Groblersdal-seuns ‘te gou weggeruk’

JG Greyling, Conrad Meiring en Stiaan Grobler. (Foto: Verskaf)

“Saterdagaand het ’n storm oor die dorp uitgesak. Dít was vir my ʼn teken dat God geweet het hoe seer ons gemeenskap het en dat Hy saam met ons huil.”

Só sê Micaela Jovner (19), ʼn hegte vriendin van die drie matrikulante van die Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal, Limpopo, wat vroeg Saterdagoggend in ʼn motorongeluk in die Wes-Kaap gesterf het.

’n Kranslegging sal op 7 Desember vir die seuns by die skool gehou word.

Micaela, ʼn onderwysstudent aan Unisa wat vroeër saam met die seuns op skool was, sê dit is ʼn moeilike tyd vir die hele gemeenskap.

“Ons kan nou net staatmaak op die Here en almal se gebede om ons deur hierdie swaar tyd te dra.

Hulle was al drie engele wat te gou van ons gevat is.”

Stiaan Grobler en JG Greyling. (Foto: Verskaf / Micaela Jovner Photography)

Maroela Media het vroeër berig dat JG Greyling, Stiaan Grobler en Conrad Meiring (almal 18 jaar oud) met hul matriekvakansie in Hartenbos was toe die motor waarmee hulle gery het die pad verlaat het. Die ongeluk het op die N2 naby George plaasgevind en al drie seuns is op die toneel dood.

ʼn Vierde insittende, Adrian Myburg (18), het die ongeluk oorleef. Dit is nie duidelik wie die motor bestuur het of wat tot die ongeluk gelei het nie.

Micaela sê Stiaan was haar “beste maatjie”.

“Daar is bitter min mense vir wie ek só baie omgee soos wat ek vir hom doen. Hy was ’n karakter op sy eie, met sy eie wil in die lewe. Hy was ontsettend familievas en het hulle belange altyd eerste op die hart gedra. Hy was my skuiling. Die plek waar ek die veiligste gevoel het.”

Stiaan, wat ook vir sy skool se eerste rugbyspan uitgedraf het, het volgens sy sussie, Carmen Mouton, gehoop om na skool as ʼn bemarker te werk. Hy wou ook graag klubrugby oorsee gaan speel.

“Stiaan het altyd voluit gelewe met baie selfvertroue en respek,” het sy oor haar broer gesê.

JG was ʼn sonstraalkind, vertel Micaela.

“Ek het nog nooit vir JG nié sien glimlag nie. Hy het die grootste hart gehad en het altyd tyd gehad om te gesels.

“Hy’t almal bo homself geplaas en sou altyd die ekstra myl stap vir die mense vir wie hy lief was. Hy was ons braaimeester en ’n regte kuierleier. Hy was altyd dieselfde. Jy hoef nooit te gewonder het waar jy met hom staan nie.”

Conrad Meiring by sy matriekafskeid vroeër vanjaar. (Foto: Verskaf / Micaela Jovner Photography)

Volgens Jean-Marie Heyns, bemarker by die skool, was JG ook ’n kranige gholfspeler. Hy was ingesluit by Limpopo se gholfspan wat aan die interprovinsiale toernooi deelgeneem het.

Micaela sê Conrad was die stil, teruggetrokke een – altyd op sy plek.

“Ek het al meer as een keer sy gesin afgeneem en hier na die tweede foto vra hy, ‘is ons al klaar?’

“Hy was mal oor gholf. Ek sou hom gereeld op sy motorfiets sien verbyry met sy gholfstok agterop.”

Conrad het ook krieket vir die skool se eerste span gespeel.

Hy sou volgende jaar by die Universiteit van Pretoria studeer en by die private De Goede Hoop-koshuis in Pretoria aansluit, waar sy sussie, Carli, reeds ’n inwoner is.

Dié koshuis het hul meegevoel vir die gesin op Facebook uitgespreek.

“Soos Carli hierdie jaar deel was van die De Goede Hoop-familie, het ons saam met haar uitgesien dat haar boetie Conrad in 2022 by ons aansluit as ’n eerstejaar.

“Ons dra elkeen in gebed op in hierdie moeilike tyd, mag Jesus julle trane opvang en elkeen wat hierdeur geraak word vertroos. Dit is ons gebed dat die mooi herinneringe van Conrad, JG en Stiaan sal voortleef in julle harte,” lui die inskrywing.

Micaela Jovner en haar beste vriend, Stiaan Grobler. (Foto: Verskaf)

John Smith, hoof van die Hoërskool Ben Viljoen, het die seuns beskryf as “leerders vir wie avontuur deel van hul lewenswyse was”.

“Met ’n glimlag het hulle die lewe aangepak. Elkeen met sy eie toekomsdrome en ideale. Altyd goed gemanierd en op hulle plek, staatmakers op verskeie terreine.

“Ons harte gaan uit na hulle gesinne. Woorde skiet tekort, maar hierdie leerders sal voortleef in ons almal se harte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Swerwer ·

Ai, daar is nie genoeg woorde om die hartseer en seer te troos nie. God alleen kan. Sterkte

Janee ·

Bitter hartseer….Ons bid vir almal en weet dat God vertroosting bring in die tyd…

Susan ·

Dis so tragies! Ek het in 1993 skoolgehou by ‘n Hoërskool in Pretoria, waar daar ook 3 spogseuns tydens die matriekvakansie in ‘n motorongeluk oorlede is. Tydens dieselfde tragiese week het ‘n graad 11 seun homself tydens pouse doodgeskiet oor ‘n mislukte verhouding met sy meisie. Waar sulke jongmense/ kinders se lewens so tragies beëindig word veroorsaak dit regtig groot smart omdat hulle nog so aan die begin van ‘n belowende toekoms was met nog soveel opwindende geleenthede wat hulle paaie sou kruis.

Pieter ·

Net interressant. Wat is die verskil tussen “spogseun” en net “seun” soos hierso gedifferensieer is.

gedoriewaar ·

My hart gaan uit na hierdie ouers en families . Vir lank gaan die son vir hulle gebêre wees ,Ongeag hoe braaf en dapper jy wil wees , hoeveel vrede jy gemaak het .NIKS kan daardie gat toeplak nie . Dankie vir uitsonderlike herhinneringe en God se Genade en Liefde en Nabyheid bid ek julle toe . Daar gaan dae wees wat die weersiens en die ewigheid kigjare ver gaan voel en hierdeur kan slegs die Here se genade ons dra . Baie sterkte dierbare mense .

Daleen1 ·

Baie sterkte aan almal wat na aan hulle was, so tragies, veral nou in hierdie feesgety wat ons binnegaan

Mariaan ·

Hierdie is net hartverskeurend!! Bitter hartseer..tragies…so kan ek aangaan….die lewe is darem wraggies nie n maklike pad nie!!

madels ·

Ek ken nie hierdie kinders nie maar my hart ween oor hulle lewe wat so vinnig van hul weggeruk is. Ek kan my nie indink wat familie en vriende deurgaan nie, dis so verskriklik tragies :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.