Groeiende getuienis van polisie-teenwoordigheid in parlement

Die parlement in Kaapstad. (Foto: ANA)

Die EFF se bewerings dat die polisie besig is om met die parlement saam te span om polisielede te vermom as parlementêre veiligheidswagte in die aanloop tot Donderdag se staatsrede, blyk korrek te wees.

Die parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, het by navraag ten sterkste ontken dat die planne wat die EFF beweer, wel gesmee word.

“Die aansprake is belaglik en hulle sal dit nie kan bewys nie. Die parlement sal nie die wet oortree nie. Die beskikbare maatreëls is meer as voldoende om die ontwrigting van die staatsrede te voorkom,” het Mothapo gesê.

Die EFF beweer een van die parlement se voorste veiligheidspersoneellede, Deon van der Spuy, heul met die polisie om die vermommings daar te stel.

Mothapo het gesê natuurlik is daar kontak tussen die polisie en die parlement oor die staatsrede, soos daar elke jaar is. Hy het gesê niks hiervan is egter onwettig nie.

Maroela Media het egter deur raadpleging van onberispelike primêre bronne vasgestel dat die EFF se bewerings in hierdie stadium korrek is. Niemand kan egter op gegronde wyse beslis sê of dié planne verander gaan word noudat dit deels openbaar gemaak is nie.

Maroela Media se bronne sê voorts dat daar beslis konkelwerk aan die gang is en dat die polisie en die parlementêre veiligheidspersoneel ʼn hele operasionele lokaal op ʼn spesifieke plek in die parlementêre kompleks ingerig het, toegerus met allerlei moniteringstoerusting.

Volgens die bronne gaan ʼn verskeidenheid “spioene” ook Donderdag oral op die terrein ontplooi word om vas te stel of daar enige onverwagse gedrag van enigiemand op die parlementêre terrein is. Hierdie mense sal in voortdurende kontak met die operasionele sentrum wees, is aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

RyanSA ·

Maar so wat as dit so is? Dit het niks te make met enigiemand nie. Daar moet polisie wees om mense wat dreig om oproerig te wees vas te vat..

Louis ·

Die dreigemente van die EFF is niks anders as ‘n tipe van ‘n beweerde staatsgreep wat hulle onderneem as daar nie gese gaan word wat hulle wil hoor en sien gebeur nie. Hulle suggesties bevorder niks anders as ‘n gees van anargie in die land. Dreigemente is intemedasie van die hoogste gesag in die land . Dis beslis nie vryheid van spraak nie, maar arrogansie, onverantwoordelik en beslis onwettig. Leer hulle vir eens en altyd ‘n les.!!!

Oopkop ·

Presies. Hulle behoort toegesluit te word vir anargie wat hulle aldag propageer!

Dries ·

Nou verander dan die ‘wet’ of ‘reels’, dat dit wel so kan gebeur. Die EFF is mos goed daarmee om wette te verander, nou ja, waarom nie in hierdie geval ook nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.