Groen lig vir polisiereserviste om te help

Argieffoto

Argieffoto

AgriSA het Woensdag die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane se aankondiging, dat al nege provinsies mag voortgaan om polisiereserviste aan te stel, verwelkom.

Phahlane het aangedui dat die aanstellings in lyn is met bedryfsvereistes vir die 2016/2017 finansiële jaar.

Hy het twee weke gelede lede van die publiek aangemoedig om by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan te sluit as reserviste om die ernstige mannekragtekorte aan te spreek. Daar sal van die reserviste verwag word om minstens 16 ure per maand vrywillig te werk en om die voorgeskrewe opleiding te ondergaan.

Phahlane het gesê die reserviste sal hoofsaaklik gebruik word tydens misdaadbekampingsoperasies op stasievlak en om die kapasiteit van die polisie te versterk tydens spits-misdaadperiodes.

Kobus Breytenbach, voorsitter van AgriSA se landelikeveiligheidskomitee, het gesê die instelling van die reservisstelsel is ʼn saak wat sy organisasie deurgaans met die polisie bespreek, selfs by die organisasie se onlangse kongres. “ʼn Reservisstelsel wat goed werk, dra by tot die bevordering van die polisie se ‘Back to basics’-program en is bykomend tot die polisiemag in landelike gebiede om verdere momentum te gee aan die implementering van die landelikeveiligheidstrategie,” het hy gesê.

“Ons doen ʼn beroep op alle kwalifiserende lede van die plaasgemeenskap om van dié geleentheid gebruik te maak en dit te oorweeg om as ʼn reservis aan te sluit en by die naaste polisiestasie aansoek te doen,” het Breytenbach bygevoeg.

Hy het gesê die reservis-dispensasie en sektorpolisiëring moet deur die plaasgemeenskap ondersteun word, om polisiëring op ʼn plaaslike vlak uit te brei. “Verder ondersteuning kan gebied word deur buurtwagte op plase in te stel om waarnemings te doen en inligting in te samel. Hierdie benaderings kan saam ʼn groot rol speel tot doeltreffende polisiëring en om veiliger landelike gebiede te skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jakes ·

Edel inisiatief en harde werk, dankie waardeerd. Was dit sieklike Jackie Selebi wat ons gestop het? En Lekota wat van Komando’s ontslae geraak het? Beskerm eerder jou eie plaas en gesin, asb.

Epost ·

Ek wil net weet hoekom die vakante poste nie gevul word nie en waar is die fondse wat daarvoor geallokeer was. Alle stasies ondervind personeel tekorte. Nou moet gratis reserviste die werk doen van die polisie, wat nie aangestel word nie, want daar is glo nie geld!

Alric ·

Aggenee. As ons negatief is sal ons nie dinge kan draai nie. Hierdie is baie goeie geleentheid om jou afdruk te maak en ons land ‘n beter plek vir almal te maak. Ek het ingeskryf en opgewonde daaroor. As ons negatief oor dit is, wys ons dat ons opgegee het. Hierdie is die gulde geleentheid om die tipiese kommandostelsel te vervang. Maar dit gaan ons positiewe uitkyk kos. Die vraag is het ons opgegee of sal ons weer saamstaan om hierdie land veilig vir almal te maak. Ek nooi julle uit om saam met my patrioties te wees en SA se mense te dien soos ons liewe Vader dit van ons verwag.

RK ·

Ek wil dit ook graag weet. Ek is goedgekeur vir herindiensneming maar is geplaas op n bos stasie waar daar geen behuising is nie. Maar in my dorp is daar poste beskikbaar. Die mense is kilometers van hulle huise afgepos. En ek kon ongelukkig nie die pos aanvaar nie, net soos ander ook. Hulle wil ons nie terug hê nie. Die polisie flous die media!!!!

Alida ·

Ek hoop word behoorlik gekeur dat ons nie vir wolf skaapwagter maak nie.

Etienne ·

Waarom geen eie inisiatief om iets van die grond af te kry en ons eie mense te bemagtig en in te span vir die taak nie ? Kan ons die SAPS ( staat ) werklik vertrou met die veiligheid van ons
Volk ….

janneman ·

Lees mooi….misdaad bekampings aksies…..as enige van die reserviste in landelike areas ontplooi word om sigbare polisiering tot effek te bring, sal dit n wonderwerk wees. Die reserviste sal die kantoor dienste behartig, sodat die uniform manne kan lekker rus……ek twyfel of enige patrollies meer as die huidige byna geen patrollies gaan realiseer. Sal eerder op n 6maande toets basis aansluit, en kyk of SAPD regtig ernstig is om misdaad te bekamp, nie net beveg nie, maw pro aktief optree, nie reaktief nie.

RK ·

Die polisie bluf die mense en die media. Ek kon teruggaan polisie toe en waar plaas hulle my. In die bos waar geen behuising is nie terwyl in my dorp poste beskikbaar is. En ek het by ‘n prioriteit eenheid gewerk waar daar tekorte is. Nou wil hulle reserviste weer aanstel. Regrig

Drakensnerger ·

Doen julle huiswerk deeglik voor sommige van julle kommentaar lewer! Reserviste gaan nie aanklagkantoor werk doen nie! ‘n Gulde geleentheid om ons voet in die deur te kry. Ons kry nou die geleentheid om ons eie te beskerm en te dien! Ons sal meer mag hê om ons take te kan uitvoer as wat ons arme boere nou het wat in elk geval patrollie ry en maar net kan obserweer. Al ons Boerseuns moet inspring!

Etienne ·

Patrollie ry los nie die probleem op nie , op hul eie kry die SAPS nie die veel meer reg nie…Lees my kommentaar by die artikel oor plaasmoorde.Die oplossing gaan uit eie geledere moet kom ….

Oupa ·

@Alric, ek reken nie dat die kommentare soseer negatief is, as wat dit uit frustrasie gemaak is nie. Wie dink jy gaan die reservis-werk doen? Dieselfde mense wat deur hulle ore belasting betaal vir polisie-dienste, deur hulle nekke betaal vir ekstra sekuriteit en gewapende reaksie (waarop belasting betaal word), en dan nog steeds deurloop onder diskriminasie en misdaad! En terwyl hulle reservis-diens gratis verrig, is hulle naastes alleen tuis. Dit maak gewoon nie sin nie, al is die bedoeling hóé goed.

Myns insiens is hierdie “aankondiging” deur die owerhede ‘n erkenning dat hulle nie hulle werk kan doen nie.

Namibië ·

Ons het in Namibië op ons dorpe buurtwag wat as reservis saam met die polisie werk asook met hul privaat voertuie in die aande rondry met brandstof wat hul self betaal. Die misdaad het baie afgeneem. Die buurtwag het met die polisie se hulp nou die dag plaasaanvallers bitter vinnig gevang.

Johann ·

Wonder wie neem verantwoordelikheid vir Resifiste se veiligheid, sover dit my kennis strek is daar ‘n veel groter omvattende effek by mense wie hulle bereidwillig stel se veiligheid. Beding liewer dat die staat die poste behoorlik vul. “genoeg werkloses wie dit sal verwelkom”.

Jean ·

Wonderlik, ek hoop net dit word reg gedryf, en dat die reserviste die nodige beskerming en mag sal geniet om hulle take suksesvol te kan uitvoer. Dat die polisie nie heeltyd oor hulle skouer loer of hulle reprimand of voorskryf nie.

Gys ·

Ek het onlangs aangesluit as n reservist. Ek dink dit hang af van hoe erenstig die stasie is om misdaat te bekamp. Ek werk saam met n wonderlike span reserviste en Kaptein wat die span lei. Ek verstaan dat dit als vreiwillig is , maar sal wil he dat die staat darm die mediese kostes dek indien n reservist sou seerkry gedurende die ” werks tyd “. Voor ons kla , dink ook aan hoe gevaarlik die polisie se werk is. Die polisie se hande is werklik vasgemaak deur die wette om hulle self te beskerm. As hulle skiet kla die publiek oor die polisie geskiet het en dodelike geweld gebruik was . Aan die anderkant kla die publiek ook oor die polisie niks doen nie. Dit is nie die polisie wat niks doen nie maar ons regs stelsel wat niks doen nie, Jy arresteer n man vandag more is hy weer op straat want die regs stelsel vereis dat jy nie sy regte wag skade doen nie.

Rudi Goldschagg ·

Ek is in bevel van ‘ n landelikke veiligheids eenheid van die polisie in die Karoo.7 Jaar terug het 25 van die Boers in one distrik reserviste geword en is tot vandag toe aktiewe lede.Hulle werk net op die plase in hul areas en neem deel aan operasies wat padblokkades,voorlê-dienste en patrollies insluit.Hulls get selfs al arrestasies uitgevoer.Ek werk altyd saam hulle en ons get ongelooflikke sukses.Hoe klink 7 veediefstalle vir 2016 op die plase waarin 5 verdagtes voor die hof gebring is.Selfs die mense wat nie reserviste is nie help want hul is aangespoor deur sukses.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.