Groblersdal-plaasaanval: Ses nog op vrye voet

Herman Botha. Foto: www.nualcadebonsmaras.co.za

Die polisie is steeds op soek na ses aanvallers wat Sondag betrokke was by ʼn aanval op ʼn plaas in die Groblersdal-gebied in Limpopo.

Herman Botha het kort ná die aanval op sy plaas gesterf, vermoedelik weens ʼn hartaanval.

Kobus Hildebrandt, ondervoorsitter van die landelike veiligheidsgroep in Groblersdal, het Maandag aan Maroela Media gesê bewerings deur die polisie dat Botha tydens die aanval geskiet is, is nie waar nie. “[Botha] is nie geskiet nie. Hy is glo sleg aangerand tydens die aanval, maar hy is nie geskiet nie,” het Hildebrandt gesê.

Hy het gesê volgens die inligting tot sy beskikking is Botha en sy seun deur die groep aanvallers oorval toe hulle deur die loop van die oggend by die huis aangekom het. Botha se vrou, skoondogter en haar kinders het glo kort daarna ook by die huis aangekom en is ook deur die aanvallers oorval en vasgebind.

Die aanvallers het ʼn aantal vuurwapens en ʼn Toyota Etios geroof voordat hulle op die vlug geslaan het.

Hildebrandt het gesê die Botha-familie kon daarin slaag om hulp op ʼn noodradio te ontbied en die landelike veiligheidsgroep en omliggende boere het vinnig gereageer om al die paaie in die gebied af te sper. “Die Etios is later verlate naby Loskopdam langs die pad gevind. Een van ons buurtwaglede het die voertuig gesien en ons in kennis gestel terwyl hy by die voertuig gewaak het,” het hy gesê.

Die Toyota Etios wat langs die pad gevind is. Foto: SAPD

Hy het bevestig dat twee verdagtes kort daarna in die omgewing in hegtenis geneem is en dat twee vuurwapens wat tydens die aanval gesteel is in hul besit gevind is.

Volgens Hildebrandt is ʼn ambulans ontbied om mediese hulp aan Botha te verleen en is hy na ʼn rugbyveld geneem van waar ʼn noodhelikopter hom na ʼn hospitaal sou neem. Hy het egter gesterf voordat hy na die hospitaal geneem kon word. Daar word vermoed dat hy ʼn hartaanval gehad het, maar die oorsaak van sy dood is nog nie bevestig nie.

Hildebrandt het gesê die ander slagoffers wat by die aanval betrokke was, het nie ernstige beserings opgedoen nie. Marius Müller, nasionale veiligheidskoördineerder van AfriForum, asook twee ander bronne wat op die toneel was, het ook aan Maroela Media bevestig dat Botha nie tydens die aanval geskiet is nie.

Maroela Media het Maandag weer by lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale woordvoerder van die polisie, navraag gedoen oor die teenstrydige inligting en hy het gesê die inligting is aan die media deurgegee volgens die polisie se amptelike verslag oor die saak. “ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van die slagoffer se dood te bepaal,” het hy gesê.

Hy het gesê die polisie is steeds op soek na die ander ses verdagtes. “Hulle is geïdentifiseer en ons is op hulle spoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Gebroke ·

My Hart kan die gemors net nie meer hanteer nie. Hoekom word die nare gevalle van moord en roof nie ook onder die rasse konflik gemerk nie? Dit is die keuses van die media wat political reg wil wees. As n blanke uitvaar teenoor enige ander kleur is ons onder die spotlight vir rasisme. Wat anders as rasisme is die elke dagse moorde op weerlose blanke boere wat kos op almal se tafels sit? Maar wat help een stem wat dit wil skreeu! Dit sal volhou tot daar niks van ons mense of die land oor is nie.

Ai ·

Gebroke, die media in Suid Afrika doen presies wat die media in Amerika, Swede, Duitsland ens. doen. Presies dieselfde modus operandi. Die media word beheer deur mense wat n absolute missie het om enige geweld teen ons te ignoreer en enige geweld teenoor ander rasse op te blaas. Daarom sal dieselfde storie soos die Spur incident vir n maand lank oor gerapporteer word omdat dit eintlik so min gebeur maar wrede plaasaanvalle word nie eers genoem nie.

Moenie bekommerd wees nie. God sien als. In die wereld sal ons nie geregverdig word nie, maar buite die wereld sal ons Troos jou daaraan.

nick ·

Dit is so ironies dat die KFC storie op media24 se nuus elke aand vir dae op is terwyl n man sterf na n aanval deur 6 swart manne en niks word gese nie!! so jammer vir familie en vriende in Groblersdal

Liza101 ·

Loskop Vallei het ‘n ysterman verloor! Oom Herman rus in vrede, jy word reeds gemis. Baie sterkte aan tannie Meisie, Nico, Bernard en hulle gesinne, mag God julle vertroos in hierdie moeilike tyd.

jack daniel ·

Sterkte aan die familie. Mag God se geregtigheid begin seevier wat ons is maar nuttelose mense. Ons gebede is met julle.

Daar is so baie plaasaanvalle n moorde dat maroela nie eens meer tred kan hou met wie vermoor, aangerand of net dood is nie.

Kop hou maroela! Julle is ons enigste waarheid nuus.

Hennie ·

So onnodig!! Tog wonder ek hoekom dra mense nie hul wapens saam nie? En ja dit word weens politieke korrektheid stil gehou!

Alida ·

Hennie hoe weet jy hulle was nie gewapen nie was juy daar? As 6 of 8 gelyk op jou afstorm het jy geen kans nie gewapen of nie. Dink voor jy praat.

Linette ·

@Hennie, liewe mens, wanneer gaan ons leer dat om bewapend te wees, beteken niks nie? Alles wat jý het om húlle mee seer te maak, kan teen jóú gebruik word om jóú seer te maak. SA wapenwette maak dit vir die wettige wapen-eienaar haas onmoontlik om (1) ‘n geldige wapenlisensie te bekom deur ‘n hele spul voorvereistes en dan (2) ‘n maandelange gesloer met die lisensie en (3) vereiste dat jy jou vuurwapen, wanneer nie aan jou persoon nie – in ‘n kluis weg te sluit. Watter nut het jou vuurwapen vir jou wanneer jy dit dringend nodig het, dit in ‘n kluis weggesluit is? Maar niemand gee aandag aan die 100’e en 1000’e vuurwapens wat van hul wettige eienaars geroof word of sommer net deur blote agtelosigheid deur polisielede ‘verloor’ word nie. Net nou die dag by my werk, het ‘n (berankte) polisieman sommer sy vuurwapen in die toilet vergeet! Jy kan tot die tande bewapen wees, as jy wil, maar as 8 aanvallers (die goed is mos te lafhartig om een-een te kom en kies altyd sagte teikens soos ouer mense of vroue), gaan g’n wapen jou help nie.

Zoom zoom ·

Sekerlik is die polisie nie baie eager om die mense te vang nie. Al die polisie is nou net op die kfc saak saam met die min. Wonder of hulle ook ‘n paar hoenders gratis kry.

engela ·

Herman ons gaan jou baie mis 42jaar vriendskap al die grapies dogterjie 1 2 3 Rudd kinders Baie Hart seer rus in vrede

KK ·

Hoekom!!!!!!!!!!!!!!!!!! So gatvol vir die moorde van onskuldige mense!!

Hierdie man dra by tot die ekenomie van ons land.. Ek voel so gebroke!!

Boerseun ·

Te besig omdie KFC saak te ondersoek, nie nou tyd om onskuldige moordenaarns te soek nie

Louisa ·

Die vrou wat al 10 jaar in ons huis werk se hele familie – man dogter, seun, is die afgelope jaar in misdaad vermink of vermoor. Haar dogter is onlangs vir haar selfoon van ‘n trein afgestamp en sy sal nooit weer outonoom funksioneer nie.

Andre ·

Ons het baie onlangs by mense op ‘n plaas oorgeslaap. Geen sekuriteitstelsels nie, nie eens diefwering voor die vensters nie. Selfs hul deure is maar dun en kan met een skop oopgestamp word. Op ons vraag hoe hulle so kan bly terwyl dit oral in die land so uiters gevaarlik is, antwoord die mense ons dat “by hulle nog nooit iets gebeur het nie”. Hoe kan mense so naief wees terwyl hulle feitlik daagliks lees van moorde op boere? Ek sê nie dit was die geval met wyle mnr. Botha nie – al wat ek sê is daar is steeds plaasmense wat glo niks sal met hul gebeur nie en hul weier botweg om enige sekuriteitsmaatreëls te tref.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.