Groep ruk op na universiteit; bestook wagte met klippe

Argieffoto bloot ter illustrasie van die Universiteit van KwaZulu-Natal se Westville-kampus. (Foto: Facebook)

Veiligheidswagte van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) is met klippe bestook en eiendom is beskadig toe ’n groep mense Vrydag na die Westville-kampus opgeruk het.

’n Groep van 50 betogers het die universiteitshek in Varsityweg bestorm. ’n Konfrontasie het tussen die betogers en die universiteit se sekerheidswagte uitgebreek toe dié die groep probeer verhoed het om die kampus binne te gaan. Die wagte is toe met klippe bestook.

Die sekerheidwagte se waghuis en die voertuig van die sekerheidsmaatskappy wat deur die universiteit aangestel is, is tydens die konfrontasie beskadig.

Die groep is glo ongelukkig met die universiteit se aanlyn registrasieproses aangesien nie alle studente toegang tot internet of rekenaars het nie.

Die situasie is uiteindelik in bedwang gebring met die bystand van die private sekerheidsmaatskappy Risk Management Services. Niemand is tydens die voorval beseer nie.

Normah Zondo, ʼn woordvoerder van die UKZN, sê die universiteit veroordeel enige gewelddadige betoging en die vernietiging van eiendom ten sterkste.

Zondo stel dit ook duidelik dat geen persoon op kampus toegelaat sal word sonder die vereiste universiteittoegangspermit nie.

“Die Universiteit van KwaZulu-Natal doen alles in sy vermoë om wettige studente, personeel en universiteitseiendom te beskerm.”

Volgens Zondo het die voorval geen invloed op die universiteit se registrasieproses gehad nie aangesien dit aanlyn gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Heinrich ·

So as ek wil hê iemand moet my help dan gooi ek hulle met klippe…uhm

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.