afgelewer te word. Die bestelling is 18:56 geplaas – ongeveer dieselfde tyd wat die selfoonrekords wys dat Smith in die omgewing van die plaas was.

Patricia Ray Lee Smith in die hof. (Foto: Tania Heyns)

“Ek stel dit aan jou meneer, dit is bevestiging dat die beskuldigde die aand van die moord in Johannesburg-Suid was, nie naby die plaas soos jy getuig het nie,” het Ocker Botha, Smith se regsverteenwoordiger, aan Mogano gesê.

Smith en een van die staatsgetuies is boonop nie op goeie voet nie. Smith se selfoon het vyf dae voor haar inhegtenisneming by die werk weggeraak en die enigste persoon met toegang tot die kantoor was glo die staatsgetuie en dié se vrou.

“Die enigste bewyse wat my kliënt aan die moord verbind, behalwe vir die beweerde WhatsApp-boodskappe, is deur dié staatsgetuie verskaf.

“De Lange het hierdie saak ondersoek. Hulle het die dossier op jou tafel gegooi die dag voor die saak vir die eerste keer in die hof aangehoor moes word,” het Botha aan Mogano gesê.

Uitspraak rakende Smith se borgtogaansoek sal vanmiddag gelewer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Hoop hulle kry Simone vinnig en sy moet boet vir die gruwelike daad. Sies man en hoe doen jy dit aan jou man en skei eerder as jy nie gelukkig was nie.

Blikke

Nou ja, daar het julle dit….ek kon net sowel die storie geskryf het. Ek hoop hulle vind haar gou om n paar antwoorde te verskaf.

Dries

En toe is dit inderdaad soos wat baie mense gedink het reg van die begin af.

Trotse Boervrou

Wat my totaal stomslaan is hoe hulle gedink het. Almal het van die begin af geweet iets skort met hierdie ‘plaasmoord’… Waarom die arme man vermoor? Nou ja, gelukkig wag daar ‘n baie “gerieflike” lewe vir hulle. Mens kan nie laer daal as hierdie nie. Om in vandag se lewe te “stage” dat dit ‘n plaasmoord was, is wragtig so laag. Mag hul daar binne kry wat hul toekom en genoeg kry van wat hulle so gepla het. Sterkte aan die familie.

Wonder net

Ek het ook al kos op my naam bestel en by die huis laat aflewer vir die kids…. dit is nie te se ek is ook by die huis nie…. mmm… van die begin af het almal vermoed hier is ‘n slag in die gras. En hoekom die polisieman haar aanraai om nie haarself oor te gee nie, dit is mos nie vir hom om te besluit nie. “Smith se selfoon het vyf dae voor haar inhegtenisneming by die werk weggeraak” en, is die selfoon as vermis aangemeld die dag wat dit vermis geraak het, of is dit nou net… Lees meer »