Groblersdal: Nóg moordverdagtes kruip dalk weg

Smith en Papapavlou in die beskuldigdebank in die landdroshof op Groblersdal (Foto: Anja van der Merwe)

ʼn Informant het die familie van die vermoorde Raymond Gregory Papapavlou (28) ingelig dat daar moontlik nog verdagtes is wat met dié plaasvoorman van Groblersdal, Limpopo, se moord verbind kan word.

Volgens Japie Jonker, Raymond se oom, het die informant die familie onlangs genader en waardevolle inligting verskaf wat die saak teen Simone Papapavlou (26) en Patricia Ray Lee Smith (23) kan versterk. Volgens die informant is daar glo nog verdagtes by die moord betrokke.

Japie het Donderdag saam met sy vrou, Michelle Jonker, en Raymond se ma, Sonja Papapavlou, die hofsaak bygewoon. Daar was soms trane in familielede se oë terwyl hulle na die inligting rakende die aand van Raymond se moord geluister het.

Japie sê hoewel die informant se inligting nog nie openbaar verkondig kan word nie, het dié persoon glo ook inligting oor hoe Smith en Papapavlou sedert 2019 Raymond se moord haarfyn beplan het.

Maroela Media het vroeër berig Papapavlou en Smith word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om Raymond te vermoor en dit soos ʼn moontlike plaasaanval te laat lyk. Hulle was glo ten tyde van die moord in ʼn romantiese verhouding betrokke.

Die ondersoekbeampte, AO Debbie van Zyl, het Donderdag in die landdroshof in Groblersdal tydens Papapavlou se borgtogaansoek getuig die twee vriendinne wou Raymond “uithaal” omdat hy “in die pad van hul liefdesverhouding was”. Sy het aangevoer dat geld ook nie as motief vir die moord uitgeskakel kan word nie. Raymond het voor sy dood twee lewensversekeringspolisse uitgeneem en dit aan Papapavlou as begunstigde uitgemaak.

Raymond is op 4 Oktober in die egpaar se plaashuis geskiet. Hy het op ʼn bed in die egpaar se slaapkamer gelê en slaap terwyl Papapavlou glo in die sitkamer televisie gekyk het.

Papapavlou staan voorlopig tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ongelisensieerde ammunisie en regsverydeling. Smith staan op haar beurt nog tereg op aanklagte van moord en sameswering tot moord.

Papapavlou het tydens haar borgtogaansoek egter haar betrokkenheid by die moord ontken.

Konkelary

Van Zyl het Donderdag vir die staat getuig om Papapavlou se borgtog teen te staan. Sy het aangevoer dit sal nie wys wees om Papapavlou op borgtog vry te laat nie, aangesien sy moontlik die hasepad sal kies.

Van Zyl het daarop gedui dat Papapavlou uitgeslape is en nie vertrou kan word nie. Sy het in die hof na beeldmateriaal verwys wat wys hoe Papapavlou in Julie 2021 – kort voor haar inhegtenisneming – met ʼn swart man in ʼn restaurant in Middelburg, Mpumalanga, sit en “konkel”.

“In die video is dit duidelik hoe Papapavlou by die man sit en iets bespreek. Die man het ʼn lêer op sy skoot gehad. Sy het haar gesig agter haar hand weggesteek. Die hele scenario het net verdag voorgekom,” het Van Zyl getuig.

Van Zyl het ook aangevoer hoe Papapavlou se verklaring oor die aand van die moord se gebeure nie ooreenstem met verklarings van getuienisse van deskundiges wat die toneel ontleed het nie. Haar tydverloop van die gebeure klop glo ook nie.

“Papapavlou het in haar verklaring beweer Raymond is tussen 23:00 en middernag geskiet. ʼn Forensiese wetenskaplike aan die Universiteit van Pretoria (UP) wat foto’s van Raymond se liggaam op die bed bestudeer het, het egter gesê hy is nie in dié beweerde tyd geskiet nie, maar moontlik ʼn uur en ʼn half vroeër.

“Papapavlou het ook glo omstreeks 23:32 op ʼn boodskap op ʼn WhatsApp-groep “heel vrolik” reageer. Dit was in die tyd wat sy volgens haar geslaap het,” het Van Zyl getuig.

Eerste verjaarsdag in die hemel

Twee van Japie Jonker se plaaswerkers staan met ‘n plakaat van die vermoorde Raymond Papapavlou (Foto: Anja van der Merwe)

Papapavlou se regsverteenwoordiger, Sonja Weideman, het in die hof aangevoer Papapavlou, Smith en Raymond was al drie kwansuis saam in ʼn seksuele verhouding betrokke. Volgens Raymond se familie kan hulle nie glo hul Raymond sou só iets kon doen nie.

“Hy was lief vir die Here en het die laaste ruk in sy lewe die reguit pad gekies. Ons het vrede in ons harte dat Raymond in die hemel is. Dit gee ʼn mens vertroosting,” het die familie ná die hofsaak aan Maroela Media gesê.

Raymond sou Saterdag 29 jaar oud geword het.

“Nou vier hy dit saam met die Here.”

Volgens Michelle was Raymond ʼn “sagte reus en teddiebeer”. “Hy het die sagste hart gehad en uit sy pad gegaan om die minderbevoorregtes te help,” vertel Michelle.

Volgens Jonker het die familie ook berusting om te weet die saak vorder. “Ons betwyfel geensins die sterkte van die saak nie. Ons glo geregtigheid sal geskied,” het Jonker gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Niklaas ·

Daar is steeds heelwat vrae sonder enige korrekte antwoorde. Nou blyk dit dat meer partye betrokke kan wees. Mag geregtigheid seëvier

Irene ·

As mens dan nou so ongelukkig getroud is en of jy nou iemand anders liewer as jou man of vrou intussen gekry het…. SKEI DAN MAGTIG!!!!! Moenie moord staan en pleeg nie. As jy nou by die Spur gaan eet en jou steak is te gaar na jou sin…. jy loop nie en skiet die ou wat die kos gemaak het nie. As jy so lank aan jou man of vrou se moord kan beplan en dit uitvoer…. daar issie plek vir jou in hierdie wereld nie. Ek kry die man se familie so jammer

Hardekwas ·

Maar as sy skei sal sy nie polisgeld kry nie. Haar man sou haar as begustigde verwyder het. Siek verby. Vrot in die tronk.

JM ·

Al jaag die leuen ook hóé snel, die waarheid agterhaal dit wel. Beplan nie net hoe om te moor nie, maar ook hoe om te lieg.

Blomme ·

Dit bly hartseer as so iets met ń familie gebeur. Hard om die stukke op te tel en aan te beweeg. Dink aan die familie.

Johanna ·

Ek mag nie oordeel nie, maar vroue en mans wat moord pleeg en dit soos n Plaas aanval laat lyk is EVIL. Dit is n klap in die gesig van Boere en families wat reeds in plaasmoorde vermoor is. As mens so evil is moet jy maar baie lank.toegesluit word.

Yvonne ·

Hoe kan n mens met verstand sulke moorde beplan en dink hulle kom daarmee weg…..so baie het dit al probeer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.