Groep help verdagte voor hof ontsnap

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie het agt mans in hegtenis geneem wat glo ʼn moordverdagte gehelp het om uit ʼn polisiemotor voor die Bafokeng-landdroshof in Tlhabane, Noordwes, te ontsnap.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê die man is voor die hof in hegtenis geneem, geboei en in die polisiemotor laat sit. Die volgende oomblik het ʼn groep mans met ʼn verskeidenheid wapens, onder meer assegaaie, spiese, klippe en pangas, op die polisiemotor afgestorm en probeer om die moordverdagte te bevry.

“Die polisie het waarskuwingskote afgevuur, maar die groep het dit net geïgnoreer en daarin geslaag om die moordverdagte uit die motor te kry. ʼn Klomp van die mans het in ʼn Mercedes Benz-motor gespring en van die toneel weggejaag. Die polisie het die motor agternagesit,” het Mokgwabone gesê.

Volgens Mokgwabone het die verdagtes se motor ʼn ent verder ʼn pap wiel gekry en moes hulle noodgedwonge stilhou. Die mans het probeer weghardloop, maar die polisie kon daarin slaag om agt mans en die moordverdagte in hegtenis te neem. “Die moordverdagte was steeds geboei toe die polisie hom vasgetrek het,” het hy gesê.

Die mans sal Maandag in die Bafokeng-landdroshof verskyn op aanklagte van dwarsboming van die gereg en hulpverlening aan ʼn verdagte om uit wettige aanhouding te ontsnap. Die man wat oorspronklik van moord aangekla is, sal ook op ontsnapping uit wettige aanhouding tereg staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

KP ·

Hoekom nie skiet om te wond of selfs te dood nie, na waarskuwing. Daar is geen respek vir polisie, hulle weet polisie is te bang om te skiet. Misdadigers het meer regte as wetsgehoorsame burgers.

Hendrik ·

in vandag se tyd wil ek vir geen geld n polisieman wees nie. polisie kan doen net wat hy wil, en is altyd verkeerd. daar word knieë stukken gekruip voor die misdadiger. Dis n bydraë tot depressie ens. baie moeilik om positief te kan bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.