Groenste munisipaliteite in Wes-Kaap aangewys

Die span van die Drakenstein-munisipaliteit met hulle pryse wat hulle by vanjaar se Groenste Munisipaliteit-kompetisie ontvang het. Foto: Rudolf van Jaarsveldt.

Die Wes-Kaapse regering het vroeër die week sy groenste plaaslike munisipaliteite vir 2019 aangewys.

Die Drakenstein-munisipaliteit, ʼn munisipaliteit in die Kaapse Wynlande wat dorpe soos die Paarl, Wellington, Mbekweni, Saron, Hermon, Gouda en Simondium insluit, het met dié titel van wenner weggestap.

Die Swartland-munisipaliteit is as naaswenner aangewys en Mosselbaai se munisipaliteit het derde in die jaarlikse Groenste Munisipaliteit-kompetisie geëindig.

Anton Bredell, provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het die wenners Dinsdagaand aangekondig.

Drakenstein-munisipaliteit, die grootste munisipaliteit in die Wes-Kaap naas Stad Kaapstad, het ook ʼn prys vir innovasie ontvang vir sy vullisterrein-projek vir entrepreneurs en nog ʼn soortgelyke prys vir die elektrisiteit wat gegenereer word by die Leliefontein-reservoir

“Ons is verheug en voel ongelooflik geëerd om die erkenning te ontvang. As ʼn munisipaliteit van uitnemendheid beklemtoon ons die voortgesette strewe om die ekonomie van Drakenstein op ʼn volhoubare manier te laat groei en met innovasie wil ons verseker dat al ons praktyke omgewingsvriendelik bly,” het raadslid Conrad Poole, uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, gesê.

Bredell het gesê die kompetisie is juis daarop gemik om munisipaliteite te motiveer en te inspireer om aandag te gee aan omgewingskwessies in hul streke.

“Munisipaliteite speel ʼn kritieke rol in die manier waarop Suid-Afrika die uitdagings van klimaatverandering benader. As ons dorpe nie doeltreffender word nie en voorbereid is vir die uitdagings wat ons teëkom nie, sal die ekonomiese groei wat ons land benodig ook nie ʼn werklikheid word nie,” het Bredell gesê.

Hy meen dit is belangrik dat munisipaliteite veral hul hulpbronne beter moet aanwend. “Hulpbronne soos water en elektrisiteit moet optimaal bestuur word en afval moet verminder word. Ons moet hulpbronne spaarsamig en verstandig gebruik en sorg dat toegang tot hierdie hulpbronne billik met alle gemeenskappe gedeel word.”

Munisipaliteite is in die kompetisie in verskillende kategorieë beoordeel. Daar is gekyk na die manier waarop hulle hul afval, biodiversiteit, water, luggehalte en natuurbewaring bestuur.

“Met hierdie kompetisie wil ons erkenning gee vir die werk wat die munisipaliteite doen om hulle gemeenskappe meer omgewingsvriendelik en veerkragtig te maak,” het Bredell gesê.

Die wenners in die verskillende kategorieë was:

  • Reaksie op klimaatsverandering – Drakenstein
  • Luggehaltebestuur – Drakenstein
  • Afvalbestuur – Saldanhabaai
  • Waterbesparing en -bestuur – Swartland
  • Bestuur van biodiversiteit – Overstrand
  • Kusbestuur en stedelike verfraaiing – Mosselbaai
  • Leierskap, nakoming, institusionele reëlings en openbare deelname – Hessequa

Drakenstein-munisipaliteit het as deel van die kompetisie ʼn kontantprys van R260 000 gewen. Swartland het ʼn kontantprys van R140 000 gewen en Mosselbaai R100 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

4 Kommentare

Nugter ·

Ek is verheug dat daar darem in een provinsie bekwame mense in bestuurs poste is en bereid is om te werk en nie net loop en belangrik lyk nie. Baie geluk julle ouens in die Wes Kaap.

Hitler ·

BrilJant!
Ons Almal Kan!
Dis vir ons nageslag wat dit gedoen word en so sal die voorbeeld gevolg word.
Haal net die verwoestende ANC en korupte elemente uit en almal sien, ervaar en bewaar die vrug van sy belasting geld..

Andre C ·

laasjaar is die 6de grootste Melkhoutbos in SA met n geskatte ouderdom van +-600jaar in die Overstrand met die medewete van Dept Natuurbewaring en Overstrand Munisipaliteit deur onwettige grondbesetters afgebrand.Die polisie en Munisipale Wetstoepassing het nie n vinger verroer nie,.Hierdie toekenning deur die DA maak nie sin nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.