Groblersdal-plaasmoord: ‘My pa is ʼn held’

Henning Joubert. Foto: Verskaf

Henning Joubert. Foto: Verskaf

“My pa het as ʼn held gesterf. Hy het sy lewe gegee om drie ander mense se lewens te spaar. En dit is hoe ek hom altyd sal onthou.”

So het Jo-ann Auret Woensdag gesê oor haar pa, Henning Joubert (53), wat Vrydag op ʼn plaas in die Groblersdal-omgewing in Limpopo deur ʼn aanvaller met ʼn mes doodgesteek is.

Maroela Media het vroeër berig dat Joubert en sy vrou oorval is toe hulle Vrydagmiddag by die huis op die plaas aangekom het. ʼn Struweling het tussen Joubert en die inbreker ontstaan en Joubert is verskeie kere met ʼn mes gesteek. Hy is op die toneel dood. Die inbreker is in die proses geskiet en is volgens inligting van die polisie steeds in ʼn ernstige toestand in die hospitaal.

Auret het Woensdag gesê die plaas het nie aan haar pa behoort soos vroeër berig is nie, maar was ʼn familieplaas van sy vrou, met wie hy onlangs getroud is. “Die oom en tannie [wat op die plaas bly] was nog in die dorp toe my pa-hulle daar aangekom het. My pa het in die huis ingegaan en is deur die inbreker oorval,” het Auret gesê.

“Ek weet nie presies wat alles gebeur het nie, maar ek weet my pa het met alles in hom geveg om sy vrou te beskerm. As hulle nie daar aangekom het nie, het die inbrekers dalk die oom en tannie ingewag. My pa het hulle plek ingeneem, sy lewe vir hulle en sy vrou opgeoffer.”

Volgens Auret is dit nie duidelik of daar meer as een aanvaller by die voorval betrokke was nie, aangesien Joubert se vrou slegs een aanvaller kan onthou. Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is op soek na nog verdagtes, maar is nog nie seker hoeveel verdagtes betrokke was nie. Slegs die een verdagte is tot dusver in hegtenis geneem.

Joubert het by Eskom se Hendrina-kragstasie gewerk en laat sy vrou, twee dogters, skoonseun en drie kleinkinders agter. “My pa was altyd ʼn groot deel van my lewe en sy goedkeuring was altyd vir ons belangrik,” het Auret gesê. “Hy het ons grootgemaak om onafhanklik te wees en ek dink die dag toe ek trou was hy verlig iemand het in my lewe ingekom wat altyd na my sal omsien. Hy wou seker gemaak het daar is iemand wat altyd na ons sal kyk. Hy was my held.”

ʼn Gedenkdiens vir Joubert sal Maandag in Middelburg gehou word. Joubert se vrou se naam word op versoek van die familie weerhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gesiggie ·

Auret… an jou en jou Ma en Familie, mag die liefde van God kul omring deur die hartseer tyd… mag die wat so iets aan jou Pa gedoen het betaal… Sterkte aan jul as Familie…

tamboti ·

Nog ‘n voorval van “huishoudelike terrorisme” deur wraak en haat ge-inspireer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.