Groep spreek kommer uit oor NWU

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

ʼn Groep, waaronder ʼn voormalige lid van die Raad van die Noordwes-Universiteit en ʼn lid van die Senaat van die NWU, het in ʼn brief hul kommer uitgespreek oor gebeure by dié universiteit en veral die Potchefstroom-kampus.

Volgens die groep moet die vraag gevra word of die samesmelting van die drie kampusse van die NWU nie grondig hersien moet word nie, en of dit nie aangewese is om weer te ontbondel nie.

Dr. Douw Breed, voormalige lid van die Raad van die NWU en voorsitter van die Kuratore van die Teologiese Skool van die GKSA (TSP); prof Dries du Plooy, dekaan van die Fakulteit Teologie, lid van die Senaat van die NWU asook van die Uitvoerende Bestuurskomitee van die Senaat van die NWU asook lid van die Raad van die NWU; ds. Paul Modise, predikant van die Gereformeerde Kerk Kagiso; ds. Abel Modise, predikant van die Gereformeerde Kerk Kwa-Thema/Ratanda/Tsakane; en prof. Pieter Potgieter, tans afgetrede professor van die NWU, voormalige hoof van die Departement Politieke Wetenskappe, Studentekaan en hoofdirekteur van die Skool vir Filosofie het die brief saamgestel.

“Die huidige situasie maak ons diep bekommerd, en noop ons om nie net vanaf ʼn afstand te kyk wat gebeur nie, maar om binne ons vermoë en regte op ʼn effektiewe manier te reageer,” het die groep gesê. Die groep verwys na onlangse dokumente en berigte wat in die media verskyn het, naamlik “Uit die rektor se kantoor”, “Spanning by die NWU. Herman van Schalkwyk verbreek stilswye” (Volksblad, 13 Maart 2015); “NWU-senaatsvergadering eindig onverrigter sake” (Volksblad, 13 Maart 2015) en belangrike kommentaar en korreksies daarop deur prof. Fika Janse Van Rensburg (waarnemende viserektor Potchefstroom kampus, NWU). Die groep het ook verwys na berigte oor die NWU in Beeld wat die afgelope week verskyn het.

“Ons as ondergetekendes is en was vir lang periodes intens betrokke by die NWU, op verskillende maniere, maar kyk tans van ‘buite’,” lui die brief. “Ons lees en hoor en neem waar wat in die amptelike vergaderings en raadsale van die universiteit plaasvind. Dit is alom bekend dat die NWU besig is met ʼn strategiese beplanningsproses, veral aan die hand van dokumente daaroor onder leiding van die visekanselier en die institusionele kantoor van die NWU. Soos blyk uit die genoemde dokumentasie het daar spanning oor die aangeleentheid ontstaan. Nie oor die noodsaak van voortdurende aanpassings en of sinvolle transformasie nie, maar oor die metode en werkswyse wat gevolg word, sowel as oor die gedagterigting en doelwitte van die strategiese beplanning.”

Volgens die groep kom die standpunte en optrede van die visekanselier van die NWU, prof. Dan Kgwadi en sy mede-institusionele bestuurslede vreemd voor, om die volgende redes:
* Gemeet aan die wetlike en statutêre regte, bevoegdhede en funksie van ʼn Senaat van die universiteit, lyk dit nie of die huidige proses ten opsigte van die strategiese beplanning daaraan voldoen nie;
* ʼn Duidelike aanduiding dat dit die geval is, blyk uit die genoemde berigte en veral uit kommentaar/korreksies van prof. Fika Janse van Rensburg oor die gebeure by die institusionele senaat van die NWU;
* Dit skemer ook deur dat die visekanselier in sy wyse van bestuur van die universiteit reeds volgens sy ideaal van ʼn suiwer unitêre bestuursmodel opereer, waar die aspek van diversiteit en afsonderlike kampusse as bestuurseenhede binne die eenheid van die NWU geïgnoreer word.
* Die dringendheid en spoed waarmee die visekanselier die universiteit in sy geheel wil omvorm is opvallend. Uiters krities- belangrike aspekte wat ter sake is en moet wees in ʼn besluitnemingsproses oor wat die transformasie presies moet behels, is nie beskikbaar gestel nie; en skynbaar word die senaat ook nie in die geleentheid gestel om sy eie navorsing daaroor te doen nie, op grond waarvan sy advies aan die raad oor die aangeleentheid gegee kan word nie.
* Die indruk word geskep, onder meer as gevolg van uitlatings van die minister van onderwys, en van die visekanselier, dat die beleid van die ANC en die ideale in terme van die NDR (Nasionaal Demokratiese Rewolusie) doelbewus ʼn groot rol speel in die strategiese beplanning, soos blyk uit die dokumente daaroor.

“Ons dringende versoek aan die universiteit is om die strategiese beplanning te doen binne die vereistes en raamwerk van die Grondwet, van die Wet op universiteite, asook die Statuut van die NWU, waarby die karakter en etos van die kampusse (ingesluit die Potchefstroom-kampus) gerespekteer en behou sal word,” het die groep bygevoeg. “Binne hierdie raamwerk wil ons ons regte toeëien ten opsigte van aspekte soos taal, kultuur, gehalte, terwyl ons ook aktief daaraan meewerk om presies dieselfde te doen ten opsigte van elkeen in die land met ʼn verskeidenheid van tale en kulture. Dit gaan om die handhawing van die diversiteit waarvoor die Grondwet voorsiening maak, en nie om die uitwissing of ignorering daarvan nie.

“Ons weet dat indien die NWU, en veral die Potchefstroom-kampus die steun van ons as ondersteuningsgemeenskap sou moet verloor, dit fatale gevolge inhou vir die bestaan en prestasie van die NWU. Hierdie ondersteuningsgemeenskap bestaan uit heelwat komponente en is verspreid oor alle sfere van die samelewing.”

ʼn Bestuursmodel wat beoog word, sluit ook die moontlikheid in dat sogenaamde kleiner fakulteite, soos teologie (en regte) bestuursmatig inskakel by ander sogenaamde groter fakulteite. “Die vernietigende effek hiervan spreek vanself,” het hulle gesê.

Die groep versoek dat die ondersteuningsgemeenskap van die NWU, veral van die Potchefstroom-kampus, aktief en effektief betrokke sal raak by die gebeure by die NWU en om aktief menings in die openbaar hieroor te lug.

“Ons is mense wat respek het vir owerhede, ook vir die bestuur van instellings soos universiteite, maar gedienstigheid aan die wil van politieke partye of van individue wat indruis teen ons oortuigings en Grondwetlike regte, kan van niemand verwag word nie. Indien die institusionele bestuur sou voortgaan met die huidige beplanning, sou die vraag gevra kon word, of die samesmelting van die drie kampusse (inrigtings) nie grondig hersien moet word nie, en of dit nie aangewese is om weer te ontbondel nie.”

Lees alle vorige berigte oor die Pukke op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AlwynBeetge ·

Die gemors is nou n direkte uitvloeisel van dom besluite deur slim mense(?intelligentsia) Ek stem saam met bg skrywers. Die tyd om nee te se is nou. Die stroom landverlaters word ongelukkig al groter soos mense moed verloor.

Bruno Stef ·

Dit is alles die werk en aanhitsery van ou Blade die kommunis en glo dit as jy wil n spul blanke lakeie wat agter die skerms werk.Ontbondel die hele spul en probeer dat
Solidariteit se Nuutgestigte universiteit die leisels oorneem en dit privatiseer vir ons nageslag.

Gideon Roos ·

Dit is kommerwekkend om te sien hoe soveel mense in die universiteit hierteen staan, studente (myself ingesluit), profesore, direkteure, die gemeenskap, maar die kommisie vir hierdie hervorming – onder leiding van prof. Dan Kgwadi steeds voortjaag. Dit vorseer mens om die vraag te vra: dink hy enigsins aan die wat die meeste deur die veranderings geaffekteer word?
En is sy doelwit werklik ‘n verenigde instituut of het hy ‘n persoonlike agenda?

Gideon Roos ·

Dit is kommerwekkend om te sien hoe soveel mense in die universiteit hierteen staan, studente (myself ingesluit), profesore, direkteure, die gemeenskap, maar die kommisie vir hierdie hervorming – onder leiding van prof. Dan Kgwadi steeds voortjaag. Dit vorseer mens om die vraag te vra: dink hy enigsins aan die wat die meeste deur die veranderings geaffekteer word?
En is sy doelwit werklik ‘n verenigde instituut of het hy ‘n persoonlike agenda?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.