Groblersdal: Niemand nog vas ná moord op plaas

Raymond Gregory Papapavlou en sy vrou. (Foto: Facebook)

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moord op die 28-jarige Raymond Gregory Papapavlou nadat hy Maandag kort ná middernag in ’n plaashuis tussen Stofberg en Groblersdal met verskeie skietwonde aangetref is nie.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie in Limpopo, het Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê dit is nie in dié stadium duidelik na hoeveel verdagtes gesoek word nie.

Die motief vir die moord is ook in dié stadium nog onbekend. “Die motief sal vasgestel kan word sodra iemand in hegtenis geneem word,” het hy gesê.

Polisiebeamptes is Maandag in die vroeë oggendure na die plaas Frischgewagt ontbied waar Papapavlou se liggaam in een van die vertrekke in die plaashuis aangetref is.

Papapavlou se vrou en ander gemeenskapslede was met die polisie se aankoms op die toneel.

Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo, het gesê gemeenskapslede het die aand ’n veldbrand op die betrokke plaas geblus toe die oproep Sondagaand voor middernag van Papapavlou se vrou deurgekom het dat haar man in die plaashuis op dié plaas doodgeskiet is.

Volgens Opperman het Papapavlou se vrou op die toneel verduidelik dat sy op ’n rusbank saam met die egpaar se hond in die een vertrek geslaap het en Papapavlou in ’n ander.

Volgens haar het die aanvallers moontlik toegang tot die huis deur ’n venster gekry waarna sy na bewering wakker geword het van vyf skote. Sy het toe glo self sewe skote met haar vuurwapen afgevuur om die aanvallers te verjaag.

Mojapelo kon nie in dié stadium verduidelik hoeveel skote die betrokke nag afgevuur is of hoeveel keer Papapavlou geskiet is nie.

Hy sê die ondersoek na die voorval duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Niklaas ·

Dit sal baie interessant wees om die volle waarheid aan te hoor van wat nou eintlik gebeur het daar.

Androclus ·

Die berig lei as volg: Die woordvoerder van die polisie in Limpopo het Woensdagoggend aan MM gesê ….. Het die voorval nie Maandagoggend ure plaasgevind nie en dis vandag Dinsdag.. Of hoe het ek dit nou.

Megan Swart ·

Dagsê Androclus
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is reeds gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Nozi ·

Iets in hierdie berig klink nie vir my reg nie. Sal maar wag en kyk wat lewer die ondersoek op.

Termiet ·

Is dit nou maar net nog ‘n moord op ‘n plaas? Of is dit ‘n plaasmoord?

Zandra ·

dit wil voorkom plaasmoorde gaan gepaard met baie meer as net wat hier gebeur het, dalk net moord op ‘n plaas, en dalk het hy die persoon geken ook (altans die meester brein)

Dries ·

Gister is berig sy het een skoot gehoor. Nou word berig sy het vyf skote gehoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.