Groep kry erkenning vir vryheidstryd in pandemie

Nick Hudson, voorsitter van die Panda-groep, het Woensdag ‘n prys van die Vryemarkstigting names die groep ontvang. (Foto: ‘n Skermgreep uit die aanlyn aanbieding.)

Die Vryemarkstigting (FMF) het Woensdagaand erkenning aan die Pandemics: Data and Analytics- (Panda-)groep gegee vir sy lede se deurlopende poging om alternatiewe vir die inperkings in die Covid-19-pandemie te vind.

Nick Hudson, voorsitter van Panda, het die prys namens die groep, wat bestaan uit vrywilligers uit verskillende professionele beroepe, aanvaar.

Hudson het gesê die groep beoog steeds om mense toe te rus met akkurate inligting oor openbare gesondheid sodat hulle voortdurend vryheid van keuse kan uitoefen.

Die Panda-groep glo elke nuwe bedreiging tot mense se lewe en hulle lewensonderhoud moet ernstig opgeneem word.

“Die tendens wêreldwyd is tans groter staatsbeheer en die misbruik van burgerlike vryhede. Hoewel geen beleidsreaksie teen iets soos die Covid-19-pandemie ooit perfek kan wees nie, moet die wêreld ligloop vir reaksies wat groter regeringsmag verskans, sakeondernemings vernietig en mense tot honger en armoede dwing.”

Hudson het ook benadruk dat hulle graag in gesprek wil tree oor aspekte van die pandemie, maar dat niemand die uitnodiging tot debat wil aanvaar nie. Hy het dit ook verder betreur dat daar nie meer vrae oor sekere aspekte van die pandemie en beleidsreaksie oor die wêreld heen gevra word nie.

Martin van Staden, lid van die Vryemarkstigting se uitvoerende komitee, het tydens die toekenningsgeleentheid gesê die FMF-prys wil enkelinge en groepe erken wat hulleself toegewyd en doeltreffend vir vryheid beywer, of dit nou intellektueel of prakties van aard is.

“Daar is uitvinders wat die regering minder relevant maak in ons daaglikse lewe, daar is advokate wat weerstand bied teen die inbraak van outokratiese stelsels en daar is intellektuele wat nuwe sake vir vryheid aanhangig maak; maar hulle kry selde erkenning vir die pogings.

“Ons by die stigting hoop om ʼn nuwe tendens te begin om die mense wat vryheid bepleit, te erken. Dit bly die beste oplossing vir die probleme wat die wêreld tans teister,” het Van Staden gesê.

Hudson meen die wêreld stuur daarop af om weer ʼn pynlike les uit die geskiedenis te leer: dat tegnokratiese sentralisering en toesig slegs stagnasie en growwe ongelykhede oplewer.

“Aan die ander kant het ons nou die geleentheid om die jukke van die woke– kritiese teorie, die konsentrasie van mag en ʼn soort veiligheidskultuur (safety culture) af te weer. Dit kan slegs gedoen word deur persoonlike vryheid, spraakvryheid en desentralisering.”

Hudson het bygevoeg ekonomiese vryheid, asook wetenskap en kennis wat oop is om ondersoek te word, is deel daarvan om groter vryheid te laat geld.

Robert Vivian, ondervoorsitter van die Vryemarkstigting se uitvoerende komitee, het gesê die Weste het tot groot mate baie van sy vryhede verloor.

“Dit kan slegs teruggewen word as mense die moed het om teen onregverdighede op te staan. Dit is wat die Panda-groep tot dusver gedoen het.

“Anders as met staatsinmenging, het die Covid-19-maatreëls mense se vryheid om te werk ingeperk. As dit ingeperk word, beteken dit ʼn einde aan die vryemarkstelsel en ekonomie.

“Die Panda-groep was een van die eerste organisasies wat die uitwerking van staatsinmenging op die ekonomie objektief beoordeel het. Dit is ook nie verbasend dat Panda aangeval word vir sy sienings nie, maar groeplede bly onverpoos hulle navorsingswerk doen.”

Kyk hier na ʼn video van Hudson se voorlegging oor die botsing van ideologieë in die pandemie:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Sentrale Staatsbeheer is reeds in SA gevestig en sal midde in hierdie pandemie verder uitgebrei word. Welgedaan vir julle werk, Panda.

Jan ·

Dit is hoog tyd dat die wêreld wakkerskrik vir die realiteite rondom “beheer” van pandemies – PANDA wys lank reeds daarop dat baie meer skade as goed gedoen met maatreëls wat 30 maal skadeliker as die virus is.

Dirk Mostert ·

Ek het in Maart laasjaar reeds deur die “pandemie” gesien. “Enough clues to sink a ship” (Columbo). Die “pandemie” is die meganisme om die Wereldregering (Nuwe Wereld Orde) tot stand te bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.