Groep eis dat Noordwes-premier se kop rol

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Foto: ANA

Staatswerkers van die provinsiale gesondheidsdepartement in Noordwes het Dinsdag geëis dat Supra Mahumapelo, Noordwes-premier, binne 14 dae moet bedank.

Lede van die National Health and Allied Workers Union (Nehawu), die Democratic Nurses Organisation of SA (Denosa) en die Health and Other Services Personnel Trade Union of South Africa (Hospersa) het Dinsdag by die kantoor van die provinsiale wetgewer betoog en geëis dat Mahumapelo se kop rol.

Die groep het in ʼn memorandum gesê Mahumapelo is “korrup en besmet”.

Solly Phetoe, Cosatu se provinsiale sekretaris in Noordwes, het gesê die vakbondfederasie staan vierkantig agter dié versoek om Mahumapelo uit sy amp te verwyder.

“Ons het nie vir die ANC gestem om deur Supra onderdruk te word nie. As hy weier om te bedank, moet pres. Cyril Ramaphosa hom summier afdank. Ons het genoeg gehad van hom. [Sy] dae is getel,” het Phetoe gesê. “Ons is nie ʼn faksie nie. Ons is hier as gevolg van die kwessies wat die werkers [in die provinsie] raak.”

Van die grootste kwessies wat geopper is, is onder meer maatskappye wat tenders “onder twyfelagtige omstandighede” toegeken is.

Phetoe het na Mahumapelo gekap en gesê hy het glo ʼn skare “gehuur” om die werkers se betoging te ontwrig. Hy het gesê dit is onaanvaarbaar dat betogings wat antwoorde oor beweerde korrupsie eis, ontwrig word.

ʼn Groep jeugdiges, wat glo ANC-jeugliga-hemde gedra het, het glo stokke rondgeswaai, liedere ter ondersteuning van Mahumapelo gesing en plakkate rondgeswaai met die woorde: “Los Supra uit.”

Die groep het probeer om die staatswerkers toegang tot die kantoor van die wetgewer te weier, maar was in die minderheid. Die polisie het later rookgranate gebruik om die pro-Supra-groep uitmekaar te jaag.

Dié groep het ook al verskeie ander geleenthede in die provinsie ontwrig, soos onder meer die ANC se registrasieveldtog in Boitekong naby Rustenburg en ʼn veldtog in Montshiwa om “Noordwes te red”.

“Supra moet afgedank word,” het Phetoe bygevoeg. “Ons kan nie werk saam met openbare leiers wat dink regeringsgeld is hul eie nie.”

Die Suid-Afrikaanse burgerlike organisasie Sanco het ook die betoging ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

Ek was vanmore in Brits. Binnekort sal die hele Noordwes net een groot slaggat wees. Ek moes soos ‘n dronkie ry om al die slaggate te mis. Moontlik is dit veiliger om daar dronk te bestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.