Groen vingers laat ’n erfenis

Solidariteit Helpende Hand se Mariana Kriel by die Ons Tuin-projek. Foto: Verskaf.

Sou Suid-Afrika ooit as gevolg van stygende pryse wat kos onbekostigbaar maak met ʼn voedseltekortkrisis sit, sal dit elke individu se eie skuld wees.

So sê Mariana Kriel, Helpende Hand se streekskoördineerder van Gauteng-Noord wat op Erfenisdag die Ons Tuin-inisiatief in Pretoria van stapel gestuur het om gemeenskappe landwyd aan te spoor om kosvoorsiening as ’n erfenis te laat.

Reg oor die land staan sypaadjies en openbare stukke grond onbenut. Dit is vrugbare grond waarop geplant kan word sodat jy die vrugte, oftewel groente, van jou arbeid kan eet én met die gemeenskap deel.

“Oral hoor ek mense se bekommernis dat Suid-Afrika binne die volgende paar jaar nie meer genoeg kos gaan hê nie en dat die prys van vars produkte eenvoudig onbekostigbaar gaan raak. Boere is bang om te plant, omdat hulle self onseker is oor die toekoms,” sê Kriel.

“Indien ons nou dink dat voedseltekorte moontlik kan gebeur, moet ons dan nou al begin om voorsiening te maak. Die antwoord is: Ons almal moet begin plant en waar moontlik moet jy nie net vir jouself plant nie, maar ook vir jou gemeenskap. Jou sypaadjie behoort aan die munisipaliteit, so hoekom gras plant of plaveisel gooi terwyl jy eerder groente of vrugte kan plant? Jou voor- of agtererf of enige stukkie onbenutte grond kan gebruik word,” sê sy.

Op die vraag hoe die inisiatief gepolisieër gaan word om te verseker dat vandale nie die groentetuine plunder nie, of om te keer dat mense in die gemeenskap nie van die vars produkte pluk voordat dit ryp is nie, antwoord Kriel dat dit tans nog ʼn leerproses is. “Vir myself asook ook vir die mense op straat wat gebruik gaan maak van die tuin. Ons gaan wel borde oprig wat lees dat ʼn spesifieke plant nog besig is om te groei en dat mense geduldig moet wees.”

Verder glo sy dat mense deur inligtingsessies gehelp kan word om die produkte reg te gebruik. “As mense hier verbyloop en meer inligting soek, gesels ons met hulle. Ons verwag dat mense met mekaar sal gesels, wat verdere onkunde uit die weg kan ruim. Omdat dit dalk iets vreemds is, sorg dit ook vir ʼn lekker skinderstorie en mense is nuuskierig.”

Kriel moedig mense in elke buurt aan om so ʼn projek te begin, maar noem dat elke inwoner van ʼn straat ʼn ander produk kan aanplant. “As elkeen iets anders plant, byvoorbeeld een inwoner plant net wortels, en sy buurman net avokado’s en dit so aangaan, sal dit vir seker genoeg kos verskaf en kan dit misdaad bekamp.”

Dié groepie werk al ‘n maand lank om die sypaadjie in ‘n groentetuin te omskep. Agter staan Uvian van der Colff, Mariana Kriel, Antoinette Deysel en Rene Kleynhans. Voor is Kea Mpete en AJ Kriel.

Vir dié wat nog huiwerig is om so ʼn groot projek aan te pak in hul voortuin stel Kriel voor dat hulle ʼn groentetuin in die agterplaas begin en dan die oorskiet in ʼn mandjie op hul sypaadjie plaas vir verbygangers. Kriel vertel dat die bure langs die perseel waar die groentetuin is, reeds belangstelling getoon het om iets soortgelyks te implementeer.

Kriel se tuin is een van altesaam 20 Ons Tuine wat tans in Pretoria pronk en wat volgens plan voor die einde van September altesaam een hektaar grond se groente kan dra.

Die Ons Tuin-projek is nie enig in sy soort nie. In Austin, Texas, het ene John Edwards die Food is Free- beweging begin, deur om ook die grond voor sy huis te bewerk en in ʼn groentetuin vir die gemeenskap te omskep. In net drie maande het 19 uit die 30 huise in sy blok ook hul tuine in mini-plase omskep en het die projek al die land se grense oorsteek, en is Food is Free Australië ook op die been gebring. Elders in Los Angeles, Kalifornië, het Roy Finley sy The Gangster Gardener projek in een van die gevaarlikste voorstede van die stad begin. Finley wou kinders in die stad weer rede en geleenthede gee om in gemeenskapsprojekte betrokke te raak.

Terug in Suid-Afrika het Johan Scott, ʼn oud-polisieman van Heidelberg, bekendheid in 2017 verwerf toe hy sy sypaadjie in ʼn welige groentetuin, gevul met bone, tamaties, pampoen en so meer omskep het. Hy het die projek begin nadat groente uit sy tuin op sy erf gesteel is en hy die nood in sy omgewing raakgesien het.

Oor die koste wat aangegaan moet word om só ʼn projek te begin, verduidelik Kriel dat lesers hulle projekte by haar kan registreer en dat Helpende Hand kan help met finansiering of borge vir die tuine. “Om ʼn groentetuin te kweek hoef beslis nie ʼn duur storie te wees nie. Saadpakkies by die plaaslike kwekery kos sowat R25, maar ek gebruik ook saad van groente en vrugte wat ek by die winkel gekoop het en uitgedroog het. As jy dit geplant het, kort die saailinge minstens twee weke lank gereeld water vir die plantjie se wortelstelsel om goed te vestig. As jy gras voor jou huis geplant het, sou jy ieder geval die gras natgelei het.”

Sy stel voor dat knoffelplantjies en Afrikaners (Marigold)-plantjies vir organiese plaagbeheer geplant kan word.

Hoe maak ʼn mens?

Die Greenpop-stigting, ʼn niewinsgewende organisasie in Kaapstad, verduidelik dat daar ʼn paar belangrike stappe is wat jy moet volg alvorens jy jou projek begin. “Die belangrikste is om jou gemeenskap betrokke te kry. Sonder die momentum en insae van almal in jou omgewing gaan die projek flop.”

Tweedens moet jy beplanning doen oor wat jy gaan plant, waarin jy dit gaan plant en hoe jy dit gaan plant. Jy kan direk in die grond plant of houers gebruik. “Buitebande en kratte werk goed,” sê Kriel.

Volgende moet jy dit nie probeer oordoen nie. Greenpop en Kriel stel voor dat ʼn mens klein moet begin en dan op die momentum van jou projek bou. “Selfs al begin jy net met een groenteboks is dit ʼn begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Bennie ·

Ek is ‘n hidroponiese groenteboer. Maar ja, mense met plase kom bedel groente vir verniet by my. Vandag se mense te lui om te plant. Ry eerder 100km in dorp toe vir “vars” pakkie wortels. Ek kweek selfs groente plantjies teen baie goedkoop, maar dan sal die vrou kla: ” my goed wil nie groei nie”. En soos ou oom vir my gesê het lank terug: ” Die Here laat die groente groei” so daar het jy dit. Geen verskoning om jou eie kossies te kweek nie.

Amanda ·

Goeie plan. Wie gaan my help in tuin as ons so langure werk en in verkeer is. En nog wil ek weet waar kry ons water. Munisipaliteite het nie water vir ons nie. Ons krane loop droog. Wens ek kan saam jou met positief wees

BB ·

Ek weet verseker – voor my huis in die straat sal die tuin nie ‘n week hou nie – dan is alles plat gery. In ons woonbuurt is die eiland gedeelte tussen die pad en sypaadjie amper nog ‘n laan om in te ry. Niks hou daar nie..

Darius ·

Baie goeie idee… Ek gaan in spring en dieselfde doen! :) en ek gaan my bure laat inkoop… Dit gaan werk

Sirkus ·

Ek het lekker groente geplant op my sypaadjie en toe ek een oggend gaan kyk is meeste groente weg. Iemand in die straat het twee vrouens en 1 jong man gesien en hulle agtervolg …. toe word my groente vir die gemeenskap, op die hoek naby die stasie verkoop. Nooit weer nie

Darius ·

Gelukkig groei goed weer en oor en oor …. jammer vir ongeluk

Hanlie ·

Goeie idee, maar ek sal 2 keer dink voor ek dit op my sypaadjie sal plant. Eerder in my agtertuintjie.

Peanut ·

Ek en my man het begin om ons agtertuin in n groentetuin te omskep om sover moontlik self versorgend te raak. Vandag, na minder as n jaar, het ons spinasie, wortels, beet, uie, mielies, boontjies en pampoen variante wat wissel van patty pans en zucchini tot gemsquash en hubbard squash. Ons het selfs ons eie aartappels. Ek oes elke oggend en wat ons nie kan gebruik gaan na die ouetehuis en gemeente se ou mensies. Kos ons niks ekstra aan water, God bly mildelik voorsien en ons eet lekker goedkoop en organies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.